Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Waarom Guptas die Optimum-myn mag koop
Die son kom op oor kragdrade in die Vrystaat. Foto: Herman Verwey

Die magsverhouding tussen Eskom en sy steenkoolverskaffers sal nie beduidend verander omdat die Guptas se Tegeta Exploration die Optimum-steenkoolmyn gekoop het nie.

Tegeta sal nie beter pryse kan beding nie omdat hy ná die samesmelting maar in 5% van Eskom se totale vraag na steenkool voorsien.

Eskom self het ook nie besware gehad teen die samesmelting nie.

Dís waarom die Mededingingstribunaal wel op 22 Februarie goedkeuring gegee het dat Tegeta Exploration & Resources die Optimum-steenkoolmyn mag koop. Die redes is pas deur die tribunaal uiteengesit.

Tegeta word besit deur Oakbay Investments, waarin Atul Gupta en sy vrou, Chetali, van die grootste aandeelhouers is, en Mabengela Investments, die mynboukonsultantefirma van Duduzane Zuma, een van pres. Jacob Zuma se seuns.

Tegeta het aansoek gedoen om sewe firmas van Glencore te koop wat deel vorm van Optimum Coal Holdings. Dit sluit in ’n belang in die Richardsbaaise steenkooleindpunt asook myne wat nié aktief is nie.

Tegeta sê hy sal Optimum weer winsgewend kan maak as hy meer steenkool teen hoër pryse uitvoer en deur myntegnieke te verander.

Die tribunaal sê hy het in sy redes slegs gefokus op die twee myne wat wél bedrywig is, naamlik Optimum en Kroondal.

Optimum is in sakeredding, glo omdat sy grootste kliënt, Eskom, weier om sy kontrakte aan te pas. Die kontrakte duur nog tot 2018.

Glencore, die vorige eienaar, het beweer Eskom dwing hom om steenkool teen onder kosprys te lewer ingevolge die langtermynkontrak, terwyl Eskom Optimum daarvan beskuldig het dat hy steenkool van onder die vereiste gehalte lewer. Eskom het ’n boete van R2 miljard hiervoor aan Optimum opgelê.

Tegeta het voor die tribunaal aangevoer hy sal Optimum weer winsgewend kan maak as hy meer steenkool teen hoër pryse uitvoer en deur myntegnieke te verander.

Tegeta besit reeds die Brakfontein-steenkoolmyn, wat ook steenkool aan Eskom lewer. Die tribunaal sê egter daar is geen mededinging tussen Brakfontein en Optimum nie omdat hulle nie aan dieselfde kragstasies steenkool lewer nie.

Die tribunaal het die verkryging goedgekeur op voorwaarde dat geen afleggings sal plaasvind wat spesifiek met die samesmelting verband hou nie.

Tegeta het beklemtoon dat Optimum se sukses afhang van of Eskom sy kontrak hernieu en afleggings sal noodwendig gebeur as Eskom nié die kontrak hernieu nie. Dit sal egter nie wees weens die samesmelting nie.

Die Guptas het Suid-Afrika na bewering verlede week verlaat nadat al vier groot banke, die ouditeursfirma KPMG en die aandeleborgfirma Sasfin hul dienste aan Oakbay Investments en Oakbay Energy and Resources opgeskort het. Oakbay Energy het Maandag gesê hulle onderhandel nou wel weer met plaaslike banke.

Meer oor:  Glencore  |  Tegeta  |  Eskom  |  Oakbay  |  Optimum Coal  |  Guptas  |  Optimum  |  Steenkool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.