In Saving Chimpanzees (Penguin, R240) vertel Eugene hoe dit sy droom was om iets vir die bewaring van diere te doen en hoe hy per geluk die regte mens ontmoet het. Dié persoon het hom oortuig dat die diere waaraan hy sy lewe moet wy, sjimpansees is.

Reeds in die eerste bladsye van sy verhaal sleep hy jou pens en pootjies in sy avontuur in. Avontuur impliseer opwindende reis. En ja, opwindend is sy reis beslis, maar nie sonder gevare nie. Hy het telkemale wanneer hy sjimpansees gaan red het sy lewe op die spel geplaas, want Afrika en sy korrupte amptenare is onvoorspelbaar. Dan is daar nog wispelturige handelaars wat op die swartmark geld maak uit sjimpansees, en natuurlik die diere self!

Hy beskryf hoe sy droom ‘n werklikheid geword het. Eers het hy ‘n reservaat waar sjimpansees gerehabiliteer en versorg kan word, in die Laeveld gebou. Toe het hy begin om verwaarloosde diere in Afrika en selfs Europa te red. Dis ‘n emosionele reis, want jy kan nie onaangeraak staan teenoor hierdie ape wat so naby aan die mens is nie. Ons deel immers byna 98% van ons DNS met hulle.

Eugene se pogings is merkwaardig. Die amperse mislukking om Cozy uit Italië te red, ‘n besluit om hom uit te smokkel en uit ‘n ander land te laat vlieg, die traumatiese reis deur die Alpe en die uiteindelike tuiskoms in Chimp Eden, waar Cozy opnuut moet leer om mense te vertrou, sorg vir boeiende leesstof. Jy besef ook dit sit nie in elke ou se broek om te doen wat Eugene doen nie. Dit vereis toewyding, deursettingsvermoë en ‘n wil om ‘n verskil te maak. So lees jy van al die ander sjimpansees en hul lewensreis wat eindig by ‘n plek van veiligheid, waar daar hoë bome en blou lug is, geen kettings om hul vas te kluister nie, en bowenal, ‘n diere-familie.

Ek het per e-pos met Eugene oor sy lewensreis gesels.

Waarom het jy ‘n rehabilitasiesentrum vir sjimpansees begin en nie een vir byvoorbeeld renosters nie?

Dit was eintlik ‘n bestiering, want ek was besig om te kyk na verdienstelike bewaringsprojekte. In hierdie tyd het ek iemand van die Jane Goodall-instituut ontmoet wat my oortuig het van die benarde situasie waarin sjimpansees is. Ek het met die instituut saamgespan en dit het gelei tot my ekspedisies om sjimpansees te red en te rehabiliteer. Die res is geskiedenis, kan jy maar sê! Om eerlik te wees, ek kon net sowel ‘n reservaat vir renosters begin het, maar dit was nie die geleentheid wat my gebied is nie. Ek is ‘n godsdienstige mens en glo ek was bestem om iets vir die groot ape te doen.

Wat maak sjimpansees so uitsonderlik en spesiaal?

Buiten die wetenskaplike feit dat hulle meer as 98% van ons DNS deel, is hul intelligensie byna sonder gelyke. Wanneer jy met hulle werk, is dit ‘n baie lonende ondervinding, want hul intelligensie stel hulle in staat om dankbaarheid en vriendskap te wys – veral teenoor dié wat hulle herken as deel van hul reddingspoging en herstelproses. Ek glo dis nie iets wat 'n mens noodwendig so sterk sal ervaar by minder intelligente spesies nie.

Jy het baie blootstelling gehad met die TV-reeks Escape to Chimp Eden. Waarom wou jy juis ‘n boek skryf?

Televisie het ‘n spesifieke gehoor en dis nie noodwendig dieselfde gehoor as die een wat sou belang stel om Saving Chimpanzees te lees nie. Vir my was televisie baie beperkend in hoe ek my emosies kon beskryf. Daar was ook altyd beperkings wanneer ons my ervarings tydens reddingstogte moes verfilm. Die boek vertel van al my ervarings reeds voor die kameras in my lewe gekom het, asook die verhaal van die moeilikste missies wat ek vroeg in my loopbaan moes uitvoer.

Hoe moeilik was dit om die boek te skryf in vergelyking met dit wat jy vir televisie doen?

Dit was baie lonend om die boek te skryf, want só het ek al my ervarings en al die emosies wat ek daardie tyd ervaar het, weer herleef. Terwyl die woorde uit my pen gevloei het, het ek soms hardop gelag; ander kere het die trane maar vlak gelê. Dit was nie moeilik om die boek te skryf nie, want my herinneringe is so intens.

Jy was ‘n gas op ‘n hele paar TV-programme, onder meer Ellen DeGeneres en The Tonight Show with Jay Leno. Was daar reaksie van kykers en dink jy dit het ‘n impak gehad?

Ek dink die geselsprogramme het bygedra tot my internasionale profiel en het ‘n bewustheid geskep van die reservaat. Ek het beslis die meeste pret gehad op Ellen se program. Tog het ek baie goeie vriende gemaak by die Tonight Show, want hulle is ‘n fantastiese groep mense. Hierdie programme het baie goeie kykergetalle, maar ek glo die ontbytprogram The Today Show het baie mense bereik, want kort daarna het derduisende mense Animal Planet begin kyk.

Is jy steeds betrokke by televisie-werk?

Nadat ek die boek voltooi het, het ek opnuut begin fokus op nuwe televisie-konsepte. Die boodskap wat ons uitgestuur het met Escape to Chimp Eden, moet nou weer verander word, want tye het verander. Die geheim is om iets nuuts aan te bied wat kykers vasgenael voor die kassie sal hou. Ek hoop om binnekort terug te gaan in produksie.

Hoe het die redding van sjimpansees jou op ‘n persoonlike vlak verander?

Ek kan met eerlikheid sê dat dit my in die begin só beïnvloed het dat ek my vertroue in mense vir ‘n ruk lank verloor het. Met elke tree wat ek gegee het tydens my missies was daar menslike inmenging en obstruksie wat in die pad van die suksesvolle uitvoering van my taak gestaan het. My deursettingsvermoë was al wat gehelp het dat ek my take kon uitvoer. Ek het ‘n groeiende woede ontwikkel, iets waarvan ek nou eers herstel omdat ek minder reddings doen. Die laaste een was meer as ‘n jaar gelede.

Dink jy ons kan regtig ‘n verskil aan die bewaring van diere op die lang duur maak?

Ons het beslis die vermoë, mits die regering nie soveel hulpbronne in sy militêre magte belê nie. As ten minste 1% daarvan in bewaringsprojekte van byvoorbeeld die groot ape ingeploeg word, kan ons ‘n beduidende verskil maak.

Met watter een van die sjimpansees het jy ‘n hegte verhouding en waarom?

Ek het ‘n spesiale vriendskap met Cozy. Hy lyk altyd asof hy uit sy pad gaan om my met oorvloedige geesdrif te groet. Ek dink dis deels omdat ek sy dramatiese reis en transformasie van ‘n verwaarloosde dier tot een wat ek met trots ‘n volwaardige sjimpansee kan noem, gedeel het.

Jy neem ywerig deel aan ekstreme sportsoorte soos valskermspring, skubaduik en rotsklim. Het dit jou enigsins gehelp in die werk wat jy met sjimpansees doen?

Dit gee my die nodige vaardighede om sekere hindernisse te oorkom. Omdat ek byvoorbeeld self kan vlieg, weet ek watter beperkings bepaalde vliegtuie het en wat gepas sal wees wanneer dit kom by reddingspogings op verskillende terreine, asook wat die beste ontsnaproete moet wees. My klimvaardighede is ‘n groot voordeel wanneer ek saam met die sjimpansees klim, en ook om die woude in stand te hou in die kampe op die reservaat. My ondervinding van om in Afrika te reis het my die vaardigheid gegee om rondom menslike obstruksies te onderhandel. Dít dink ek is my beste vaardigheid.

Het jy tydens jou werk met sjimpansees ‘n ervaring gehad waar jy gevoel het jou lewe is op die spel? 

Ek het, buiten vir ‘n paar ekspedisies, elke keer bedreig gevoel. Soms het die bedreiging gekom van die dier waarmee ek gewerk het, wat geen vertroue in mense het nie en wat nie sou huiwer om my uit woede dood te maak nie. Ander kere was dit wanneer ek voorgegee het ek is ‘n handelaar om sjimpansees wat in die sluikhandel verkoop word, te vind. Dis belangrik om te noem dat dit my nie afgeskrik het nie, maar gemotiveer het om die ongeregtigheid te probeer regstel. Dit was meer die burokratiese obstruksies wat my ontmoedig het.

Hoe moeilik is dit om sjimpansees suksesvol te red uit lande waar die regerings korrup is?

In Libanon was dit ‘n faktor, maar soos my ervaring gegroei het, so het ek ook geleer om dit te hanteer. Korrupsie kom algemeen voor en dit is beslis iets waarteen ons moet veg om hierdie oorlog te wen. Daar is egter ook amptenare wat hul werk met integriteit en waaksaamheid doen. Hulle is ongelukkig in die minderheid en daar is ‘n behoefte aan beter polisiëring. Dit sal net gebeur deur groter druk uit die internasionale gemeenskap en meer finansiële hulp. 

Wat was die moeilikste reddingspoging waarby jy betrokke was?

Dis ‘n moeilike vraag, maar ek sou sê die reddings van 5 sjimpansees uit Angola. Dit moes oornag gebeur. Die boek vertel die volle verhaal van hoe ek kratte moes bou, burokratiese elemente moes  bestuur, onmoontlike logistiek moes reël, en lojale, vindingryke vriende moes bymekaar kry om te help met hierdie 72 uur van “geen-slaap-en-kan-nie-stop-nie”- uitreik. Ironies genoeg moes ek ná my aankoms in Suid-Afrika, toe ek drie-uur die oggend uit kwarantyn stap, regstaan vir die voorbladfoto van hierdie boek, omdat die kameraman van Animal Planet wat 'n beperkte skedule gehad het, sewe-uur weer moes vertrek.

Hoe betrokke is jou familie by dit wat jy doen?

My familie, ingenieurs en bouers van beroep, het die reservaat gebou (dis nogal groot). Sonder hul hulp sou die projek nie moontlik wees nie. My vrou, Natasha, is ook betrokke en help my met my verantwoordelikhede om JGI Chimpanzee Eden te bestuur. Dit beteken dat ek nie meer met die sjimpansees werk op ‘n daaglikse basis nie, maar fokus op die bestuur van die reservaat.

Hoe ontspan jy?

Die beste manier om te ontspan is om alleen in die reservaat te stap, en as die tyd dit toelaat, kom my gesin soms saam. Die bos en diere wat nie ‘n vrees het vir hul menslike oppassers nie, laat my herleef.

Dink jy sjimpansees besef daar is ‘n spesiale verhouding tussen hulle en die mens?

Ek dink nie dié verhouding bestaan tussen die mens en wilde sjimpansees nie, en ek dink ook nie wilde sjimpansees sal dit spesifiek ondersoek soos ander diere uit die natuur soos byvoorbeeld die wolf nie. Nogtans, wanneer sjimpansees in ‘n reservaat gekonfronteer word deur mense wat op verstaanbare vlak met hulle kommunikeer, dink ek daar is geen twyfel dat hulle die mens as ‘n vriend sal aanvaar en selfs sal insluit in ‘n groep nie. 

Wat is die vooruitsigte vir sjimpansees om in die natuur te oorleef, of sal daar ‘n tyd kom dat sentrums soos joune die enigste plek sal wees waar hulle betekenisvol kan voortbestaan?

Daar is heelparty ander spesies, soos die wildehond,waarvan die getalle baie laer is en wat op die rand van uitsterwing is. Ons het darem nog tyd aan ons kant om te verseker dat die geveg om oorlewing vir die groot ape nie verlore is nie. Dis ‘n geveg wat die mens nie kan bekostig om te verloor nie en ek wil glo dat die mensdom ‘n punt sal bereik waar meer gedoen sal word om die groot ape te red. Dit kan gedoen word deur op te hou om hul habitat te verwoes en deur deeglike wetgewing en polisiëring. Ek dink nie ons is al daar nie en dinge in Afrika raak al hoe moeiliker soos wat finansiële hulpbronne krimp.

Het jy enige idee wat met Bubbles, die sjimpansee wat aan Michael Jackson behoort het, gebeur het?

Bubbles is tans by die Center for Great Apes in Florida.

Is daar ‘n ekspedisie in jou nabye toekoms?

Die werk aan die reservaat sal voortgaan solank dit volhoubaar is. Daar is tans geen reddingspoging op die horison nie, want ons is besig om nuwe kampe te bou. Sommige van my persoonlike ondernemings sal egter wel ekspedisies insluit om bewustheid aan te wakker. Maar meer inligting hieroor sal eers later bekend gemaak word.