Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Tribunaal stel voorwaardes vir steenkoolplan

Die swartbeheerde myngroep Seriti Resources mag nou South32 se Suid-Afrikaanse steenkoolbates oorneem, mits die meeste poste behou word en werknemers en gemeenskappe deur middel van trusts aandele in dié bates besit.

Seriti se Thabong Coal mag South32 se steenkoolbates oorneem mits aan sekere voorwaardes voldoen word, het die Mededingingstribunaal besluit. Foto: Argief

Thabong Coal, die filiaal van Seriti wat die bates koop, moet ook die hangende prospekteer- en mynregte van South32 se Leandra-projek binne ’n sekere tyd aan ’n geskikte koper verkoop, het die tribunaal besluit.

Die Leandra-projek is ’n groot steenkoolmynprojek sowat 100 km oos van Johannesburg.

Die idee met dié voorwaarde is dat onafhanklike opkomende en junior mynbouers ’n kans moet kry om ’n voet in die deur van die steenkoolbedryf te kry.

Slegs 25 geskoolde werkers se poste is weens die oorname in die gedrang, omdat die poste moontlik gedupliseer is. Die res van die heeltydse en vastetermyn-kontrakwerkers mag vir 24 maande ná die finale transaksiedatum nie afgelê word nie, het die tribunaal beslis.

Seriti het onderneem om aan voorheen benadeelde verskaffers die geleentheid te gee om steeds goedere en dienste aan hom te lewer.

Teke
Mike Teke, uitvoerende hoof van Seriti Resources.

Seriti moet ook seker maak kommersieel sensitiewe inligting word nie gedeel vanweë die transaksie nie. Verteenwoordigers in die direksie van Seriti, Seriti Coal en ander bedryfsfiliale van Seriti Coal of van die steenkoolbates wat eers aan South32 behoort het, mag nie in die direksies of bestuurskomitees dien van enige ander beherende of filiaalmaatskappye van Seriti-aandeelhouers wat ook in die steenkoolbedryf betrokke is nie.

South32 het die tribunaal se besluit verwelkom.

Graham Kerr, uitvoerende hoof van South32, sê die transaksie is egter steeds onderhewig aan goedkeuring van Eskom en sekere ander voorwaardes, maar vordering word gemaak om alles teen Maart volgende jaar af te handel.

south32
Graham Kerr, uitvoerende hoof van South32.

Mike Teke, uitvoerende hoof van Seriti, sê in ’n Sens-verklaring die tribunaal se goedkeuring gee groter sekerheid vir werknemers, gemeenskappe en verskaffers rondom dié steenkoolbates. Dit is ook ’n belangrike transaksie vir Suid-Afrika se energiesekerheid in die konteks van volgehoue steenkoolvoorraad.

South32 se aandeelprys op die JSE was Woensdag byna 2% laer op R27,50.

Meer oor:  South32  |  Mededingingstribunaal  |  Oorname  |  Steenkool  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.