Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Weg weer oop om Gupta-myne te verkoop
Die ingang na die Optimum-steenkoolmyn.

Die sakeredders wat aangestel is om die Optimum- en Koornfonteinsteenkoolmyne, wat aan die Guptas behoort, te bestuur het nóg ’n struikelblok oorkom om dié myne te verkoop.

Dit kom nadat Charles King se aansoek om ’n dringende interdik – sodat die myne wat aan die Guptas se Tegeta Exploration & Resources behoort, nié verkoop mag word nie – van die hand gewys is.

Regter Segopotje Mphahlele het die saak op 19 September in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor en op Vrydag 28 September uitspraak gelewer.

Nadat die aansoek van die hand gewys is, is dit van die rol geskrap omdat, volgens haar, geen bewys gelewer kon word dat die aansoek dringend was nie.

Charles King het op 22 Augustus 2017 ’n kontrak gesluit om die myne vir R2,97 miljard te koop. Amin AlZarooni is die enigste direkteur van dié maatskappy.

Kurt Knoop en Louis Klopper is op 19 Februarie aangestel as sakeredders van Tegeta, die Optimum- en die Koornfonteinmyn en vier ander maatskappye wat aan die Guptas behoort.

Hulle het in April aangekondig dat hulle die koopkontrak gekanselleer het omdat Charles King nie voldoen het aan die voorwaardes wat in die kontrak uiteengesit word nie.

Hul grootste probleem was dat Charles King nie betyds die volle bedrag van R66,7 miljoen, wat as deposito betaal moes word, betaal het nie.

Die maatskappy het op 21 September verlede jaar R64,4 miljoen betaal.

Bouwer van Niekerk, die sakeredders se prokureur, sê hulle is glad nie verbaas dat die saak van die rol geskrap is nie.

“Ons glo dit was die korrekte bevinding.

“Jy kan nie nou tot September toe wag nadat ’n kontrak reeds in April gekanselleer is en dan sê jou aansoek is dringend nie,” sê hy.

Hy erken dat Charles King dalk weer die saak aanhangig kan maak, maar dink dit is hoogs onwaarskynlik. “Tans neem dit minstens agt maande om ’n saak op die rol in Pretoria te kry.”

Van Niekerk sê hulle hoop om teen daardie tyd lank reeds die myne te verkoop.

Belangstelling

Twee maatskappye het reeds bankwaarborge ter waarde van R250 miljoen elk ingedien om hul belangstelling te bevestig om dié myne te koop.

Sipho Nkosi, voormalige uitvoerende hoof van Exxaro, en Bernard Swanepoel, voormalige uitvoerende hoof van Harmony Gold, se Phakamisa Konsortium is een van die maatskappye wat bankwaarborge ingedien het.

Die Britse maatskappy Vitol, wat tans ’n kontrak het om

200 000 ton steenkool per maand van Optimum en Koornfontein via Richardsbaai uit te voer, is die ander een.

Vitol het die ooreenkoms, via Burgh Group Holdings (BGH) se Ezimiwayo Consulting, in April gesluit.

Vitol het in 2016 probeer om Optimum-RBST van Oakbay Investments te verkry. Die plan was toe ook dat BGH die bedrywighede namens Vitol sou bestuur. Dié plan is eers in Junie verlede jaar laat vaar.

Van Niekerk sê dié kontrak sal nie beïnvloed word ongeag aan wie die myne verkoop word nie.

“Ek glo dit maak die myne net soveel aantrekliker aangesien hulle tans ’n baie goeie prys betaal word vir die steenkool wat Vitol koop,” sê hy.

Van Niekerk sê hulle verwag binne die eerste week van Oktober dat ’n derde maatskappy ook bankwaarborge gaan indien wat hom dan ook as moontlike koper sal erken.

Hy sê die sakeredders is versigtig optimisties dat ’n koopkontrak nog voor die einde van 2018 gesluit sal word.

Onmiddellike toekoms

Van Niekerk sê wat betref die onmiddellike toekoms van Tegeta en die myne sal die sakeredders waarskynlik tog instem om by ’n arbitrasieproses met Charles King oor die gekanselleerde koopkontrak betrokke te raak.

“Ons hou egter by ’n baie spesifieke regspunt in dat ons al die bewyse het dat die maatskappy nié aan voorwaardes voldoen het nie.

“Ons verwag nie dat die arbitrasieproses langer as ’n dag gaan duur nie,” sê hy.

“Daar is geen twyfel dat ons die myne gaan verkoop nie.

“Dit is buite die kwessie dat ons die myne gaan omkeer en dit aan die aandeelhouers gaan terugbesorg. Dit is gesien wie die aandeelhouers is,” sê hy met verwysing na die Guptas.

“Ons wil hierdie myne aan mense verkoop wat dit behoorlike kan omdraai en weer werkgeleenthede daar kan skep.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.