Een: “Jy’t sulke sterk, breë skouers.”
Dan voeg sy boonop by (terwyl sy haar gesig in jou nek druk): “En jy ruik so ... so mánlik.” Dit beteken jy mag maar sweet, sy gee nie om nie. En of jy nou man of muis is, jy voel so ... so mánlik.

Twee: “Hoekom vat jy nie die naweek af nie? Jy werk so hard.”
Sy weet en jy weet die geut drup al die hele winter en sy het jou net gister nog daaraan herinner. Jy weet ook daar is ’n paar veranderinge wat sy in die algemene huishoudelike stand van sake - waarmee niks verkeerd is nie - wil aanbring. Sy herinner jou dikwels daaraan, maar jou naweke is nooit lank genoeg om die veranderinge deur te voer nie. Gelukkig, voor jy die een ding kan verander, is daar ’n ander ding, dan is die eerste ding vir eers vergete. Dit werk so in ’n sirkel, sodat jul algemene huishoudelike stand van sake min of meer ... in stand bly.
“Ek sal sommer iemand inkry om die geut reg te maak, dan hoef jy jou nie meer daaroor te bekommer nie.” (Jy het jou nie juis daaroor bekommer nie, maar jy sê dis ’n goeie plan.)

Drie: “Wag, sit jy, ek sal vir jou nog ’n bier gaan haal.”
Só ’n vrou se waarde is ver bo korale, en jy sê dit vir haar. Eers sien sy raak hoe hard jy werk, dan laat sy jou rustig sit terwyl sy keer dat jy nie dors word nie. Die geld wat jy volgende keer op blomme gaan uitgee, is geld goed bestee.
“Maak dit sommer twee bosse van daardie geel angeliere,” sê jy vir die straatverkoper.

Vier: “My ma was die heeltyd verkeerd oor jou.”
Sy kies jou kant! En as só ’n vrou aan jou kant is, kan enige skoonma maar teen jou wees.
“My ma wou die naweek kom kuier,” sê sy, “maar toe sê ek vir haar ons het ongelukkig ander planne.”
Rêrig? Watse planne?

Wat jou bring by punt nommer Vyf: “Is daar iets wat jy die naweek wil doen?”
Bedoel sy jy kan maar sê? “Ja, kom ons doen ’n slag iets wat jý wil doen.”
Jy kan aan soveel goed dink, jou kop begin duisel. En sê nou jy wil gaan gholf speel op ’n landgoed? Jy weet mos sy speel nie gholf nie. Visvang? Sy vang ook nie vis nie, sy dink dis dieremishandeling.
Met ander woorde, kan julle nog altyd iets doen wat jy wil doen as sy nie saamdoen nie?
Jy toets nie daardie waters nie en sê: “Kom ons bly sommer net die hele naweek by die huis en slaap laat. Dan bring ek vir jou koffi e in die bed.”
Klink lekker, sê sy: “Sien, ek sê mos my ma was verkeerd oor jou ...”

Ses: “Ek het genoeg klere (en skoene). Koop jy ’n slag iets net vir jouself, toe.”
Jy sien ’n nuwe bergfiets, ’n Mont Blanc-pen en ’n kleinerige 4x4. (Jy dink nie sy’t ’n kleinerige 4x4 bedoel nie, so jy parkeer daardie een liewer uit jou kop uit. Iemand moet nog betaal vir die geut se regmaak.)

Sewe: “Ek het besluit van nou af praat ek niks langer as 3 minute op die telefoon nie.”
En hier’s die bonus: “En as iemand mý bel, gaan ek vriendelik dog ferm sê, wag, ek kan nie nou langer praat nie, die groente kook oor. Baai.”
Daardie geut word binne die eerste maand afbetaal.

Agt: “Ek kan geen rede sien hoekom ek ’n bra by die huis moet dra nie.”
Jy ook nie.

Nege: “Kom kyk, ons nuwe buurvrou lê weer en tan in die tuin!” Bostukloos?
“Ja, maar jy moet gou kom, want dit lyk of sy nou enige oomblik op haar maag gaan draai!”

Tien: “Ek het glad nie vanaand hoofpyn nie. Kom jy slaap?”
Jy wil dadelik die TV afskakel, maar sy sê toemaar, kyk maar eers klaar, ek sal vir jou wag. (Of: “Nee, ek sal nie omgee as jy my wakker maak nie.”)
Só kan ’n man mos maar tien keer dagdroom, nè?

Nommer Elf sal jy haar waarskynlik óók nooit hoor sê nie: “Voel jy grieperig? Foei tog, kom lê met jou kop teen my bors.”
(Het sy gesê grieperig of gryperig?)
Jy voel sommer so ... so mánlik.