Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Skuldeisers wag steeds vir geld van Gupta-myne
ShutterstockGallo/Getty Images

Maatskappye in Middelburg in Mpumalanga wat miljoene rande geskuld word deur die Guptas se Optimum- en Koornfontein-steenkoolmyn, wag steeds vir hul geld.

Daar is ook geen aanduiding oor óf hulle hul geld gaan kry en indien wel, wanneer nie.

“In hoe ’n mate en wanneer die skuld betaal kan word, hang alles af van of die myne verkoop word en watter aanbod gemaak word,” sê Louis Klopper, die sakeredder van dié myne, sowel as van die myne se moedermaatskappy, Tegeta Exploration and Resources, en vyf ander Gupta-maatskappye.

Klopper sê die sakereddingsplan wat deur die hof vir die myne goedgekeur is, stel dit duidelik dat geen skuld wat aangegaan is voordat met die sakeredding begin is, betaal kan word voordat daar nie finaliteit oor die verkoop van die bates is nie.

Sou die skuld wel betaal word, sal alle skuldeisers, soos wat die wet vereis, op gelyke voet gehanteer word en reëlings getref word.

“Ons het begrip daarvoor dat die maatskappye uiters gefrustreerd is omdat hulle nie betaal word nie, maar gegewe die hofuitspraak en die ooreenkoms met krediteure het ons geen ander keuse as om te wag tot nadat die myne verkoop is voordat ons ’n plan kan voorlê nie,” sê Klopper.

Verkoopsproses

Die sakeredders het reeds met die proses begin om die myne te verkoop, maar het nog geen duidelikheid oor presies wat dit gaan behels nie.

Bouwer van Niekerk, die sakeredders se prokureur, het voorheen bevestig Sipho Nkosi, voormalige uitvoerende hoof van Exxaro, en Bernard Swanepoel, voormalige uitvoerende hoof van Harmony Gold, se Phakamisa-konsortium is een van die maatskappye wat bankwaarborge ingedien het as deel van die voorwaarde om belangstelling as koper te toon.

Die Britse maatskappy Vitol, wat tans ’n kontrak het om 200 000 ton steenkool per maand van Optimum en Koornfontein via Richardsbaai uit te voer, is die tweede, terwyl Project Halo, nóg ’n Suid-Afrikaanse vennootskap, die derde een is.

Al drie moes bankwaarborge van R250 miljoen gee.

Ons hoop om teen einde November vaste aanbiedinge op die tafel te hê, waarna ’n besluit oor ’n koper gemaak kan word.
Louis Klopper

Klopper sê al drie die maatskappye is tans besig met noulettendheidsondersoeke.

“Ons hoop om teen einde November vaste aanbiedinge op die tafel te hê, waarna ’n besluit oor ’n koper gemaak kan word,” sê Klopper.

Die sakeredders kon voortgaan met die proses om die myne te verkoop nadat die hooggeregshof in Pretoria die Switserse maatskappy Charles King se dringende aansoek om dié proses te keer, in September van die rol geskrap het.

Charles King het voorheen ’n koopkontrak met die Guptas vir die myne gesluit. Die sakeredders het die kontrak in April gekanselleer nadat Charles King nie aan die voorwaardes van die kontrak voldoen het nie.

Klopper het bevestig dat ’n amptelike arbitrasieproses in November sal plaasvind waartydens Charles King sy griewe kan lug.

“Ons hou egter by ’n baie spesifieke regspunt; dat ons al die bewyse het dat die maatskappy nié aan die voorwaardes voldoen het nie,” het Van Niekerk voorheen gesê.

“Ons verwag nie dat die arbitrasieproses langer as ’n dag gaan duur nie,” sê hy.

Ander maatskappye

Klopper sê wat betref ander Gupta-maatskappye wat tans in sakeredding is, word daar vordering gemaak om hulle te ontbind.

“Wat betref die eiendomsmaatskappye is ons besig om bates te verkoop,” sê hy.

Buiten vir die myne hanteer Klopper en sy vennoot Robert Knoop ook die sakeredding van Islandsite Investments One Hundred and Eighty, Confident Concepts en VR Laser Services.

“Die ou hoofkantoor van Sahara Computers, wat onder Islandsite geval het, is reeds verkoop,” het hy bevestig. Hy het geen besonderhede gegee nie, maar sê net dit is ’n “private belegger”.

Wat betref VR Laser sê Klopper die verkoop van bates gaan voort.

Dit volg nadat die hooggeregshof in Johannesburg in September beslis het die veiling van ingenieursbates en masjinerie kan voortgaan.

“Daar is ’n paar kwessies wat uitgesorteer moet word rakende die intellektuele eiendom en vertroulike besonderhede oor van die projekte waaraan VR Laser gewerk het, maar ons vorder goed met die proses,” sê Klopper.

VR Laser het veral werk vir die wapenvervaardiger Denel gedoen.

Shiva Uranium was ook voorheen die verantwoordelikheid van Klopper en Knoop.

Hulle het egter in Junie handdoek ingegooi en weens die gespanne verhouding tussen hulle en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) het hulle as sakeredders bedank.

Die NOK is Shiva se grootste skuldeiser.

Meer oor:  Louis Klopper  |  Guptas  |  Mynbou  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.