Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
7 myngroepe wil graag hul eie krag voorsien
Minstens sewe mynbougroepe het aangebied om hul eie elektrisiteit op te wek.

Altesaam sewe mynboumaatskappye het hand opgesteek om hul eie krag op te wek in ’n poging om die onbestendigheid wat Eskom se beurtkrag meebring, te systap.

Roger Baxter, uitvoerende hoof van die Mineraleraad, sê die raad werk nou saam met Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa) om die saak te bevorder van mynboumaatskappye wat hul eie elektrisiteit wil voorsien.

Die sewe mynboumaatskappye, Sibanye-Stillwater, Anglo American Platinum, South Deep, Exxaro, Orion, Vedanta en Harmony, het die Mineraleraad verwittig van hul voorneme om krag op te wek. Die meeste daarvan sal deur middel van sonkrag wees.

South Deep beoog om ’n kombinasie van sonkrag en diesel te gebruik vir opwekking.

Tesame sal die maatskappye, indien die nodige goedkeuring ontvang word, ’n raps meer as 600 MW elektrisiteit kan opwek.

Die Mineraleraad het in Desember 2019 ’n pleidooi aan die regering gerig om art. 2 van die Wet op Elektrisiteitsopwekking te verander.

Dit sal private maatskappye in staat stel om hul eie krag op te werk sonder lisensies, ongeag die grootte van hul aanlegte.

Maatskappye is tans beperk tot 1 MW-kragopwekking sonder lisensies.

Die raad voer aan dat die krag wat mynboumaatskappye opwek, onafhanklik van Eskom is en daarom nie onderhewig behoort te wees aan lisensieaansoeke nie.

Baxter het aan die vooraand van die 26ste Mynbou-indaba, wat van môre tot Donderdag in Kaapstad gehou word, aan Rapport gesê toekomstige beleggings in Suid-Afrika se mynboubedryf word steeds belemmer deur onsekerheid oor wetgewing en regulasies – soos die Mynbouhandves, koolstofbelasting wat in Junie 2019 in werking gestel is, asook met die toekenning van mynboulisensies.

“Daar is ook probleme met infrastruktuur waarvan die betroubaarheid van kragvoorsiening en die prys van elektrisiteit die vernaamste is,” sê Baxter.

Die mynbedryf is boonop bekommerd oor misdaad, soos die vlaag van gewapende rooftogte by aanlegte wat goud verwerk.

Vanjaar se Mynbou-indaba sal na verwagting deur nagenoeg 6 000 afgevaardigdes, onder wie beleggers, uitvoerende hoofde van maatskappye en staatsamptenare, bygewoon word.

Baxter het verlede jaar aan parlementslede van die portefeuljekomitee oor mynbou en energie gesê sowat 200 000 mynbouposte kan teen 2030 verlore wees as daar nie oorgeskakel word na nuwegenerasie-praktyke nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.