Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Solidariteit: Raad moet skik oor handves

Die Mineraleraad van Suid-Afrika en die departement van minerale bronne en energie moet skik oor hul geskille oor die Mynbouhandves.

Die Mineraleraad van Suid-Afrika is steeds ongelukkig met sekere vereistes van die Mynbouhandves. Foto: Reuters

’n Uitgerekte hofaansoek, sal net meer onsekerheid bring, en die sektor benadeel.

Dit is die beroep wat die vakbond Solidariteit op die raad en die departement doen.

Die Mineraleraad het die hof al in Maart 2019 genader waar hy ’n aansoek vir ’n geregtelike hersiening van die handves ingedien het.

Die raad voer aan die handves erken nie ten volle die voortgesette gevolge van vorige bemagtigingstransaksies nie, veral nie wat betref die hernuwing van mynregte en die oordrag van dié regte nie.

Wat bemagtiging betref, erken die handves dat bestaande lisensies wat tans of voorheen aan die vorige vereiste van ’n 26%-belang voldoen het vir die duur van die lisensie nie enige aanpassings hoef te maak nie.

Sou die mynlisensie verval of sou die mynreg verkoop word, is dié vergunning egter nie oordraagbaar nie.

Die nuwe lisensiehouer of nuwe eienaar moet dan aan die 30%-vereiste voldoen.

Hoewel die hooggeregshof op 7 Julie geen uitspraak oor dié aansoek gelewer het nie, het hy wel die bevel gemaak dat vakbonde en myngemeenskappe as partye tot die hofgeding gevoeg moet word.

Hoewel Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, die uitspraak verwelkom het, is die Mineraleraad glad nie ingenome daarmee nie.

Die raad sê hy glo nie dat die groepe ’n reg het om by die aansoek ingesluit te word nie. Hy sê hy erken egter hul rol in die aangeleentheid, en het hulle dus op 27 Januarie uitgenooi om as “vriende van die hof” by die aansoek ingesluit te word.

’n Hofuitspraak sal ’n wen-verloor-situasie tot gevolg hê, wat verreikende gevolge vir die verloorder sal inhou, terwyl verhoudinge tussen alle rolspelers in die sektor verder geskaad sal word
Gideon du Plessis, Solidariteit

Die raad sê hoewel geen partye toe na vore getree het nie, het die hof steeds sy uitspraak gelewer.

Die raad sê hy sal gehoor gee aan die hofbevel, maar waarsku dit gaan nou die hele aansoek vertraag.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sê dit sal beter wees as die raad en die departement eerder weer na die onderhandelingstafel terugkeer, en ’n skikking bereik wat vir albei aanvaarbaar is.

“ ’n Hofuitspraak sal ’n wen-verloor-situasie tot gevolg hê, wat verreikende gevolge vir die verloorder sal inhou, terwyl verhoudinge tussen alle rolspelers in die sektor verder geskaad sal word,” waarsku hy.

Volgens Solidariteit sal die onsekerheid van ’n uitgerekte regstryd wat by die konstitusionele hof kan draai, meer negatiewe gevolge vir mynboubeleggings inhou as ’n skikking wat historiese bemagtigingstransaksies erken, terwyl verhoogde bemagtiging, soos in die hersiene handves vervat, steeds sal plaasvind wat veral mynwerkers en myngemeenskappe bevoordeel.

Die vakbond meen as die raad in sy aansoek suksesvol is, beteken dit mynwerkers en myngemeenskappe sal hul toewysing van 5%-eienaarskap (in die vorm van ’n draende belang) verloor.

“Die gevolg sal wees dat die regsdispuut vervang sal word met spanning en onrus op mynvlak,” sê Du Plessis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.