Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Ystererts-spoorlyn vir ruk gesluit
’n Ysterertstrein van Transnet tussen Sishen en Saldanha. Foto: Transnet

Transnet Freight Rail (TFR) gaan die spoorlyn tussen Sishen en Saldanha, waarop van die langste ysterertstreine ter wêreld loop, van Vrydag af vir tien dae sluit vir instandhouding.

As deel van dié jaarlikse instandhouding sal ’n permanente treinbrug geïnstalleer word oor die Holrivierpad tussen Vredendal en Lutzville waar ’n vragmotor in November 2018 in die brug vasgery het. Dit was ’n laebed- abnormale vrag wat ’n graafmasjien vervoer het. ’n Tydelike brug is toe inderhaas gebou om nie die uitvoer van Kumba Iron Ore se ystererts te ontwrig nie.

Die instandhoudingswerk behels onder meer die vervanging van duisende dwarslêers en die opknap van die gruisbedding waarop die spoorlyn rus.

Ná die opknapping sal meer treine vinniger oor die spoorlengte van 861 km tussen Sishen en Saldanha kan ry om te voldoen aan die verwagte groei in vragvolumes, het Mike Asefovitz, woordvoerder vir TFR, in ’n verklaring gesê.

Die spoorlyn word op 15 Oktober gesluit en al die werk sal na verwagting teen 25 Oktober afgehandel wees.

Die ystererts-spoorlyn is onder die aanvanklike streng vlakke van die Covid-19-inperking teen ’n afgeskaalde tempo hervat, het Siza Mzimela, uitvoerende hoof van TFR, vandeesweek aan die nasionale raad van provinsies se gekose komitee oor openbare ondernemings gesê. Die spoorlyn is in April net teen 49% van sy teiken bedryf, teen 77% in Mei, 84% in Junie, 87% in Julie en 95% in Augustus.

Die departement van openbare ondernemings het terselfdertyd aan die nasionale vergadering se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gesê die laer vraag na grootmaat-vrag soos ystererts is erg geknou deur die Covid-19-pandemie, en TFR se vragvolumes het skerp geval.

Transnet het verlede jaar gespog hy bedryf tans die langste vragtrein ter wêreld op dié spoorlyn toe ’n trein van 375 waens bekend gestel is om mangaanerts na die Saldanha-uitvoerhawe te vervoer. Die langste vragtrein tot dusver was egter ’n spesiale ysterertstrein van 682 waens wat die mynreus BHP Billiton in 2001 in Wes-Australië bedryf het, maar Transnet meen syne is ’n rekord vir ’n gereelde, geskeduleerde vragtrein.

Meer oor:  Transnet  |  Ystererts  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.