Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Steenkool: Gwede moet oppas vir samespanning

Eskom se verskaffers van steenkool en hernubare krag moet fyntrap om te keer dat hulle, soos die boubedryf ná 2010, deur die Mededingingskommissie voor stok gekry word.

ss
Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het verlede week met steenkoolverskaffers en verskaffers van groenkrag aan Eskom vergader oor hul pryse.

Só sê Ahmore Burger-Smidt, direkteur vir mededingingsreg by Werksmans-prokureurs.

Burger-Smidt het gereageer op vergaderings wat Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, verlede week gehou het met onderskeidelik steenkoolverskaffers en verskaffers van groenkrag aan Eskom.

Op dié geslote vergaderings het hulle glo die sektore se samewerking gevra om die koste van elektrisiteit te verlaag, omdat dit die ekonomie doodsmoor.

Rapport verneem dat die Mineraleraad, wat die mynboubedryf verteenwoordig, Mantashe voor die vergadering gewaarsku het dat gesprekke oor prysverlagings kan lei tot beskuldigings van samespanning, wat ’n oortreding is van die Mededingingswet.

Hy het nietemin voortgegaan en dit is ook bygewoon deur Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, onder wie se gesag die Mededingingskommissie val.

Die Mineraleraad het ná die vergadering gesê die doel van die samekoms is om iets te doen aan die verskaffing van steenkool aan Eskom, en veral knelpunte in die proses. “Die koste van steenkool is deel daarvan, veral om ondoeltreffendhede uit te skakel. Ons hou mededingingsreëls in gedagte.”

Burger-Smidt sê die situasie herinner baie aan dié van die konstruksiebedryf voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010. Toe het die betrokke minister ook die konstruksiebase op ’n vergadering gevra om hulle te verbind tot die suksesvolle voltooiing van die stadions voor die eerste afskop.

Sy sê dit is nie verkeerd vir ’n bedryf om te verenig om ’n gemeenskaplike doelwit in landsbelang nie.

Die situasie is tans dwingender. Energie is sentraal in die sukkelende ekonomie. Eskom is in die moeilikheid en kragpryse is te hoog.

“Ek verstaan die ministers se behoefte om met die bedryf te praat,” sê sy.

Die kern van die saak is wat die bedryf doen in reaksie op die aanvanklike gesprek.

Dis nie ’n oortreding as die betrokke bedrywe nou saam sou sit om te besin oor die breë beginsels van hoe hulle kan help om die huidige krisis te verlig nie, sê Burger-Smidt.

Dit is van deurslaggewende belang dat elke maatskappy sy onafhanklike besluitneming oor pryse en mededingingsvoordele behou.

As die bedryf praat oor hoe struikelblokke uit die weg geruim kan word wat mededinging aan bande lê, is dit reg, sê sy. Elke markspeler moet steeds onafhanklik beding oor pryse op grond van sy kostestruktuur.

’n Ander opsie is dat die bedryf kan vra vir vrystelling van seker bepalings van die Mededingingswet. Die konstruksiebedryf het dit nie destyds gedoen nie.

Die konstruksiebedryf het hulself destyds boetes van altesaam R1,46 miljard op die hals gehaal vir hul samespanning en die reputasieskade het die genoteerde sektor vir alle praktiese doeleindes vernietig.

“Dis belangrik om seker te maak dat ons die huidige probleem reg hanteer,” sê Burger-Smidt.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.