Die mynbousektor se bydrae tot die ekonomie daal steeds, wys die jongste syfers wat die Mineraleraad van Suid-Afrika (MRSA) Maandag bekend gemaak het.

Mynwerkers loop in ’n tonnel in een van Suid-Afrika se ondergrondse myne. Foto: Bloomberg
Nogtans speel die sektor steeds ’n beduidende rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie.
Die MRSA sê die sektor het in verlede jaar R350,8 miljard (nominaal) tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) bygedra. Dit verteenwoordig 7,3% van die BBP.
In 2017 was die mynbousektor se bydrae tot die BBP 7,5%.
Die syfers wys ook dat die sektor in 2018 met 1,7% gekrimp het. Sy arbeidsmag was verlede jaar 456 438 werkers – 1,6% minder as in 2017.
In veral die sektore vir goud (-11,2%), diamante (-9,2%) en platinumgroepmetale (-3,3%) is duisende werkers afgelê.
Ander sektore het weer werkers aangestel. Die meeste nuwe poste is by mangaan- (20,2%), chroomerts- (11,6%) en steenkoolmyne (8,8%) geskep.
Werknemers in die mynbousektor het verlede jaar ’n gesamentlike inkomste van R134,4 miljard verdien.
Ten spyte van kommer oor beleggings in die sektor, wys die MRSA se syfers dat daar tog steeds belangstelling onder beleggers is.
Die sektor het R91,1 miljard (nominaal) se vaste beleggings in 2018 gelok – 13,2% meer as in 2017.
Verkope
Suid-Afrikaanse myne het in 2018 minerale ter waarde van R498,7 miljard verkoop. Hiervan is R333,2 miljard uitgevoer.
Die MRSA sê dié syfer verteenwoordig die helfte van die land se buitelandse reserwes.
“Dit beklemtoon die belangrikheid van die mynbousektor, wat vir 26,7% van Suid-Afrika totale uitvoer verantwoordelik is,” sê die raad in sy verslag.
Die mynbousektor het verlede jaar ook R7,6 miljard in tantième betaal; 31% meer as in 2017.
Mynmaatskappye het altesaam R22 miljard se maatskappybelasting betaal, terwyl hul werknemers R21 miljard se belasting deur middel van die lopende betaalstelsel betaal het.
Veiligheid
Myne het verlede jaar effens beter ten opsigte van mynveiligheid gevaar.
In 2018 is 81 mense in Suid-Afrikaanse myne dood; nege minder as in 2017, maar steeds beduidend meer as die 0 waarna die sektor mik.
Goudmyne is die gevaarlikste. In 2018 is 40 mynwerkers in die land se goudmyne, dieselfde getal as in 2017, dood.