Sibanye-Stillwater se aanleg by die Marikana-myn gaan hand gee om platinum namens Anglo Platinum (Amplats) te verwerk.
Dié aankondiging Dinsdag kom nadat Amplats vroeër in Maart aangekondig het dat alle produksie in sy Waterval-smelter naby Rustenburg vir sowat 80 dae gestaak word.

Sibanye-Stillwater se Kroondal-platinummyn.Foto: Sibanye-Stillwater
Dis nadat ’n ontploffing op 10 Februarie skade aan fase A van die aanleg aangerig het.
Fase B is toe in bedryf gestel om die produksie te behartig. Water wat egter by dié fase se hoogoond begin instroom het, het Amplats genoop om die hele aanleg af te skakel.
Sibanye-Stillwater en Amplats het ooreengekom dat alle materiaal afkomstig van sy Rustenburg- en Platinummyl-bedrywighede, asook sowat die helfte van die materiaal afkomstig van die Kroondal-myn in Marikana verwerk sal word.
Die ooreenkoms behels onder meer dat Marikana die materiaal by Amplats sal koop, dit verwerk en dan weer verkoop.
Dit sal gedoen word volgens die huidige ooreenkomste wat reeds gesluit is.
Sibanye-Stillwater sê dié stap sal geen invloed hê op die hoeveelheid materiaal wat van sy eie bedrywighede af kom nie.
Die ooreenkoms bly geldig totdat Amplats weer die Waterval-smelter in bedryf gestel het.
Amplats se aandeelprys op die JSE het kort ná die aankondiging met bykans 4% tot R687,11 gestyg. Sibanye-Stillwater het egter meer as 2% laer teen R20,79 verhandel.