Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Silikose, TB: Wat eisers moet weet

Mynwerkers wat longsiektes soos silikose of tuberkulose in Suid-Afrikaanse goudmyne opgedoen het, of hul naasbestaandes, kan nou amptelik begin om skadevergoeding te eis.

Dit kom nadat die hooggeregshof in Johannesburg Vrydag ’n geskiedkundige skikkingsooreenkoms van R5 miljard aan die slagoffers goedgekeur het.

’n Mynwerker in een van Suid-Afrika se goudmyne.Foto: Bloomberg

Regter Leoni Windell het bevind dat alle partye hul bes gedoen het om te verseker dat die skikking “billik, voldoende en regverdig” is.

Die betrokke partye in die skikking het Maandag op ’n mediakonferensie in Parktown die proses uiteengesit oor hoe die mynwerkers of hul afhanklikes te werk moet gaan om vergoeding te eis.

Hier is tien aspekte wat voornemende eisers in ag moet neem:

1. Wie kan eis?

Nie alle werkers wat in al Suid-Afrika se goudmyne gewerk het, sal vergoeding kan eis nie.

Die hof het beslis werkers wat ná 12 Maart 1965 in 54 van die land se goudmyne gewerk het en silikose of tuberkulose opgedoen het, kan vergoeding eis. Indien hulle weens die siektes gesterf het, kan hul naasbestaandes eis.

Die lys van myne is by www.silicosissettlement.co.za  beskikbaar, en die ooreenkoms is slegs van toepassing op dié 54 goudmyne.

2. Hoeveel kan geëis word?

’n Bedrag van tussen R10 000 tot R250 000 kan geëis word. Die bedrag hang af of die werker of hul naasbestaandes eis. In uitsonderlike gevalle kan ’n eis van soveel as R500 000 goedgekeur word.

3. Wat is die kategorieë wat van toepassing is?

  • Mynwerkers wat silikose opgedoen het of aan silikastof blootgestel was;
  • die afhanklikes van mynwerkers wat weens silikose gesterf het;
  • mense wat tuberkulose opgedoen het; en
  • die afhanklikes van mynwerkers wat weens tuberkulose gesterf het.

4. Hoe gaan die geld bestuur word?

Die Tshiamiso-fonds gaan spesifiek geskep word om die geld te bestuur.

May Hermanus, voorheen hoofinspekteur van die departement van minerale bronne, sal as trustee aangestel word.

Die fonds sal R845 miljoen ontvang om werkers en familielede te identifiseer wat kwalifiseer om ’n eis in te stel.

Die fonds sal 12 jaar in bedryf wees, waarna ’n verdere jaar bestee sal word om alle eise af te handel.

Luidens die Regshulpbronsentrum sal ’n raadgewende komitee aangestel word om toesig oor die uitbetaling van eise te hou.

Verteenwoordigers van die staat, vakbonde, gemeenskapsleiers, nie-winsgewende organisasies en ander sal in dié komitee dien.

5. Wanneer begin die fonds eise betaal?

Graham Briggs, voorsitter van die beroepsgroep vir longsiektes, sê dit sal waarskynlik sowat vier maande neem om die fonds te skep.

Geen betalings sal gedoen word voordat die fonds nie geskep is nie.

Carina du Toit, wat die regsverteenwoordigers van die eisers verteenwoordig, sê sy verwag nie dat betalings vóór die tweede kwartaal van 2020 gedoen gaan word nie.

6. Is R5 miljard genoeg?

Michael Murray, verteenwoordiger van die beroepsgroep vir longsiektes, sê hoewel die ses mynmaatskappye geskik het om altesame R5 miljard betaal, beteken dit nie hulle gaan ophou betaal as die eise R5 miljard oorskry nie.

“Die mynmaatskappye bly verantwoordelik om eise te betaal, selfs al oorskry dit dié bedrag,” sê hy.

Murray sê al die belanghebbendes glo egter dat die R5 miljard voldoende sal wees.

7. Wat moet nou gedoen word?

Werkers en/of hul gesinne wat eise wil indien, kan hul besonderhede registreer op die webtuiste wat vir dié doel geskep is. Dit is www.silicosissettlement.co.za. Hulle kan ook die inbelsentrum by 080 1000 240 skakel of ’n “bel my”-boodskap na 072 557 8077 stuur.

8. Is daar kostes verbonde?

Dit kos niks om te registreer nie. Eisers betaal ook nie vir enige mediese ondersoeke om vas te stel of ’n eis geldig is nie.

Charmane Russell, woordvoerder vir al die belanghebbendes, sê dit is belangrik dat die eisers onder geen omstandighede enige geld betaal gedurende die eisproses nie.

“Ons wil eisers waarsku om nie die teikens te word van swendelaars wat hulle wil uitbuit nie,” sê sy.

9. Wie gaan die eise betaal?

African Rainbow Minerals‚ Anglo American,

AngloGold Ashanti‚ Gold Fields‚ Harmony en Sibanye-Stillwater is die ses maatskappye wat die eise gaan betaal. Hulle verteenwoordig verskeie ander maatskappye wat voorheen of steeds in die goudmynsektor in die land bedrywig is.

10. Wie betaal nié?

DRDGold, East Rand Proprietary Mines (ERPM), Randgold & Exploration en Pan African Resources gaan nie eise betaal nie. Dié maatskappye is nie deel van die ooreenkoms nie.

Charles Abrahams, nog ’n verteenwoordiger van die eisers se regspan, sê dit sal verwelkom word as dié vier maatskappye wel by die ooreenkoms inskakel.

“Ons is steeds in gesprek met hulle. Ons sal nie huiwer om voort te gaan met die regsproses indien hulle nie bereid is om deel van die ooreenkoms te word nie,” sê hy.

Meer oor:  Mynbou  |  Goudmyne  |  Goudmaatskappye  |  Goud  |  Tb  |  Silikose
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.