Die Toronto-filmfees gaan sommer ook Khumba se première in Noord-Amerika wees. Die wêreld-première van dié oulike fliek, wat gaan oor 'n sebra wat net die helfte van sy strepe het, was in Junie in Frankryk by die Internasionale Annecy-animasiefees.

Khumba sal saam met animasieflieks van onder meer Frankryk, Brasilië, Denemarke en Spanje meeding om 'n prys in Toronto. Die Suid-Afrikaanse rolprent- en video­stigting (NFVF) het bevestig dat dié film reeds aan meer as 40 Amerikaanse teaters verkoop is, en daar word voorspel dat nóg verkope tydens dié Kanadese fees beklink gaan word.

Khumba kom uit die pen van Raffaella Delle Donne en Anthony Silverstone. Jonathan Roberts, mede-skrywer van The Lion King, het raad gegee,en bekende Hollywood-sterre soos Liam Neeson (Taken), Laurence Fishburne (The Matrix) en AnnaSophia Robb (Soul Surfer) se stemme sal gehoor kan word.

Dié sebra sonder al sy strepe word geblameer vir die droogte in sy omgewing. Hy verlaat dan sy "huis" om die wonder-watergat te soek waar sebras glo hul strepe kry. Langs die pad ontmoet hy 'n oorbeskermende wildebees en 'n selfbehepte volstruis wat vir 'n onvergeetlike reis deur die Groot-Karoo sorg - in die hoop dat hy iewers sy strepe kan kry.

Triggerfish-ateljee se eerste fliek, Adventures in Zambezia, is baie goed ontvang. Dis vandeesmaand as die beste kinderrolprent by die Anima Mundi- internasionale animasiefees in Brasilië aangewys.

Khumba word op 25 Oktober in Engels en in Afrikaans in Suid-Afrika bekend gestel. Eers daarna sal dit wêreldwyd versprei word.

Hieronder is die lokprent van dié 3D-film:

Bron: All Africa