Hy is lank, langer as die outydse ses voet, sterk en het ‘n gesonde sonbruin gelaat. En die eerste ding wat jou opval, is die vriendelike oopheid waarmee hy sy hand uitsteek om kennis te maak. Binne sekondes voel dit of ons mekaar al lank ken so gemaklik is die gesprek op die stoep van die gastehuis in Houghton, Johannesburg.

Die gekwetter van die voëls laat my ook sommer dink ons is iewers in die veld aan die gesels, weliswaar in luukse veld-akkommodasie! Ek het onlangs maar eers kennis gemaak met Tony se skryfwerk en was van die eerste woord ‘n verslaafde. Hy skryf aksie-spanningsverhale, met net genoeg romanse om dit warm te hou - en die bonus is, sy verhale speel af in Afrika. Ek kon onmiddellik met die omgewing en die kwessies wat hy aanraak, identifiseer.

In sy mees onlangse boek, The Delta, draai die verhaal om die hoofkarakter, Sonja, wat in Botswana beland. Sy is ‘n "huursoldaat" wat in Afrika is om ‘n sluipmoord uit te voer op ‘n korrupte president van Zimbabwe. Dinge loop skeef, want soos te wagte is daar ‘n gekonkel deur die persoon wat haar gehuur het. Sy vlug na Botswana en kom so weer in aanraking met ‘n ou liefde uit haar verlede. Sy raak betrokke by ‘n revolusionêre groep wat beplan om ‘n omstrede dam wat gebou word, op te blaas. Intussen ontmoet sy ‘n Amerikaanse realiteitsreeks aanbieder, nogal met die naam "Coyote Sam", wat vir meer aksie sorg. Dinge gebeur vinnig in die verhaal en mens word meegesleur. Die gebeure is geloofwaardig en al is dit fiksie, is dit nie onwaarskynlik dat hierdie goed kan gebeur nie.

Ek het ook sy boek Silent Predator gelees. Die gebeure in die boek is, soos die Engelse sal sê ''a bit close to home''. Dis ‘n boeiende drama oor ‘n Britse minister wat ontvoer word, terwyl hy in SA is en hoe die saak ondersoek word en al die polisie-korrupsie wat tydens die ondersoek oopgekrap word. Verder is daar kwessies van mensehandel. Al was dit na aan my vel kon ek nie ophou lees nie. Na die lees van die boeke was ek baie nuuskierig om te sien hoe hierdie Australiese skrywer lyk en waarom hy so intens betrokke is by gebeure in Afrika. Ek het ‘n paar insigte gekry uit die antwoorde op my vrae.

Wanneer het jy begin skryf en waarom juis aksie-spanningsverhale?
The Delta is my sewende boek. Ek het onlangs van uitgewer verander en Quercus gee al my ou boeke weer uit. Dis almal aksie-spanningsverhale en al my verhale speel af in Suider-Afrika. Ek en my vrou, Nicola, het in 1995 vir drie weke vakansie na SA gekom en gedink ons sou ‘n lekker vakansie hê en teruggaan Australië toe. Ons is egter gebyt deur die Afrika-gogga en ons wou graag terugkom. Ek wou altyd ‘n roman skryf en het ernstig begin skryf in 1998, en natuurlik in ‘n genre wat ek graag sou wou lees. Ek hou van aksie, spanning en so bietjie romanse wat bygemeng is. In 1998 het ek my werk as joernalis en skakelbeampte bedank om voltyds te skryf. Ek het probeer skryf in ons woonstel in Australië, maar dit het nie lekker gewerk nie. Ons het vanaf 1995 elke jaar in Suider-Afrika kom toer. My skryfproses het per ongeluk gebeur terwyl ons op reis was en ek het besef dit pas my soos ‘n handskoen. Dis een van die redes waarom my verhale ook afspeel in die verskillende bestemmings waar ons reis.

Waarom wil jy juis Afrika as die bestemming gebruik vir jou verhale?
Mens het inspirasie nodig om te skryf en ek is net meer geïnspireer deur Afrika as deur my tuisland. Daar is baie ooreenkomste tussen Afrika en Australië - die landskap, leefstyl en die liefde vir die buitelewe. Maar ek vind die landskap en bos en die natuurlewe hier steeds meer interessant. Alles is hier groter as lewensgroot en die mense wat ek ontmoet, gidse, jagters, polisie en ander mense, hulle stories is so ongelooflik. Meeste van die stories sal ek nooit in my boeke kan gebruik nie, want mense sal dit nie glo nie. Hulle sal dink ek maak dit op, so vreemd is party.

Vir wie skryf jy?
As ek eerlik moet wees, eintlik vir myself. Ek is baie selfsugtig. Ek het nie ‘n plot voor die tyd nie. Ek dink die storie uit soos wat ek aangaan. My doel is om myself te amuseer terwyl ek skryf. Ek dink as ek myself kan geïnteresseerd hou in die proses van die verhaal skep, is ek seker my lesers sal dit ook geniet. Toe ek begin skryf het, was ek vas oortuig dat ek vir mans skryf, omdat ek so fokus op aksie. Wat ek deur die jare geleer het, en my uitgewers het dit bevestig, meeste van my lesers is vrouens. Ek het al vrouekarakters in stories gehad, maar ek wou graag die hoofkarakter in The Delta ‘n vrou maak. So het Sonja gestalte gekry.

Politiek vorm nogal ‘n basis vir jou verhale. Het jy ‘n belangstelling in Afrika-politiek?
Ek is baie bewus daarvan om nie my boeke as ‘n soap box te gebruik om te preek oor Afrika-politiek nie. Maar politiek is iets waaroor daagliks in Afrika gepraat word. Mense op dié kontinent is meer bewus van politiek, juis omdat regeringsbesluite hier mense direk raak. In lande soos Australië het ons probleme en probleme met ons politici, maar dit affekteer ons lewe nie so erg soos byvoorbeeld die gebrek aan dienslewering in ‘n land soos SA of soos intimidasie in Zimbabwe mense sal raak nie. Die goeie dinge in Afrika is meer as lewensgroot, maar so ook die probleme. Hoe meer mens in Afrika reis, hoe meer raak jy bewus van die probleme. Dit maak altyd interessante materiaal vir ‘n boek en ek probeer om die lewe weer te gee soos dit is.

Jy probeer nie teenstrydig wees met die onderwerpe wat jy aanraak in jou verhale nie, maar tog is dit kwessies wat as teenstrydig gesien sal word, human trafficking, kinderpornografie en polisie-korrupsie. Hoe doen jy die navorsing daaroor?
Deur alles op te neem oor ‘n land terwyl ek reis, maar ook deur plaaslike koerante te lees. Hoe meer mens reis, hoe meer leer jy oor die donker kant van ‘n land. My volgende boek, African Dawn, speel af in die voormalige Rhodesië van 1959 tot die hede en raak aan die oorlog en die plaasbesettings. Ek het baie van my vriende se ervaringe gebruik. Die risiko om fiksie te skryf wat in Afrika afspeel, is mens kan so gefikseer raak op die skoonheid dat mens die slegte goed ignoreer en niemand sal so 'n boek lees nie. Of jy raak so afgerem deur goed soos misdaad en die politieke probleme en korrupsie dat jy ‘n boek skryf wat te konfronterend, teenstrydig en depressief is vir mense om te lees. Mens moet die goue middeweg vat en ‘n balans probeer vind tussen goed en sleg.

Wat lees jy graag?
Spanningsverhale en rillers. Ek is ‘n groot bewonderaar van Deon Meyer en ek was gelukkig genoeg om hom in die Kaap te ontmoet. Dan lees ek nou ‘n boek, Wake Up Dead, deur Roger Smith, nog ‘n Suid-Afrikaner. Ek het ook Mike Nicol se boek gekry wat ek wil lees. Daar is ‘n baie sterk en goeie vibe in Suid-Afrikaanse misdaadfiksie. Ek wil iets lees waar ek kan identifiseer met die plek. Dan lees ek Ken Follett en Nelson DeMille, Bernard Cornwell. Baie van my boeke word oorsee juis deur Suid-Afrikaanse expats gelees. Die terugvoer wat ek van hulle kry, is dat hulle daarvan hou om van die werklike plekke te lees waar my verhale afspeel. Daarom is dit vir my belangrik om in die veld te skryf, sodat ek die plekke, karakters en gebeure getrou en geloofwaardig kan uitbeeld in die ware konteks van die omgewing.

Grond jy jou karakters op mense wat jy ontmoet, of dink jy hulle uit?
Hulle is nie gebasseer op die mense wat ek ontmoet nie. My karakters beleef wel ondervindings wat gebeur het met mense wat ek ontmoet. Byvoorbeeld, ek was in 2002 saam met die weermag in Afganistan en ek het baie vriende wat soos Sonja is. Baie van hulle is Suid-Afrikaners of ouens van Zimbabwe wat nou in die Britse weermag is.

Wat is jou militêre agtergrond, want jy skryf baie geloofwaardig oor weermag-aksies en wapens?
Ek is in die Australiese reserwemag vandat ek 17 is, dis 28 jaar - dit klink verskriklik vir my dat ek so lank al betrokke is. Ek was in Afganistan en was op ‘n uitruilskema met die Britse weermag. Ons leef in ‘n tyd van konflik en die oorloë in die res van die wêreld het wel ‘n impak op Suid-Afrika op ‘n indirekte manier deur Suid-Afrikaners wat betrokke is in die konflik daar. Ek dink ek deel hieruit iets met die mans wat wel verpligte weermagdiens in SA gedoen het. Ons het altyd ‘n aanknopingspunt om ‘n gesprek te begin. In my skryfwerk help dit my beslis. Ek kan geloofwaardig skryf oor iets wat tegnies en emosioneel is, iets soos verpligte weermagdiens. Ek is altyd bewus daarvan om so korrek te probeer wees oor sulke aspekte vir die geloofwaardigheid van my boeke.

In een van jou vorige boeke, Silent Predator, skryf jy baie oor polisiekorrupsie in Suid-Afrika self. Hoe het jy dit nagevors?
Ek was in Suid-Afrika met die skryf van die boek en het baie van hierdie gevalle om my sien afspeel in die koerante. Daar was die Zuma- en Selebi-sake en die hele Skerpioene-kwessie. Ek moes die boek heeltyd herskryf veral aan die einde, want dan het ek die Skerpioene in, dan moes hulle weer uit, dan weer in en dan weer uit, soos die situasie ontvou het. Ek moes die aktuele kwessies korrek en aktueel hou. Al daai kwessies was groot nuus in daardie tyd.

Wat is jou skryfproses?
Ek neem ses maande om ‘n boek te skryf. Ek het gewoonlik ‘n vae idee wat die afskoppunt van ‘n boek sal wees. Soms sal dit begin met ‘n bestemming waarheen ek wil gaan en ander kere sal ek iets gehoor het oor ‘n bestemming en dan besluit ek om soontoe te gaan om my boek te skryf. Dis hoe dit begin en dan skep ek maar die verhaal, wanneer ek by my bestemming is. Dis natuurlik ‘n feit dat my eerste manuskrip sterk geredigeer moet word na die tyd om die kontinüiteit en storielyn heeltemal reg te kry. Ek herskryf nie terwyl ek skryf nie, want dan sal ek te obsessief raak. My vrou en my ma, Kathy, en my skoonma, Sheila, lees die eerste manuskrip en hulle gee almal baie goeie terugvoer. Daarna gaan dit na my vroulike uitgewer, Kate, en dan my redakteur, Emma, en dan my subredakteur, Julia. So daar kom nie ‘n man naby die eerste manuskrip nie, dis nogal ironies!

Hoe reis julle?
Kamp. Ons het SA vriende waar ons ons Land Rover los en ons het nie ‘n sterk uitgewerkte reisprogram nie. Dit werk nie in Afrika nie! Ons stop by plekke vir ‘n week of twee op ‘n keer, dikwels by die Krugerwildtuin. Daar het ons ‘n roetine, ‘n wildrit in die oggend, terwyl ek dink oor die boek, terug kamp toe en dan skryf ek. Ek skryf elke dag 2 500 woorde. Lees en swem en braai in die aand is die res van die aktiwiteite.

Wat is jou volgende projek?
My nuwe boek, African Dawn, kom uit in Oktober. Ons kom in Augustus weer, ek is halfpad klaar met my negende boek wat gedeeltelik in SA en gedeeltelik in Rwanda afspeel. Wat ‘n ervaring, so 'n emosionele ervaring. Mense in Rwanda probeer so hard om oor die historiese gebeure te kom. Almal soek ‘n pad vorentoe om te probeer ‘n nuwe gedeelde belang te skep.