Ons almal onthou die koerantopskrifte oor Fokofpolisiekar (FPK) wat vanaf die lamppale geskreeu het. Van Jaco “Snakehead” Venter, die tromspeler wat uit ’n bewegende toerbussie gespring het en sy arm gebreek het, tot Wynand Myburgh, baskitaarspeler, wat in die vroeë oggendure ’n godslasterlike boodskap op iemand se beursie geskryf het – ’n insident wat in ’n herrie ontaard het nadat Bobby van Jaarsveld se ma, Ronel, ’n e-pos daaroor uitgestuur het.
In Biografie van ’n bende – die storie van Fokofpolisiekar vertel Annie klopper nie net die storie agter die storie van dié gebeure nie, sy vat ons verder terug na Die Bende (soos die lede bekend staan) se hoërskooldae, hul ontmoeting, die voorafgaande bands waarin hulle gespeel het en hul betrokkenheid by ’n charismatiese kerk.
Die boek is vol juwele wat jou laat dink: Regtig? Annie verklap hoekom Francois besluit het om sy van na ‘van Coke’ te verander en dat Hunter skoolvriende was met die Matie Inge Lotz wat in 2005 op Stellenbosch vermoor is. Die liedjie “Oop vir misinterpretasie” het hy ná haar moord geskryf.
Daar was dalk nimmereindigende partytjies saam met genooides en ongenooides by ‘The Barracks of Rebellion’, ’n huis in Bellville wat Wynand en Francois saam met ’n vriend gedeel het, maar dié manne het nooit gedink FPK is ’n partytjie nie. Hulle het die groep van die begin af as ’n besigheid bestuur en uiteindelik ’n kulturele fenomeen geword.
Biografie van ’n bende is ’n page turner. Van die eerste bladsy slurp jy elke stukkie inligting oor die groep se verhaal op. Selfs al is jy nie ’n aanhanger van die FPK nie, behoort die Biografie van ’n bende jou vasgenael te hou. Die storie is hier en daar nogal formeel geskryf, wat jammer is.
Annie vertel sy het soveel meer oor FPK geweet as wat sy in die boek verklap het, maar sy moes besluit watter inligting belangrik is om hul storie te vertel. Wanneer jy die boek uiteindelik toeslaan, wens jy sy wou baie meer met ons gedeel het.

Hoekom juis Fokofpolisiekar? Daar is soveel bands oor wie jy kon skryf.
Toe FPK jare terug op die toneel gekom het, het ek onmiddellik aanklank by hulle gevind. En dit was nie net ek nie. Dit was my vriende ook. Ek het gewonder hoekom hulle so ’n groot impak op ons het. Ek dink hulle het tot so ’n groot gehoor gespreek omdat hulle dinge op ’n manier gesê het waarmee jong mense kon identifiseer. Ek was gefassineer met hul lirieke, veral hoe dit binne ’n historiese sosio-politieke konteks pas, soveel so dat ek my meestersgraadtesis (Annie het haar tesis, Die opkoms van Afrikaanse rock, met spesifieke verwysing na die lirieke van Fokofpolisiekar, met lof aan die Universiteit  Stellenbosch geslaag) daaroor gedoen het. Dis gedurende hierdie tyd dat ek die ouens leer ken en vriende met hulle geraak het. Uit ons vriendskap het die idee vir die biografie gekom.

Ons instink is om ons vriende te beskerm. Was dit moeilik om ’n tree terug te staan en hul verhaal, goed én sleg, te vertel?
Ek het die biografie met FPK se toestemming geskryf. Omdat ek vriende met hulle is, het ons mekaar van die begin af vertrou. Ek dink nie ek sou die boek kon skryf as hulle my nie vertrou het nie. Juis omdat daar nie te veel afstand was nie, kon ek in hul koppe kom. Hulle het hul storie warts and all met my gedeel. Hulle het my toegang tot hul families gegee omdat hulle geweet het ek sou als wat ek uitvind met respek behandel en die storie nie met sensasie skryf nie.
Daar was ’n groot verantwoordelikheid op my om nie te veel van wat ek geweet het weg te laat nie. Ek het baie meer geweet as wat ek geskryf het, maar ek moes besluit watter inligting is belangrik om FPK se storie te vertel. Ek voel eintlik skuldig omdat ek dit so geniet het om die boek te skryf.

Hoe so?
Dit was harde werk, maar dit het nie heeltemal soos werk gevoel nie. Ek het nagte deurgesit met honderde bladsye se inligting, ek moes ure se onderhoude transkribeer en grafieke uitwerk, maar dit was lekker omdat dit iets is wat my na aan die hart lê. Ek sou nie dieselfde energie in ’n projek kon sit waaroor ek nie so passievol is nie. Met die bekendstelling van die biografie, toe mense in rye staan om die boek te koop, het ek vir Hunter (Kennedy, kitaarspeler en liriekskrywer) gesê dit voel soos ’n antiklimaks. Ek het later besef dit was lekkerder om die boek te skryf as om dit klaar te hê.

 Hoe het dit gebeur dat jy jou tesis vir jou meestersgraad oor FPK se lirieke gedoen het?
Ek sou nooit kon dink ek gaan met ’n graad oor Afrikaanse punk-rock uit universiteit stap nie! Aan die een kant is ek lief vir musiek en aan die ander kant het ek ’n liefde vir geskiedenis en letterkunde. In die tyd toe ek ’n keuse oor my nagraadse studie moes maak, het ek ’n gesprek met Hunter gehad. Ons het gesels oor sy lirieke, die geskiedenis van die Afrikaner en so aan. Toe dink daar is dalk ’n manier hoe ek geskiedenis en letterkunde met musiek kan laat trou. Ek het uiteindelik ’n interdepartementele tesis gedoen – by die Afrikaanse Letterkunde- en die Geskiedenis-departement. Dit was ’n voorreg om deur FPK se lirieke te kon werk en daaroor te kon skryf. Terwyl ek besig was daarmee, het ek besef hier is ’n wonderlike verhaal wat vertel moet word, hier is ’n boek wat geskryf moet word. Ek het die naam van die biografie, Biografie van ’n bende, al in die eerste jaar uitgedink wat ek besig was met my meestersgraad. Toe ek destyds my eerste onderhoud met FPK gedoen het, het ek nooit gedink dinge sou so uitwerk nie.

Waar kom jou belangstelling in musiek vandaan?
 Ek het nog altyd ’n abnormale belangstelling in musiek gehad. Suzi Quatro het my lewe op vyf verander. My ouers het ’n wye versameling van musiek soos Paul Simon en Bruce Springsteen gehad waarna ek geluister het. Ek het ook na Koos du Plessis en selfs Randall Wicomb geluister. Ek het probeer uitpluis hoekom ek van sekere musiekgenres hou en hoekom ander tipes nie lekker op my oor val nie. Op hoërskool het ek ’n musiekrubriek in die skoolkoerant geskryf, My rock se soom. Ek het nie eintlik geweet waarvan ek praat nie. Ek onthou ek was toe reeds ’n kampvegter vir plaaslike musiek. Toe ek op universiteit kom, kon ek gereeld na bands gaan kyk en daaroor skryf. My skryfwerk oor musiek het stelselmatig beter geword.

Jy het oor die geskiedenis en ontwikkeling van Afrikaanse musiek kommentaar gelewer in die MK-dokumentêr Johnny en die maaiers. Ek was beïndruk met jou musiekkennis.
Dit is van lees en luister en vreeslik baie skryf daaroor. Ek was ook een van die navorsers van Johnny en die maaiers. Ek het dit in dieselfde tyd gedoen as my tesis. Baie van die inligting wat ek in Johnny en die maaiers gebruik het, het ek in my tesis en later in die biografie gebruik. Al hierdie dinge het nogal organies gebeur. Die een ding het uit die ander gevloei.

Jy is nou ’n boekredakteur by Protea Boekhuis. Hoe balanseer jy dit met jou werk as musiekjoernalis?
Ek het vir jare hard gewerk om ’n naam vir myself as musiekjoernalis te maak en het oor soveel moontlik bands geskryf. Nou pluk ek die vrugte op ’n jong ouderdom, want ek kan kies oor watter bands ek wil skryf. Ek hoef nie meer by elke show te wees nie.

Dis duidelik jy is mal oor die akademie.
Ek het nog altyd my studies ernstig opgeneem. Omdat ek ’n groot deel daarvan self moes betaal, het ek nie ’n keuse gehad nie. Ek moes geld kry om vir my meestersgraad te betaal, so ek moes hard swot om beurse te kry. Ek het op ’n tyd vyf deeltydse werke gehad. Ek het klas gegee in my honneursjaar, ek het vir koerante geskryf, ek het promosiewerk gedoen. Ek het ook vir ’n tyd lank in ’n drankwinkel gewerk terwyl ek ’n naam as musiekjoernalis probeer maak het. Vir die eerste twee jaar wat ek oor musiek geskryf het, is ek nie veel daarvoor betaal nie. Die geld wat ek wel gekry het, het ek gebruik om na bands te gaan kyk. Ek onthou ek het my eerste onderhoud met FPK in 2004 gedoen. Dit was in die tyd toe ek in die drankwinkel gewerk het. Hulle het een oggend, ná ons onderhoud, daar ingestap. Ek wou as ’n ernstige joernalis gesien word. Toe gaan kruip ek in die drankwinkel se stoorkamer weg terwyl hulle daar was. Ek het hulle later jare daarvan vertel. Hulle het hulle doodgelag.

Wil jy verder studeer?
Definitief. Ek sal graag my doktorsgraad wil doen. Ek is bevoorreg om iets te kon studeer waarvoor ek lief is. Letterkunde en geskiedenis het nie soos inspanning gevoel nie. Ek wou ná my meestersgraad onmiddellik verder studeer, maar ek het gevoel ek moet eers die wêreld in die gesig staar en die boek skryf.

Wat is volgende?
Ek het as kind daarvan gedroom om ’n boek te skryf. Ek het nooit gedink ek gaan dit so vroeg in my lewe doen nie. Dit was altyd iets waarheen ek gewerk het. Nou voel ek soos ’n hond wat die bus gevang het. Wat nou? Nou kan ek seker enigiets doen. Omdat Biografie van ’n bende organies gebeur het, het dit my geleer dat jy nie enigiets uit die lug moet gryp nie. Jy moet jou oë oophou vir die regte geleenthede en dit aangryp.