Vir 50 jaar was dié bekroonde fotograaf se rugbyfoto’s te siene in SA koerante. Niks het hom weggehou van ‘n wedstryd nie. In wind en weer, reën en sonskyn, was Wessel op sy pos. Oorsee het hy en die ander persmense deurgeloop onder betogers en meelbomme toe hulle saam met die Bokke op toer was in Nieu-Zeeland. Selfs dit het Wessel nie ondergekry nie. Dit alles het hy afgeneem en gesorg dat koerantlesers in SA die gebeure ervaar. Hierdie boek is nie net ‘n klomp uitmuntende rugbyfoto’s nie, maar ‘n verhaal van rugby – op en af van die veld. Wessel se uitsonderlike nuussin het gemaak dat hy getekende programme, plakkate en pamflette opgetel en gehou het. Dis ingesluit in die boek saam met nuusfoto’s wat Wessel geneem het waarin hy al die  drama vasgevang het. Sy jarelange verhouding met spelers en rolspelers in die spel het hom toegang gegee tot mense en situasies waar hy sy kamera tot die voordeel van ons almal kon aanwend.

Wessel het self sy boek saamgestel en uitgegee en het besluit om dit 'n ware versamelaarsitem te maak. Daar is net 'n duisend boeke gedruk en die boek is in leer gebind - met die hand. Vir meer inligting oor hoe om 'n eksemplaar van Portrait of Rugby (R4 500) te bestel, kontak info@portraitofrugby.co.za of wesoos@telkomsa.net. Die boek is enige rugbyversamelaar se droom.

Die volgende SMS-boodskap sê alles: “Oompie, hoop dit gaan goed met jou. Ek het vandag jou pragtige lewenswerk/passie onder oë gehad. Dit is ‘n pragstuk van geskiedenis, baie bloedsweet, trane (op en af van veld) en harde werk van jou kant af. Baie geluk, min mense het al so iets op film vasgevat. Groete, Kobus Wiese.”

Al wat ek daarop kan sê, is: Dis inderdaad so. Ek het oor ‘n paar koppies koffie met Wessel gesels oor sy lang en vrugbare verhouding met die kamera en rugby.

Dis ‘n reuseprojek. Hoe lank het dit gevat om die boek saam te stel?

Dit het my agt jaar gevat. Dit was 50 jaar se foto’s waardeur ek moes werk. Dit was ‘n nagmerrie, want ek is glad nie georganiseerd nie. Elke boek is genommer en ek het dit geteken. Dis in Engels omdat dit maar die besigheidstaal is en omdat ek belangstelling vanuit die Engelse wêreld gekry het. Dis ‘n ware versamelaarsitem.

Wanneer het jy die heel eerste keer rugby afgeneem?

1962 op Ellispark, ‘n klubwedstryd tussen Springs en ek dink, Wanderers, maar dit was maar ‘n swak game. Ek jok, ek was saam met my pa Ellispark toe in 1960 vir ‘n wedstryd tussen Transvaal en WP. Ek het die fotograwe langs die veld gesien met lang lense en toe het ek die program opgerol en so voor die lens van die Brownie kamera gehou om te kyk of die foto’s nader kon wees. Ek het toe niks van fotografie geweet nie.

Waar het die liefde vir rugby begin?

Op skool. Ek het vir die vyfde span gespeel saam met ouens wat sulke vreemde name gehad het – Spoeg du Preez,  Swart Joos Scheepers en Vaal Joos Scheepers.

Was dit in die verlede moeiliker om goeie rugbyfoto’s te neem, omdat kameras minder gesofistikeerd was as vandag?

As ek vandag na die foto’s kyk, die foto’s van die vroeër jare sou nie dieselfde storie vertel het as dit so chocolate boxerig soos vandag gelyk het nie. Die sagte, uit fokus foto’s, die grainy foto’s , dis mos deel van daai tyd. En dit sê net meer.

Ek is seker een van die laaste fotograwe in die land wat oorgeskakel het na autofocus. Ek is so gewoond daaraan om self te fokus. Jan Hamman (voormalige Beeld-fotograaf) en ek was goeie pêlle en hy was al lank op autofocus toe kyk hy na my foto’s en sê myne is net so skerp soos syne. Die ding met autofocus is as die ou so bietjie verbyhardloop dan fokus die kamera op die agtergrond en jou onderwerp is uit fokus. En in die ou dae het die mense jou nog met naartjies ook gegooi, daar waar jy langs die veld werk!

Wat is vir jou die grootste oomblik in SA rugby?

Die eerste seksie in my boek noem ek Towering over the world in Paris. Dis vir my ons grootste oomblik in SA rugby. My uitstaan-herinnering aan Wêreldbekerrugby is beslis in 2007 op Stade de France, Parys, toe John Smith die William Webb Ellis-beker omhoog gehou en die goue konfetti op hom neergereën het. Dit was die grootste oomblik in my 50 jaar van rugby afneem. In 1995 het ons nie geweet wat Wêreldbekerrugby is nie. Ons het eers op die laaste oomblik besef wat dit is. In 2007 het ons geweet ons is reg en ons het gegaan om die beker te wen. En ons het dit gedoen. Dis Parys, dis Frankryk, dis alles. Dis die bokke.

Hoe moeilik was dit in die ou dae om jou foto’s by die koerant te kry wanneer jy so op rugbytoere was?

Dit was rof om jou spertye te haal. Ek het baie keer ‘n donkerkamer in die hotel se badkamer geskep. In die boek is ‘n foto van waar ek films so ontwikkel en die toilet as stoel gebruik. Nou is dit baie makliker met ‘n selfoon en ‘n skootrekenaar langs die veld en die perssentrum. Gelukkig van my eerste toer af was daar ander meer gesoute ouens in die game en ons moes saamwerk anders sou ons dit nie kon doen nie. In Nieu-Seeland in 1981 het ek en Nato Barnard saamgewerk. Saterdae het ek hom gehelp. Terwyl hy skiet,het ek solank films ontwikkel en begin stuur. Ons moes partykeer foto’s snelvrag stuur en jy was altyd benoud die pakkie gaan nie by sy bestemming opdaag nie. Vandag met digitaal is dit baie vinniger.

Wanneer was jou grootste panic dat iets sou verkeerd gaan?

Daar was nie ‘n grootste panic nie. Dit was elke keer ‘n moerse panic! Jy het nooit geweet wat jy gekry het voor jy daai film ontwikkel het nie. Jy het nie geweet of daai foto skerp was, of dit oorbelig of onderbelig was nie. Ek was altyd so op my senuwees. Ek het voor ek my films in die ontwikkelaar gesit het, eers ‘n toetsfilmpie deurgesit om seker te maak die chemikalië is reg. By een game het ek eenkeer geskiet, skiet, skiet en ek dog maar moet ek nie nou film omruil nie, toe kom ek agter ek het nie film in my kamera nie. Gelukkig was dit aan die begin van die wedstryd. Weet jy wat doen jy dan? Dan sit jy film in en skiet dubbel so veel as normaal.

En julle het op daardie toere baie toegang tot die spelers gehad in teenstelling met vandag?

As ons oorsee gegaan het, het ons saam met die Springbokke in hul hotel gebly. Ons het hulle leer ken en ons was vriende met die spelers. Deesdae bly die Springbokke in 5ster-hotelle en jy bly iewerste en jy sien hulle net vir tien minute by ‘n oefening of by ‘n perskonferensie en jy mag net met die ouens praat wat op die perskonferensie is. Dis baie anderste nou. Dis meer onpersoonlik as in die verlede.

Jy kon in die verlede seker ‘n band opbou met spelers wat jou gehelp het om lekker foto’s van hulle te neem?

Dis so. Al die ou spelers – Frik du Preez, Mannetjies en Naas. Ek en Naas kom ‘n lang pad. Ek was saam met hom toe hy vir die New England Patriots in Foxborough, Massachusetts, gespeel het en ek het vir hom gaan kuier by die Dallas Cowboys. Maar van deesdae se ouens is daar ‘n paar. Bismarck du Plessis is die een wat ek die beste ken. Die enigste probleem deesdae is die spelers noem my oom!

Was daar baie kompetisie tussen die persfotogawe op toere?

Die hele persspan op toer was almal goeie vriende. Ons het almal grappe gemaak. Ons het almal mekaar gehelp.

Het die koms van professionele rugby ‘n verskil gemaak in hoe jy rugby afneem?

Ja, want daar word deesdae ‘n sitplek agter die pale aan jou toegeken by ‘n wedstryd en dis nou maar waar jy vandaan moet skiet. Jy is baie gelukkig as jy ‘n roving posisie kry. Ons was gewoond om rond te beweeg langs die veld af saam met die spelers en dis hoe ons die lekkerste foto’s gekry het.

Wie is vir jou die beste rugbyspeler wat jy afgeneem het?

Danie Gerber. As hy ‘n bal gekry het, wou hy ‘n drie druk. Hy het reguit gehardloop met die bal, hy het skeef gehardloop met die bal, hy het getackle, hy het als gedoen.