Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Staat maak sterk aanspraak op Guptas se Optimum

Die staat se mynmaatskappy African Exploration Mining and Finance Corporation (AEMFC) en sy vennoot, die Lurco-groep, is besig om hulself goed te posisioneer om die Optimum-steenkoolmyn te koop.

Die ingang na die Optimum-steenkoolmyn.Foto: Argief

Dié myn behoort aan die Guptas se Tegeta Exploration and Resources.

Dit is sedert Februarie verlede jaar in sakeredding en lewer sedert Desember geen steenkool aan Eskom of die Britse maatskappy Vitol, waarmee hy ’n verskaffingskontrak het nie.

Wanneer Optimum steenkool aan Eskom lewer, is dit vir sy Hendrina-kragstasie in Mpumalanga.

“AEMFC en Lurco se besluit om ’n finansieringsooreenkoms van R1 miljard met Optimum te sluit, is soos manna uit die hemel vir die myn se krediteure en werknemers,” het Bouwer van Niekerk, prokureur vir die sakeredders, in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê.

Van Niekerk het herhaal dat dié finansiering nié ’n koopkontrak is nie.

“Daar is nog geen sprake van enige koopkontrak nie. Ons moes egter dringend ’n plan maak om die myn weer in bedryf te kry. Dit is hoekom ons die kontrak gesluit het,” sê hy.

“Om die waarheid te sê, ons hoop om alle besonderhede van die transaksie vroeg volgende week te finaliseer, waarna die geld beskikbaar sal wees en ons die myn weer aan die gang kan kry,” het hy Vrydag gesê.

Business Day berig dat AEMFC, wat ’n filiaal van die Sentrale Energiefonds is, R500 miljoen sal waarborg terwyl Lurco vir die balans verantwoordelik is. Die Sycamore Corporation, ’n Britse finansierder, verskaf die lening.

Van Niekerk wys daarop dat ondanks mediaberigte waarin vrae gevra word oor of AEMFC die korrekte prosedures gevolg het om die “belegging” te maak, daar onthou moet word dit is finansiering en dat AEMFC nie ’n belang met dié transaksie in Optimum bekom nie.

“Ja, AEMFC kry vanweë hierdie transaksie nou die eerste reg op weiering sou Optimum se krediteure wel instem dat die myn verkoop moet word, maar dit is steeds nie ’n koopkontrak nie.

“Dit beteken dat hulle Project Halo, die bestaande gekose koper van die Optimum-bates, se aanbod kan ewenaar of daarop kan verbeter.

“Dit beteken egter nie die krediteure gaan outomaties AEMFC se aanbod aanvaar nie,” sê Van Niekerk.

“Om die waarheid te sê, die krediteure kan besluit ons moet met die hele verkoopsproses van voor af begin, afhangende van die uitkoms van hul stemmery.

“Alles hang dus af van die besluit deur die krediteure.”

Signs for Optimum Pullenshope opencast and undergr
Die ingang na die Optimum Pullenshope myn. Foto: Getty Images

Stand van sake

Project Halo, wat deur die Australiese bank Macquarie gerugsteun word, het aan die einde van 2018 ’n aanbod van R3,6 miljard vir die Optimum-bates ingedien.

Hy is toe deur die sakeredders as gekose koper aan Optimum se krediteure voorgelê.

Die AEMFC-konsortium het eers in Januarie aangekondig dat hy ook daarin belang stel om die myn te koop.

Die sakeredders het toe gesê dit is te laat en dat die bod reeds aan Project Halo toegestaan is, hoewel dit onderhewig is aan goedkeuring deur die krediteure.

Dit is juis dié goedkeuring wat nou sloer weens ’n geskil tussen die twee grootste krediteure, Eskom en Centaur Ventures.

“Die probleem is dat Centaur ’n geskil met Eskom verklaar het oor nie net wié die grootste krediteur is nie, maar ook oor wat die gewig van hul stemreg moet wees rakende die planne vir die myne,” verduidelik Van Niekerk.

Eskom word tans as die grootste krediteur beskou.

“Tot tyd en wyl hierdie geskil nie opgelos is nie, kan geen plan aan die krediteure voorgelê word oor aan wie die myn verkoop moet word nie,” sê Van Niekerk.

“Omdat ons van baie groot bedrae praat en dit ingewikkelde litigasie is, is dit moeilik om te voorspel wanneer ons enige besluit gaan kry oor wat die krediteure wil hê.

“Dat die AEMFC-konsortium se besluit om aktief by die myn betrokke te raak in sy guns behoort te tel wanneer daar op ’n koper besluit word, is ongetwyfeld.

“Hulle betaal definitief nie R1 miljard uit die goedheid van hul hart nie. Daarsonder sal baie van die krediteure waarskynlik ondergaan. Werknemers sal betaal kan word.

“Dit móét ’n positiewe indruk by al die betrokke partye wek.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.