
Die pienk diamant van 46 karaat wat in die Lulo-diamantmyn in Angola gevind is. Foto: Lucapa
Die Lucapa Diamond Company, wat diamante in Angola myn, het ’n enorme pienk knewel in sy Lulo-myn uitgehaal.
Dié diamant van 46 karaat is die grootste gekleurde diamant van juweel-kwaliteit wat nóg in dié myn gevind is.
Die myn het voorheen ’n geel diamant van 43 karaat en ’n pienk diamant van 39 karaat opgelewer.
Volgens die myngroep is reeds tien stene van meer as 100 karaat in die myn uitgehaal sedert die mynbedrywighede daar begin is.
Die grootste was ’n wit diamant van 404 karaat gevolg deur een van 227 karaat.
Die knewel van 404 karaat is in 2016 vir $16 miljoen verkoop.
Lucapa en sy vennote Endiama en Rosas & Petalas bedryf die diamantmyn.