Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Só kan Zuma se seun en Guptas ryk word met Optimum
Masjinerie verskuif steenkool by ’n steenkoolmyn. Naas die bankskuld het Optimum aansienlike verpligtinge. Die belangrikste daarvan is om vir die volgende drie jaar 4 miljoen ton steenkool per jaar aan Eskom se Hendrina-kragstasie te lewer teen R150/ton. Foto ter illustrasie: Doug Kanter, Bloomberg

Die transaksie wat net geen sin maak nie – die verkoop van die Optimum-steenkoolmyn aan die vertrekkende Guptas en aan Duduzane Zuma – is toe Donderdag deurgevoer.

Teen Donderdag het Tegeta Exploration and Resources die R2,15 miljard betaal wat verskuldig was om die myn aan hulle oor te dra. Terselfdertyd het Glencore R450 miljoen aan die sakeredders, Piers Marsden en Peter van den Steen, betaal. Met die twee bedrae is die bankskuld van Optimum, amptelik bekend as Optimum Holdings, betaal en word Tegeta die eienaar van Optimum Holdings.

Dit wys dat die Guptas nie van plan is om uit Suid-Afrika te disinvesteer ná die skielike uitwyk van die familie se ringkoppe op ’n nagtelike, private vlug verlede Donderdagaand na Dubai nie.

Naas die bankskuld het Optimum aansienlike verpligtinge. Die belangrikste daarvan is om vir die volgende drie jaar 4 miljoen ton steenkool per jaar aan Eskom se Hendrina-kragstasie te lewer teen R150/ton. Maar Glencore, die vorige eienaar, het vroeër uitdruklik gekla dat die produksiekoste by die myn sowat R450/ton beloop.

’n Verlies van R1,4 miljard per jaar oor die volgende drie jaar, dus.

Duduzana Zuma, pres. Jacob Zuma se flambojante seun, het die grootste aandeelhouer in Tegeta geword twee weke voordat die verkooptransaksie in Desember verlede jaar onderteken is. Dit het implikasies. Dit beteken byvoorbeeld dat Tegeta daarmee ’n maatskappy onder swart beheer geword het.

Eskom betaal ’n premie van 50% op sy aankope aan swart- ekonomiese bemagtigingsmaatskappye . . .

Tot dusver het Brian Molefe, uitvoerende hoof van Eskom, volgehou dat hy Optimum gaan hou by sy verpligting om die steenkool teen R150/ton te lewer. Dis ook wat hy met Glencore gedoen het toe Glencore Eskom genader het om die kontrak te wysig sodat Optimum ’n hoër prys kry vir die steenkool wat hy aan Hendrina lewer.

Jan De Lange

En toe Molefe boonop ’n rekening van R2 miljard aan Glencore stuur omdat die kole uit Optimum glo nie voldoen het aan die standaard wat in die kontrak uitgestippel word nie, het Glencore die myn in sakeredding geplaas. Tot Donderdag het almal gewonder waar die Guptas en Duduzane Zuma die R2,15 miljard gaan kry om die myn te koop. Selfs in Glencore was daar teen Woensdagmiddag nog ernstige twyfel of Tegeta dit gaan regkry om die geld op die tafel te sit.

Hulle sal eers aanstaande week toegang hê tot die myn se kontantvloei en bates soos die rehabilitasiefonds. Konsultante wat ’n jaar of twee gelede ’n omsigtigheidsondersoek by Optimum gedoen het, sê die rehabilitasiefonds, wat ’n myn volgens wet in stand moet hou, het sowat R18 miljard beloop.

Die Guptas kan die rehabilitasiefonds gebruik om vir die myn te betaal, maar eers nadat hulle die kontantgedeelte van R2,15 miljard betaal het. Tot dan sou hulle iemand, waarskynlik ’n buitelandse bank, moes oorreed om die R2,15 miljard voor te skiet.

Hulle het dit op een of ander manier reggekry en is op hierdie oomblik besig om formeel beheer van die myn oor te neem. Die groot vraag is nou hoe Duduzane Zuma en die Guptas dit gaan regkry om Optimum winsgewend te bedryf. Duduzane se betrokkenheid maak dit vir Eskom moontlik om die prys wat hy vir Optimum-steenkool betaal, te verhoog van R150/ton tot minstens R225/ton om swart- ekonomiese bemagtiging te bevorder. Dit sal die verlies kleiner maak, maar steeds niks bydra om die aanvangskuld te delg nie.

Die groot vraag is nou hoe Duduzane Zuma en die Guptas dit gaan regkry om Optimum winsgewend te bedryf.

Optimum het egter ’n produksievermoë van 14 miljoen ton steenkool per jaar. ’n Sleutelbate van die reusagtige myn is die reg om 6,5 miljoen ton steenkool deur Richardsbaai uit te voer.

Dis waarskynlik die hoofrede waarom die Guptas en Duduzane die myn gekoop het, want steenkooluitvoerpryse beloop nou sowat $53/ton – rondom R750/ton, afhangende van die heersende wisselkoers. Die prys geld vir kole per spoor in Richardsbaai afgelewer.

En onthou dis steenkoolpryse aan die onderpunt van die hulpbronsiklus. As Duduzane Zuma en die Guptas op dié manier aan die gang bly vir twee tot drie jaar met die Optimum-myn en die naburige Koornfontein-myn (wat ook deel is van die verkryging in Optimum Holdings) kan hulle teen die daardie tyd die aanvangskapitaal van R2,15 miljard afbetaal het.

As Eskom net ’n bietjie redeliker raak met die boete van R2 miljard wat hy van Optimum wou invorder omdat die myn se kole kwansuis nie van die regte gehalte was nie, kan Duduzane teen daardie tyd skatryk wees.

Meer oor:  Optimum  |  Glencore  |  Tegeta  |  Oakbay Investments  |  Eskom  |  Guptas  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.