“Smeer bietjie my rug,” sê sy. SBF 30. “Hoekom kan ek nie so bruin wees soos daai vrou op die oranje handdoek nie? Kyk net hoe dun is haar middeltjie.”

Kyk maar na enige vrou, êrens is daar ’n plekkie aan haar lyf waarmee sy nie tevrede is nie, al is sy ’n perfekte 10.

“Ék is tevrede met al jou plekkies,” sê jy rojaal.

“Ek is seker my borste is te klein, daar’s nie eers ’n middelpaadjie tussen die twee nie.” (Wat haar daaraan herinner dat haar hare ook nooit lê soos dit moet nie.)

“Maar dis dan die twee kersies op die koek!” deklameer jy. “Volmondig rond.”

“My boude voel so groot.”

Voel nie vir my te groot nie, sê jy empiries.

Sy’t tot met haar een groottoon ontevredenheid, glad skaam om oop sandale te dra, volgens haar. En jy moet sê, haar een groottoon lyk nogals soos ’n skilpad wat sukkel om uit sy dop te kruip, maar jy hou van skilpaaie. Sy druk dadelik haar toon in die sand soos ’n volstruis sy kop. (Jy’t gesê dit lyk soos ’n skilpad, nie ’n volstruis nie, maar toemaar.)

“Wat van my bobene?” Jy kan haar die versekering gee haar bobene is twee van haar ander sterk punte.

“Wat bedoel jy sterk punte? Lyk ek vir jou soos ’n gewigopteller?”

Jy’t maar net bedoel ... Toe verander sy gelukkig self die onderwerp: “Als gaan sit op my heupe, ek kan dit nie verstaan nie. Ek moet ophou roomys eet.”

Jy sê haar heupe lyk vir jou baie hups, jy sal nie sê sterk nie. “Ek wil net nie soos ’n bus lyk nie. Jy moet vir my sê as ek soos ’n bus begin lyk.”

’n Bus is ’n baie goeie vervoermiddel, sê jy, en buitendien lyk jy vir my meer soos ’n Lamborghini, ’n rooie.

“Vergelyk jy my nou met ’n motor? Eers met ’n skilpad, toe ’n gewigopteller en ’n bus ...”

Nee, nee, nee, keer jy, dis ...

“Dis wat jy so pas gesê het! Nogal ’n róóie!” (Hoe’t jy nou weer hierin beland? Tussen ’n bus en ’n Lamborghini kan ’n man maklik van die wal af in die sloot ry.)

“Ek kan netsowel nog roomys eet,” verklaar sy.

“Draai op jou rug dan smeer ek jou maag,” stel jy voor. Sy sê ’n bus draai nie so maklik om nie. Buitendien, sy wil nie met haar maag in die lug lê nie.

“Jou maag is tog so plat soos die see!” sê jy.

“Nie as ek sit nie,” sê sy.

“Nou moet dan nie sit nie,” sê jy. “Kan ek vir jou nog ’n roomys gaan koop?”

“Kyk hoe mooi skraal is daardie vrou op die pienk handdoek,” sê sy. Jy’t dit lankal agtergekom, maar noudat sy jou daarop wys: “Daardie vrou is regaf gebou soos ’n pilaar,” sê jy, “soos een van daardie maer Victoriaanse pilaartjies. En sy’t geen heupe nie, so wat’s die use?”

Mans kyk na ander vroue op die strand, sal nie help om dit te ontken nie. Vroue kyk óók na ander vroue op die strand, maar hulle ontken dit. Dan vergelyk hulle hulle met mekaar - met ewe veel kommentaar as komplimente: “As my bo-arms só gelyk het, sou ek nie ’n moulose toppie gedra het nie. En met sulke enkels ... ek sê liewer niks. (Wonder waar het sy daardie oranje handdoek gekoop, Woolies?) Kyk nou net daardie een op die blou handdoek het nie ’n sentimeter selluliet nie, dis onregverdig.”

Jy’t nie geweet ’n mens meet selluliet in sentimeters nie, jy sou dink ’n mens meet dit in dimpels.

That’s it!” neem sy dit persoonlik op. “Gaan koop vir my daardie roomys!”

Jy kyk maar na die handdoeke terwyl sy haar roomys eet.

“Wil jy ’n happie hê?” vra sy toe dit amper op is. Jy sê jy sal nie nee sê vir ’n happie nie.

“En my bobene dan?”

“Ek doen bobene ook,” sê jy: “10 uit 10 vir joune!”