Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Trans Hex weer winsgewend

Die diamantmynmaatskappy Trans Hex het sy verlies van ’n jaar gelede omgeswaai na ’n wins, maar dit lyk asof dit grootliks is danksy die verkoop van sy Laer-Oranjerivier bedrywighede.

Tog was beleggers eufories oor die terugkeer na wins en het die aandeelprys Dinsdagaand ’n hele 50% hoër gesluit op R1,28.

'n Ertsvragmotor by een van Trans Hex se diamantmyne. Foto: Trans Hex

Trans Hex maak Vrydag sy halfjaarresultate vir die ses maande tot einde September bekend. Hy het Dinsdagmiddag solank ’n kykie aan aandeelhouers gegee van die syfers wat verwag kan word.

Dit sluit in ’n verdienste per aandeel van 37,6c teenoor ’n verlies van 188,4c ’n jaar gelede. Die wesensverdienste per aandeel van 41,5c is ook ’n ommeswaai van die wesensverlies per aandeel van 195,1c ’n jaar gelede.

Die groep se netto wins is R52 miljoen teenoor ’n jaar gelede se verlies van R199,2 miljoen, maar vir voortgesette bedrywighede is die netto verlies nou veel groter teen R26,3 miljoen vergeleke met die R2,3 miljoen van 2017.

Die wins uit die Laer-Oranjerivier bedrywighede is R77,8 miljoen teenoor ’n jaar gelede se verlies van R197,7 miljoen, maar Trans Hex erken die wins is regstreeks toe te skryf aan die wins uit die verkoop van die bedrywighede.

Trans Hex se aandeel in die wins van die Somiluana-myn in Angola het darem geklim tot R25,9 miljoen teenoor R18,7 miljoen verlede jaar.

Wat nog tot Trans Hex se skynbaar beter syfers bygedra het, is ’n herwaardering van die rehabilitasievoorsiening vir West Coast Resources. Dit het tot ’n netto bydrae van R29,7 miljoen gelei.

Die syfers word boonop vergelyk met ’n aangepaste verdienste van ’n jaar gelede waar die koste vir die aflegging van werkers by die Laer-Oranjerivierbedrywighede van R111,4 miljoen by daardie syfers terug gevoeg is.

Diamante is vir ewig. Die diamantmyner Trans Hex verwag 'n wins vir die halfjaar tot einde September.

Trans Hex spog nietemin met netto kontant aan die einde van die halfjaar van R42,9 miljoen, effe beter as die R41,3 mijoen van ’n jaar gelede.

Trans Hex se netto batewaarde per aandeel het tot 217,8c gegroei van September 2017 se 142c.

Trans Hex se aandeelprys was die afgelope maand baie wisselvallig, en het verhandel tussen 80c en R1,20. Sy beste vlak die afgelope 12 maande was R3, en dit het verlede jaar in ’n stadium bo R4 verhandel.

Meer oor:  Maatskappyresultate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.