Sy vrou probeer by Paige, ‘n private speurder, aanklop om te help om nuwe getuienis voor te lê wat sy saak kan beredder. Ramon se vrou word voor Paige vermoor. Dan word Paige die volgende teiken van die sluipmoordenaar.

‘n Hele web van intrige ontvou en jy word voorgestel aan karakters wat almal op die een of ander manier aan die sluipmoord en Ramon se skuldigbevinding verbind kan word. Daar is korrupte polisiemanne, prokureurs en vroue wat een vir een vermoor word, wat op die oog af lyk asof hulle buite die ware gebeure staan.

Grayson is die staatsaanklaer wat destyds vir Ramon tronk toe help stuur het en Paige nader hom om die saak weer te help ondersoek. ‘n Romanse ontwikkel (natuurlik!) tussen hulle, maar dit vuur net hul soektog na die ware skuldiges aan. In die soektog leer ken jy Grayson se familie en sy donker agtergrond. Die kinkel in die verhaal lê by ‘n korrupte oud-senator en sy vrou en ‘n moord wat jare gelede op hul landgoed plaasgevind het en aan Ramon toegedig is. Maar wat is nou eintlik die waarheid?

Dis ‘n boeiende avontuurverhaal met genoeg stomende romantiese tonele om te sorg dat jy nie jou naels tot in die lewe afkou nie.

Ek het Karen Rose in Johannesburg ontmoet tydens haar onlangse besoek om dié boek, No One Left to Tell (Headline, R225,95), bekend te stel. ‘n Gesprek van 'n uur het vinnig ontaard in ‘n twee uur lange een. Sy is ‘n fassinerende mens wat haar absoluut inleef in haar skryfwerk. Ek deel ‘n paar van die dinge waaroor ons gepraat het met julle.

Jy het as ‘n chemiese ingenieur gewerk. Hoe het jy by skryf uitgekom?

My ouers het onlangs hul solder reggepak en op ‘n storie afgekom wat ek as kind geskryf het, nogal ‘n moordverhaal. Ek het nooit aan skryf as ‘n beroep gedink nie. As ingenieur het ek baie gereis en omdat ek bang was om te vlieg het ek gelees om van die angs te ontsnap – raaiselverhale en romans. Al hoe meer het ek tonele in my kop sien afspeel. Ek wou net hê dit moes weggaan. Toe ek eendag met vakansie was, het ek die tonele begin neerskryf, miskien sou dit uit my kop verdwyn. Een toneel het toe ‘n boek geword. Ek het nooit geskryf om te publiseer nie, suiwer vir my eie plesier omdat ek so gek was na die storie wat in my kop gedraai het. Omdat ek geen druk gehad het nie, was dit my eie klein guilty pleasure.

Hoe het jy dit reggekry om ‘n gepubliseerde skrywer te word?

Ek het omtrent 5 jaar aan my eerste boek gewerk, totdat Martin, my man, gesê het ek moet iets daarmee doen, want ek het soveel tyd en energie daaraan bestee. Hy het met ‘n boekie, nogal met ‘n pienk roos op die buiteblad, by die huis aangekom wat verduidelik het hoe jy jou roman moet bemark. Ek het heelwat afkeurbriewe gekry, maar nie aakliges nie. Byvoorbeeld: Ek hou van die karakters, maar maak die tempo vinniger. Ek sou nooit my verhale probeer gepubliseer het as dit nie vir Martin se ondersteuning en sy geloof in my was nie. Ná my eerste poging het ek nog twee boeke geskryf. In 2003 is een uiteindelik in die VSA aanvaar en gepubliseer. Ek was deel van ‘n pakket van skrywers wat saam bemark is. Gelukkig vir my, want dit was ‘n klomp bekende name en so is ek van die eerste dag af gevestig.

Hoe het jy gevoel toe jou eerste boek gepubliseer is?

Toe ek dit die eerste keer in 'n boekwinkel sien, het ek gehuil. Dit het my getref dat mense my boek gaan lees. As dogtertjie het ek altyd hierdie ding gehad dat ek maar goed in my kop kon dink, omdat mense nie daarvan sou weet nie. Nou was daar geen privaatheid meer nie, want stukkies van my is in my boeke.

Hoe skryf jy?

Ek is ‘n binge skrywer. Ek raak manies en dan skryf ek aaneen, aangevuur deur gaskoeldrank. My gesin weet hulle moet my dan uitlos. Ek het gewoonlik soveel koeldrankblikkies op my lessenaar dat ek die Chinese muur kan bou.

Waar kom die idee vir No One Left to Tell vandaan?

Elke boek begin op ‘n ander manier. Soms is dit met die karakters. Ek ken hulle en wil dan weet wat die ergste ding is wat met een van hulle kan gebeur. Hierdie is boek twee in ‘n reeks van vier en ek het reeds die storie uitgestippel vir die reeks. Ek het eintlik al geweet wat Paige in die boek sou doen, maar Grayson se doen en late was vaag. Ek het hom as karakter nog nie so goed geken nie. Ek het ‘n fliek gesien waarin ‘n aanklaer uitgevind het hy het ‘n onskuldige man skuldig bewys en alles wat daarna gebeur het. Dit het my laat wonder hoe iemand wat regtig ‘n goeie mens is, sou optree as hy uitvind hy het ‘n onskuldige man vir jare tronk toe gestuur. Die blote idee dat dit met enigeen kan gebeur, is skrikwekkend. Dít het Grayson se verhaal afgeskop en sy optrede het natuurlik ‘n effek op ander karakters in die boek. Wat heerlik is van ‘n boek, is ek kan daardie effek ondersoek.

Dis ‘n gekompliseerde storie met baie karakters. Hoe hou jy tred met almal terwyl jy die boek skryf?

Wanneer ek die storie voorlê, weet ek al wie die karakters is, waar hulle vandaan kom en hoe hulle gaan optree. Soms gebeur iets wat ek nie voorsien het nie. Adele se karakter het my verras. Ek het geweet sy gaan in die boek wees, maar nie dat sy so belangrike karakter word nie. Haar storie het tydens die skrywery net self sy loop geneem. In my boek is ‘n klomp goed verbind en as een stukkie ontbreek, val die storie plat. As Adele nie in die boek was nie, sou Paige en Grayson nie by die hele waarheid kon uitkom nie. Ek het nie ‘n verteller in my boek nie en daarom moet ek karakters gebruik om die storie te vertel. Die baie karakters vertel die verhaal deur die verbintenis wat hulle het.

Daar is ‘n hele spul temas in die storie – korrupte regsmense en polisiemanne, die dinamika in ‘n familie wat by die politiek betrokke is. Is die deurlopende een die eienaardige verhouding tussen die senator en sy vrou?

Sy is sleg van die begin af. Sy gee toe aan haar perverse man se siek gewoontes. Ek is nog altyd geïnteresseerd in waarom party mense wat mishandel is, self begin om ander mense te mishandel en waarom ander weer gedryf word om mense te beskerm. ‘n Taktiek om jou skurk meer vreesaanjaend te maak, is om jou slagoffer meer menslik te maak. Die senator se vrou wíl die geld en status hê, daarom bly sy by hom. Sy kón hom los, maar sy het nie en dit maak haar erger as hy. Haar storie raak soveel ander karakters in die verhaal.

Holly, Grayson se suster, is gestremd. Hoe belangrik is dit vir haar karakter?

My dogter is doof en ek is doof in my een oor. Ek probeer om oor gestremdhede te skryf sodat dit net nog ‘n karakter in die boek is wat iets vir die verhaal beteken. My eerste doelwit is om my lesers te vermaak. Maar as ek hulle in die proses kan help om meer insig te kry in ‘n spesifieke gestremdheid, waarom nie? Ek het myself nooit beskou as iemand wat ‘n platform het om dinge te sê nie, maar ek het ‘n stem en ek kan dit gebruik. As ek iemand in die proses kan help, sonder om prekerig te wees, des te beter.

Daar is ‘n goeie skeut romanse en seks in jou verhale. Is jy bekommerd oor hoe lesers daarop sal reageer?

Nee, daar is baie erger boeke op die mark. My boeke is stomend, maar dis ook ontsnapping vir die lesers. Ek hou daarvan dat daar hierdie twee mense is wat verlore is en mekaar dan vind, en hulle het mekaar nodig om die skurk in die verhaal aan die kaak te stel. Ek kombineer graag die romanse met die spanning in my verhale.