Sibanye-Stillwater het pas ’n enorme belegging in ’n Finse litium-mynmaatskappy aangekondig soos wat hy die toekoms van battery-aangedrewe motors en die gevolglike vraag na litium onder die loep neem.

’n Vragmotor vervoer ’n vrag van rou litiumkarbonaat by ’n litiummyn in Chili. Foto: Getty Images
Sibanye begin dus nou sy reis met batterymetale deur sy verkryging van 30% van Keliber, ’n groot litium-mynmaatskappy in Finland, teen €30 miljoen (sowat R536 miljoen).
Sibanye het ook ’n tweede aanbod gemaak van €10 miljoen (R178,5 miljoen) aan bestaande aandeelhouers om ’n verdere 10% in die onderneming te bekom.
Sibanye sê Dinsdag in ’n Sens-verklaring hy sal ’n meerderheidsaandeelhouer wil word indien dit moontlik is.
Keliber se gevorderde litiumprojek, die Keliber-projek, is geleë in die Kaustinen-streek van Finland, een van die belangrikste litiumdraende gebiede in Europa.
Finland is ’n aantreklike myngebied met lae risiko, volgens Sibanye, en het ’n nasionale batterystrategie ontwikkel wat die doelwitte vir die land om ’n mededingende, bekwame en volhoubare speler in die internasionale batterybedryf te word uiteensit.
Europa word vinnig ’n toonaangewende middelpunt vir die vervaardiging van batterye vir elektriese voertuie, en Keliber se ligging in Finland maak die doeltreffende vervoer van litium-hidroksied na Europese kliënte moontlik.
Die Keliber-projek bestaan uit verskeie litium-afsettings wat in die omtrek van die projek geleë is en in ’n gevorderde stadium van eksplorasie is.
Op grond van ’n lewensvatbaarheidstudie wat in 2019 voltooi is en in 2020 verbeter is, het Keliber tans 9,3 miljoen ton ertsreserwes, voldoende vir meer as 13 jaar se bedryf.
Die beplande jaarlikse produksie is 15 000 ton litium-hidroksied op batterygraad.
Produksie sal na verwagting in 2024 begin.
Die projek behels ook die ontwikkeling van ’n chemiese aanleg in Kokkola, ongeveer 50 km van die myngebied, wat litium-hidroksied van batterygehalte sal produseer.
Sibanye is in die proses om nog ’n lewensvatbaarheidstudie te doen in samewerking met die ander aandeelhouers, wat die omvang van die projek beduidend kan uitbrei.
Dit kan nog ’n belegging van R340 miljoen verg teen die tweede helfte van Sibanye se 2022-boekjaar. Hy sal deur ’n mengsel van skuld en ekwiteit die nodige geld insamel.
“In ooreenstemming met ons strategiese doelwit om die batterymetaalbedryf te betree, word litium as een van die kernmetale beskou om voordeel uit die beduidende groeivoorspelling vir die sektor vir elektriese voertuie te trek,” sê Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye-Stillwater.
“Ons belegging in Keliber verteenwoordig ’n strategiese vennootskap van aanvullende vaardighede en vermoëns, en ’n gedeelde visie om ’n voorkeurverskaffer te wees van batterygehalte-materiale wat op die mark beskikbaar is.
“Die belegging bied die geleentheid vir verdere geografiese diversifisering in ’n aantreklike mynbestemming en die geleentheid om langtermynverhoudinge te smee met gevestigde rolspelers in die litiumbedryf wat ’n gedeelde visie het om in die voorsieningsketting van elektriese voertuie te lewer.”