Hoe het jy begin om kinderboeke te skryf?
Toe ek my eerste boek begin skryf het, het ek nooit regtig gedink vir wie ek dit skryf nie. Ek het net my ervarings (vermeng met prettige karakters wat ek geskep het) op papier uitgestort . . . Ek vermoed die waarheid is daar's ‘n kind in elkeen van ons. Ek het geskryf wat ek graag wou lees, en dit lyk my dis kinderverhale.

Waaroor gaan jou eerste boek?
My eerste boek, Houdini's Adventure, is ‘n ware verhaal oor ‘n jong seekoeimannetjie wat in 2004 uit die Rondevlei Natuurreservaat ontsnap het en op ‘n staptog na die nabygeleë woonbuurt Zeekoevlei gegaan het. Met Houdini het ek net oor al my ervarings geskryf, maar met Allie (Allie makes a difference, my tweede boek), het ek baie meer gedink oor die boodskap agter die verhaal. Altwee boeke grens aan opvoeding oor omgewingsbewaring. ‘n Integrale deel van my skryfwerk is die laaste hoofstuk heel agter in my boeke waar lesers voorgestel word aan die ware karakters, mense en plekke oor wie ek in die verhaal skryf.

Allie is die eerste van ‘n reeks?
Ja, my redakteur, Diane Rowell van Don Nelson-uitgewers het ‘n reeks voorgestel nadat ons die manuskrip van Allie gefinaliseer het. Die idee is om aan te hou boeke skryf wat kinders sal inlig oor wat hulle kan doen om ons planeet te help bewaar.

Hoe is die WWF betrokke by jou boek?
Die WWF het die boek onderskryf saam met, ek dink, 13 ander organisasies. ‘n Volledige lys van onderskrywers verskyn in die eerste paar bladsye van my boek. Die WWF was ook betrokke by die bekendstelling van die boek en dr. Morné du Plessis, die hoof- uitvoerende beampte, het die boek bekend gestel.

Waarom het jy ‘n albatros as die hoofkarakter gekies?
Ek is nie helemal seker nie! Die idee om oor ‘n "wandering albatross" te skryf het ontstaan toe ek besig was om Houdini klaar te maak. Die grootste uitdaging was dat ek nog nooit ‘n albatros gesien het nie, wat nog te sê van ‘n "wandering albatross" en ek skryf graag uit eie ondervinding! Ek het baie gehoor van die voëls se benarde situasie uit wat in die media daaroor verskyn het en ek wou meer weet en terselfdertyd dit wat ek geleer het met ander deel.

Hoe het jy jou navorsing benader, aangesien jy toe nog nooit ‘n albatros gesien het nie?
Ek het navorsers wat albatrosse bestudeer, genader en ook mense wat direk betrokke is in die visvangbedryf. Ek het ook gepraat met mense wat betrokke is by die opvoeding van vissermanne oor die redding van seevoëls en skilpaaie. Ek was ook vir ‘n maand op Marion-eiland saam met dr. Marienne de Villiers. Sy doen navorsing op albatrosse.

Wat wil jy bereik met Allie se storie?
Ek wil graag bewusmaking skep. Elkeen van ons kan ‘n verskil maak, een tree op ‘n slag, maak nie saak hoe klein die treetjies is nie.

Hoe kan ouers bydra tot hul kinders se houding oor omgewingsbewaring?
Bewusmaking, opvoeding en ondervinding. Ek weet deesdae is dit vir ouers onmoontlik om by alles uit te kom wat hulle veronderstel is om te doen. Ek onthou hoe ek as kind alleen saam met my jonger broer berg op is en selfs af see toe. Ongelukkig het tye verander en is dit nie meer vir ouers veilig om hul kinders toe te laat om sulke ekskursies alleen aan te pak nie. Ek wil ouers aanmoedig om soveel tyd moontlik saam met hul kinders deur te bring en die wonder van die natuur en die omgewing aan hulle te wys.

Waaraan werk jy nou?
Hopelik sal ek in die nabye toekoms kan sê! Ek het baie idees, maar min tyd om te skryf. My skrywery vir kinders is iets wat ek vir die pret doen. Ek en my man het ‘n besigheid. Hy bou kaste en ek bedryf dit.