Sedert ons al in Mei 2004 gehoor het SA het die bod gewen vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi – die grootste sportgebeurtenis op aarde – het die frase “Dis vir 2010!” deel van ons alledaagse praatjies in die land geword.

Oornag was dít ons nuwe doel. Ons mikpunt. Vir ons sportstadions, ons paaie, ons lughawens, ons hotelle, ons restaurants. En as ons ’n bietjie filosofies wil wees, was en is “Dis vir 2010” ’n soort belofte aan mekaar dat ons hierdie reuse-geleentheid kán en gaan laat werk.

Die uitdaging is groot. Nog nooit in die geskiedenis sal soveel mense tegelyk stroom na die suiderpunt van Afrika nie. Dit gaan ons land op elke gebied toets – van ons gasvryheid tot ons organisasie-vernuf. Ook ons vindingrykheid om ons land en mense aan ons gaste en die buiteland te bemark. Die wêreld se oë is op ons, en Suid-Afrika sal sy hart uit moet spéél.
Maar een ding is seker: Wanneer dit saamstaan vra, kán ons dit doen. Ons het al.

Kyk net wat het ons in 1995 reggekry toe ons die Wêreldbeker-rugby gewen het. Met Madiba en ’n hele nasie agter hulle het François Pienaar en sy Bokspan, ná jare van sport-isolasie, die byna ondenkbare reggekry en hierdie land weer trots gemaak. Dit was ’n oorwinning wat die aandag van die wêreld getrek het. Ook van Hollywood. Net vandeesmaand word die rolprent Invictus bekend gestel, wat juis hierdie rugbystorie vertel. Meer nog, dit deel die verhaal van ’n nasie wat volhard het toe dit saak gemaak het (lees bl. 54).

Ek kyk na Charlize Theron, wat al die pad uit Los Angeles ektra glans aan die Fifa-sokkerloting in Kaapstad kom gee het, op ons voorblad. Dis die eerste keer dat hierdie pragtige Dior-foto’s van haar in SA gesien word. Sy word net só mooi ouer. Ons ken tog almal haar agtergrond, en weet sy het dit nie as jong meisie altyd maklik gehad nie. Maar met tipiese Suid-Afrikaanse deursettingsvermoë het sy haar kans afgewag en die wêreld laat regop sit met haar rou, natuurlike talent.

Ek sien haar nog op 14, 15 toe ek haar in ’n SARIE-fotosessie gebruik het. Daardie dag in die ateljee was dit klinkklaar: Hierdie meisie weet wat sy wil en nie wil nie. By haar was ’n professionele erns wat ek nie eens by modelle ver haar senior opgemerk het nie.

Rolprentkenner Barry Ronge sê vandag is Charlize “meer aktrise, minder van ’n ster”. Dít strook vir my. Ek het nog altyd gedink vir haar gaan dit nie soseer oor die blink nie, maar oor die eerlikheid van wat sy doen. Om te doen wat saak maak.

Baie jare gelede het ek die SA musiekblyspel Kat & the Kings op die verhoog in Londen se Weseinde gesien. Hoeka die stuk waarin Emo Adams, ons “Tall, Dark & Afrikaans” met wie ons vandeesmaand in Praat Met gesels, die hoofrol van Kat Diamond gespeel het. Daardie aand was een van die trotsste vir my.

Die saal was stampvol – ek het langs ’n paartjie van Ierland gesit, wat al die pad Londen toe gevlieg het, net vir die show. Die spelers het hul gô uitgesing en -gedans, en die gehoor was in vervoering. Hulle het opgespring en saamgeklap. Selfs gedans in die paadjies en ná die tyd vir foto’s saam met die spelers geposeer. Daardie aand het die toneelgroep uit SA hul alles gegee, toe dit saak gemaak het.

Nou’s ons hier, in 2010. Vir ons sal dit ’n groot jaar wees; die kollig is op ons. En SA sál perform. Ons sal ons vlag waai, ons volkslied sing en ons vuvuzelas blaas.

Want in 2010 máák dit saak.

Landsvlag

* Tot ons weer gesels wanneer ons Februarie-uitgawe teen 11 Januarie 2010 op straat is.