Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Zama-Zama’s hol Jhb uit met 140 km se tonnels onder stad

Onwettige myners, oftewel zama-zama’s, kalwe soveel tonnels onder Johannesburg uit dat daar kommer is dat dit skade aan infrastruktuur kan veroorsaak.

Die departement van minerale bronne (DMB) sê in ’n verklaring hy gaan onmiddellik met ’n grondondersoek begin om vas te stel hoe stabiel die grond is. Die voorlopige verslag sal na verwagting binne twee weke voltooi word.

Die Sunday Times het die afgelope naweek berig dat zama-zama’s tonnels onder die FNB-stadion in die suide van Johannesburg grawe, onder meer. Hul tonnels is glo meters van pype wat gas en brandstof onderdeur die stad voer.

Kenners meen dat sou dié pype beskadig word, dit “alles binne ’n radius van 300 m sal verwoes”.

Die Sunday Times berig verder dat die netwerk van tonnels sowat 140 km beslaan.

Dit is nie net onder die stadion nie, maar ook onder dele van die M1-dubbeldekker- en M2-snelweg.

Die DMB sê hy moedig alle belanghebbendes aan om met die Gautengse onwettige mynbouforum saam te werk. Dié forum is juis geskep om probleme wat deur onwettige mynwese veroorsaak word aan te spreek.

Bloomberg berig onwettige mynwese is ’n groot probleem in Johannesburg.

Prof. Raymond Durrheim, van die departement van mynwese by die Universiteit van die Witwatersrand, sê wat die situasie erger maak is dat zama-zama’s geen begrip van ondergrondse rotsformasies het nie.

“Die myne rondom Johannesburg is betreklik vlak. Onwettige mynwerkers maak geen voorsorg hiervoor nie. Daar is dus ’n groot risiko die tonnels inmekaar kan val,” sê hy.

In September 2016 is talle onwettige mynwerkers juis in Langlaagte, digby die FNB-stadion, ondergronds dood ná ’n rotsstorting daar.

Synock Matobako, woordvoerder vir die Johannesburgse nooddienste wat met dié reddingspoging gehelp het, het toe gesê “van die gapings is slegs 30 cm wyd en daar is dele waar die reddingspan omtrent 7 m ver moes kruip om by van die myners uit te kom”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.