Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Steenkool ‘trek al hoe swaarder’

Terwyl Eskom dié naweek weer nie genoeg droë steenkool gehad het om die ligte aan te hou nie, sê die Suid-Afrikaanse Mineraleraad steenkoolmyne trek swaar weens ’n ooraanbod in die internasionale mark, dalende pryse en negatiewe sentiment teenoor dié grondstof weens sy verwoestende voetspoor in die omgewing.

’n Laaigraaf by een van Exxaro se steenkoolmyne. Die toekoms van steenkoolmyne in Suid-Afrika is onseker soos wat meer beleggers en finansiers bereid is om by steenkoolbedrywighede betrokke te raak.

Die raad sê in sy jongste feiteboek steenkoolpryse het in 2020 vir die derde agtereenvolgende jaar gedaal. Pryse in 2020 was 8,6% laer as in die vorige jaar.

In 2019 was dit ’n yslike 32,7% laer as in 2018.

Die laer steenkoolpryse skrik voornemende beleggers af en steenkoolmynmaatskappye wat wel die kapitaal het om nuwe projekte te finansier, is besig om uit die bedryf te tree soos al hoe meer lande ’n beperking plaas op die gebruik van steenkool vir onder meer kragopwekking.

Daar is die laaste paar jaar ’n sterk fokus op omgewings-, maatskaplike en goeie-bestuur-vereistes, oftewel ESG-verantwoordelikhede. Omdat steenkool so ’n nadelige uitwerking op die omgewing het, keer al hoe meer beleggers en finansiers dit die rug.

As ondertekenaar van die Parys-klimaatsverdrag het Suid-Afrika onderneem om sy koolstofdioksiedspoor en sy afhanklikheid van steenkool vir kragopwekking algaande te verminder.

Steenkool is egter steeds die hoofbron van energie-opwekking, wat van die land een van die top-20 koolstofdioksied-besoedelaars te wêreld maak.

Mxolisi Mgojo, uitvoerende hoof van Exxaro Resources wat onder meer steenkool myn, het die afgelope week tydens die jaarlikse mynbou-indaba gesê die maatskappy gaan nie meer kapitaal belê in termiese steenkoolbedrywighede nie.

“Ons het wel twee kontrakte – om Matimba en Medupi van steenkool te voorsien.

“So lank as wat steenkool deel uitmaak van Suid-Afrika se mengsel van energie-opwekking sal ons aanhou om steenkool te myn,” het Mgojo gesê.

Suid-Afrika is geleidelik besig om hom van sy afhanklikheid van steenkool vir kragopwekking te speen. Volgens die jongste plan vir geïntegreerde hulpbronne sal steenkool teen 2030 59% uitmaak van kragopwekking teenoor 90% in 2019.

Mark Cutifani, uitvoerende hoof van Anglo American wat ook deel van die indaba-paneelbespreking was, het gesê Anglo se steenkoolmyne maak slegs 5% uit van sy mynboubedrywighede. Die mynbougroep het in Mei verlede jaar aangekondig hy gaan sy Suid-Afrikaanse steenkoolmyne verkoop.

Volgens Cutifani het Anglo se steenkoolbates ’n lewenstyd van langer as tien jaar en dit sal steeds ’n positiewe bydrae lewer tot steenkoolverskaffing in Suid-Afrika.

“Maar ons het ’n verantwoordelikheid om toe te sien dat dit verkoop word aan eienaars wat hul omgewingsverantwoordelikhede nakom,” het Cutifani gesê.

Beleggers wêreldwyd is traag om by steenkoolbedrywighede betrokke te raak.

Volgens die Mineraleraad het slegs 23 van die 38 steenkoolmyne wat die Indiese regering probeer opveil het, ’n nuwe baas gekry.

Lord Charles Vivian, direkteur by die skakelmaatskappy Tavistock wat ook aan die paneelbespreking deelgeneem het, het gesê al hoe meer gemiddelde beleggers is deesdae daaroor begaan om “die regte ding te doen” wanneer hulle beleggingskeuses uitoefen.

“Mynboumaatskappye wil graag nuwe beleggers lok, so hulle sal wil seker maak hulle voldoen aan voornemende beleggers se vereistes,” het hy gesê.

Meer oor:  Mineraleraad Van Suid-Afrika  |  Eskom  |  Steenkool  |  Krag  |  Elektrisiteit  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.