As jy ‘n ster sien verskiet (Tafelberg, R120) vertel Riekie Taylor se verhaal en die issues waarmee sy te kampe het in haar jong lewe. Nou wie is Riekie eintlik? Sy woon in Graaff-Reinet saam met haar geskeide ma en haar ouer broer wat siek is weens vigs. Haar enigste kontak met haar pa is die tjeks wat sporadies daar aankom vir onderhoud. Sy is geskors uit die skool omdat sy haar hare gekleur het en dis teen die reëls. Boonop het sy dagga gerook en is uitgevang. Moenie dink dis die ergste nie – haar ma is ‘n alkoholis en self ‘n daggaroker. Ja, dink jy teen hierdie tyd, onwaarskynlike storie.

Dink weer! Dit gebeur dalk nie in jou huis nie, maar daar is baie ander huise waar tieners met hierdie soort goed te doen kry. Dis wat Riekie se verhaal relevant maak en ‘n moet-lees is vir ma’s en alle tieners. Hier is ‘n hele warboel hedendaagse kwessies wat aangeraak word op so 'n manier dat dit nie in jou keel afgedruk word nie. Dit laat jou besef hoe die lewe van die jeug verander het.

Die verhaal vertel ook hoe Riekie hierdie goed hanteer, hoe sy moeg is vir haar ma se apatiese houding en dat sy wat Riekie is dit nie meer in haar lewe wil hê nie. Wat is haar oplossing? Sy loop weg om haar pa in die Kaap te gaan soek, want, dink sy, dis dalk die oplossing vir haar gekweste lewe. Ongelukkig weet sy nie waar haar pa is nie, want sy het nie ‘n adres nie. Na ‘n motorongeluk haak sy vas by ‘n Golden Egg-restaurant in Laingsburg en moet sy noodgedwonge in die vulstasie se kleedkamers bly. Hierdie is ‘n ervaring wat 'n mens geen kind toewens nie. Die verhaal loop sy loop en uiteindelik besluit Riekie om terug te gaan huis toe, want haar broer se baba word goedsmoeds by haar ma afgelaai – ‘n baba waarvan niemand bewus was nie. En intussen is haar broer dood, en redeneer Riekie, wie gaan na die kind kyk as sy nie daar is nie? Haar ma het hulp nodig.

Die probleme kom soms effe gedwonge voor, veral dié van Riekie se onuithoudbare ma. Maar dit bly steeds ‘n baie relevante boek. Maya Fowler is ‘n vars skrywerstem wat nie skroom om kwessies aan te raak nie. Ek sien uit na nog boeke uit haar pen. Ek het per e-pos met haar gesels oor haar Afrikaanse boek en haar debuut, The Elephant in the room, wat in 2009 deur Kwela gepubliseer is.

Wanneer het jy die eerste keer geweet jy wil ‘n skrywer wees en waarom?

Eintlik wou ek my hele lewe lank al skryf, maar tot op 27, toe my eerste manuskrip aanvaar is, was ek te bang om dit aan myself of enigiemand anders te erken. Maar ek onthou my eerste poging was in Sub B. Ek het op helderpienk papier geskryf. Dit het gegaan oor perde. Wat hoofsaaklik pienk was! Ek weet nie wat daarvan geword het nie. Van die dae van slaaptydstories is ek versot op stories en boeke. Toe koop my ma vir my Rubicon se Storieman-reeks, en daarmee was die koeël deur die kerk.

Jou eerste boek, The Elephant in the Room,  was in Engels. Waarom?

Ek skryf maar agter my karakters aan. Ek werk ewe gemaklik in Engels en Afrikaans. Op die oomblik is ek weer besig met ‘n Engelse stuk, maar het ‘n Afrikaanse jeugmanuskrip wat by Maskew Miller Longman lê – ‘n finalis in hul jeuglektuurwedstryd van vanjaar.

Daarin kyk jy na ‘n tiener se eetsteurnis. In jou nuwe boek het Riekie ‘n probleem met dagga en selfbeeld. Waarom juis die temas van verslawing?

Dit bly maar ‘n ding wat die verbeelding aangryp. Met Elephant wou ek veral ondersoek hoe en hoekom iemand hulself willens en wetens soveel skade berokken. Dit blyk dat die verslawing op ‘n verwronge manier vriend sowel as vyand is. Maar met Riekie dink ek dis meer eksperimentering as verslawing. Alhoewel haar ma wel ‘n alkoholis is . . .

Dis nogal swaar temas. Het jy ‘n spesifieke belangstelling daarin en voel jy genoop om daaroor te skryf?

Ek glo skrywers hoef glad nie weg te deins wat mens as “swaar” temas kan beskou nie, want lesers vind aanklank daarby. Almal ken iemand wat iemand ken met wie sulke goed gebeur het. En dit skep die potensiaal vir spanning in ‘n verhaal! As iemand aan iets verslaaf is, of geheime hou, of in die stilligheid vir iets of iemand die hel in is, gaan daar mos iewers ‘n ding ontplof!

Dit gaan ook eintlik oor verhoudings. Hoe het jy besluit watter tipe verhoudings Riekie met die ander karakters moet hê?

Dis iets wat mettertyd tydens die skryfproses uitkom. Dis moeilik om te verduidelik hoe dit gebeur. ‘n Mens se verbeelding gaan mos maar op hol. Met Elephant was dit wel meer aspris. Daar wou ek wys hoe mense op mekaar druk oefen. Maar hier . . .  Ek het maar net begin met hoekom Riekie moerig was met haar ma, en dit van daar af gevat.

Wie wil jy bereik met hierdie verhale?

Enigeen wat graag ‘n tydjie lank in ‘n ander wêreld wil wegkruip, speel of afloer.

Jy het op Graaff-Reinet grootgeword. Watter rol het dit gespeel in waar Riekie se verhaal afspeel?

Hoe meer ek daaroor dink, hoe liewer word ek vir dié dorp. Ek het dit geniet om die landskap, wat ek op die ou end beter ken as wat ek gedink het, te beskryf. Dit was lekker om Riekie op plekke te sit waar ek al self was, en dit wakker die geheue aan. Toe ek die dorpswembad beskryf, onthou ek byvoorbeeld dat ek Red Dust met Hilary Swank gesien het, en daar was ‘n toneel waarin sy ‘n kliënt by die swembad spreek. (Die fliek is op Graaff-Reinet geskiet.) Toe kon ek dit ‘n Riekie-herinnering maak.

Moes jy navorsing doen om Riekie se verhaal te kon vertel?

Met dié een het ek werklik net met my verbeelding gewerk, en met my herinneringe aan die landskap. Ek het bitter min tyd gehad om dit te skryf (voor die wedstryd-sperdatum), en ek was in die bed met griep daai tyd. Ander boeke, soos Elephant, en die manuskrip wat ek pas ingelewer het, vat wel maande der maande se navorsing.

Waar kom jou inspirasie vir Riekie se karakter vandaan?

Dit was ‘n kombinasie van ‘n cheeky stem wat eendag in my verbeelding te voorskyn gekom het en die gegewe dat een of twee mense in my skool destyds in hengse moeilikheid beland het oor hare kleur en dagga rook. Toe het ek begin speel met hoekom mens op veertien sulke goed doen. Ek was nie tevrede met die “net-vir-pret”-verklaring nie, want dan sit jy met ‘n foto, nie ‘n boek nie.

Wat sou jy sê, is die grootste struikelblok wat Riekie moet hanteer?

Seker maar om te aanvaar dat mens soms jou trots in jou sak moet steek.

Hoe skryf jy? Het jy ‘n ritueel?

Ek werk met ‘n woordtelling. Ek mag nie opstaan tot ek klaar is nie. Met Elephant was dit 500 woorde ‘n dag. Met die goed wat ek op die oomblik doen, is dit 2 000 woorde ‘n dag. ‘n Mens kan meer doen as wat jy dink ...

Jy werk daagliks met die versorging van taal. Maak dit jou baie krities teenoor jou eie kreatiewe skryfwerk?

Ek laat myself eers ná die skryf toe om krities te wees. As jy gaan puntenerig wees oor elke woord terwyl jy skryf, is dit soos om bult-op te ry met jou handrem aan. Die getimmer en geskaaf kom eers later, wanneer jy jou eie werk redigeer, voordat jy dit aan die uitgewer voorlê. En dán moet mens maar hard wees op jouself.

Wat lees jy?

My gunsteling-boeke bly To Kill a Mockingbird van Harper Lee en The Bluest Eye van Toni Morrison. Ek is ook ‘n groot bewonderaar van Marlene van Niekerk, Jeanne Goosen, Marié Heese en Gabriel García Márquez. Maar op die oomblik lê Inkheart van Cornelia Funke op my bedkassie.

Beste boek en waarom?

To Kill a Mockingbird van Harper Lee, omdat dit ‘n storie is wat mens diep raak, en wat jou vir ewig bybly. Dit het my hardop laat lag, en op ander kere met ‘n knop in die keel gelaat. Dis regtig ‘n asemrowende boek, en dit het my wêreldaanskouing verander.

Hoe ontspan jy?

Ek lees goed wat ander mense geskryf het, ek gaan stap, hang met katte uit en droom van sneeu.

Is jy besig om aan iets nuuts te werk?

Ek is besig met ‘n nuwe jeugboek.