Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Trans Hex staan nie aansoek om likwidasie teen
Die diamantmynmaatskappy Trans Hex sukkel finansieel.

Die sukkelende diamantmynmaatskappy Trans Hex gaan nie die aansoek teenstaan om West Coast Resources (WCR) voorlopig te laat likwideer nie.

Hy het in ’n aankondiging op Sens, die JSE se nuusdiens, gesê die algemene aandeelhouersvergadering op 29 Oktober gaan dus voort waar aandeelhouers moet besluit oor ’n uitkooptransaksie en die denotering van Trans Hex van die aandelebeurs af.

WCR is ’n filiaal van Trans Hex wat die diamantmyne besit wat vantevore aan die diamantreus De Beers behoort het. Trans Hex se filiaal Trans Hex Diamante Beperk is die meerderheidsaandeelhouer in WCR met ’n belang van 67,2%.

Aanvanklik was daar onderhandelinge met Kernel Resources om die belang in WCR aan Kernel te verkoop, maar verlede week het Trans Hex aangekondig dié onderhandelinge is gestaak. Die bestuurs- en myndienste-ooreenkoms wat Trans Hex, WCR en Kernel gehad het, is ook geskrap. Ingevolge dié ooreenkoms sou Kernel as onafhanklike kontrakteur optree om WCR te bestuur.

Trans Hex het egter gewaarsku dat WCR se handelsbedrywighede oor die afgelope paar maande verswak het weens onder meer die val van 27% in diamantpryse en omdat die gemiddelde graad van diamante wat ontgin is, afgeneem het. WCR kon dus nie meer bedryfskapitaal voorsien nie, en daar is besluit om in die hooggeregshof in Kaapstad aansoek te doen om die voorlopige likwidasie van WCR.

Trans Hex het aandeelhouers in September ingelig oor ’n aanbod wat hy aan alle aandeelhouers wil maak, buiten ’n spesifieke konsortium bestaande uit Cream Magenta 140, Metcap 14 en RAC Investments. Die aanbod is om al die aandele van die maatskappy buiten dié wat deur die konsortium gehou word, uit te koop. Dit sluit ook tesourie-aandele in Trans Hex uit.

Die konsortium besit saam byna 80% van Trans Hex, volgens sy 2019-jaarverslag. Die Trans Hex-belange van onder andere die sakemagnaat Christo Wiese en sy familie, en van die boetiek-batebestuursfirma RECM van Piet Viljoen, word in dié konsortium gehuisves. Die enigste ander enkele groot aandeelhouer buiten die konsortium is Investec Batebestuur wat namens sy kliënte 5,16% van Trans Hex besit.

As dié transaksie goedgekeur word, sal Trans Hex denoteer van die JSE.

Sy aandeelprys op die JSE was Woensdagmiddag 1% hoër op 88c. Drie jaar gelede was die aandeel nog meer as R4 werd.

Meer oor:  Trans Hex  |  De Beers  |  Mynbou  |  Diamantbedryf  |  Mynboubedryf  |  Likwidasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.