SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Mynbou
Werker kos mynreus miljoene

Toe die 40ste trein steenkool van die mynreus Glencore vir uitvoer afgekeur is, het hulle besef hul laboratorium-ontleder is die vark in die verhaal.

Glencore se hoofkantoor in Baar, Switserland. Foto: Della Bella, Bloomberg

Teen daardie tyd het Glencore reeds R230 miljoen se skade gely soos die een vrag ná die ander by die Richardsbaai-terminus afgekeur is, het die arbeidsappèlhof gehoor.

Glencore het einde 2014 lont geruik oor Lethokogo Abram Malapalane, hul gewese laboratorium-superintendent by die Goedgevonden-steenkoolmyn.

Luidens die uitspraak was Malapalane vir minder as ’n jaar in dié pos totdat Glencore besef het hy weet nie wat hy doen nie.

Vandat hy in Desember 2013 aangestel is, het hy gereeld vir Glencore ontledings van hul steenkool gedoen en die indruk gewek dat die getoetste steenkool voldoen aan die uitvoerspesifikasies. Malapalane se laboratorium, met vier toesighouers en 26 tegnici wat onder hom gewerk het, was weliswaar nie geakkrediteer nie, maar hulle moes die steenkool se gehalte toets sodat Glencore weet watter vragte om na Richardsbaai te stuur.

Volgens Glencore het die laboratorium vóór Malapalane se aanstelling 63% van die tyd geklop met Richardsbaai se uitslae. Die teiken was 70%.

Nadat Malapalane juis aangestel is om met sy kundigheid en ervaring die gehalte van toetse te verhoog, het die laboratorium net in 30% van die gevalle soortgelyke uitslae as Richardsbaai getoon.

Die steenkoolprys was $65 per ton en Glencore het sowat R5,7 miljoen verloor vir een trein as die gehalte nie volgens spesifikasie was nie.

Die geakkrediteerde laboratorium het met die steenkool se aankoms die spesifikasies getoets en vir 40 vragte net geweier om die steenkool uit te voer.

Glencore het in ’n tugverhoor bevind Malapalane kon nie monstertoetsuitslae wat hy voorgehou het, staaf nie.

Hy het ook nie in die berekenings op die monsters foute bespeur wat hul gehalte beïnvloed het nie. Hy het ook geweet dat sekere inligting ’n wanvoorstelling was, maar het nie die regstellende stappe teen sy ondergeskiktes gedoen nie.

Hy is afgedank, maar die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het bevind hy het nie ’n doelbewuste wanvoorstelling gemaak nie.

Die arbeidshof het vir Glencore gedeeltelik gelyk gegee, maar die saak terugverwys na die KVBA.

Glencore het toe die arbeidsappèlhof gevra om in te gryp.

Malapalane het aangevoer sy werk was op peil, maar die uitslae verskil omdat die laboratoriums “verskillende toerusting” en verskillende metodes om monsters te neem, gebruik.

Die hof het egter bevind Malapalane wou sy base mislei om te glo die resultate was akkuraat terwyl dit nie was nie.

Sy wangedrag het gelei tot ’n verlies van sowat R230 miljoen en sy afdanking is geskik.

Die arbeidsappèlhof het bevind Malapalane se afdanking was billik, want Glencore se inkomsteverlies en skade aan sy reputasie kan nie geringgeskat word nie.

Meer oor:  Glencore  |  Richardsbaai  |  Steenkool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.