Hy is hard uitgelag deur sy broer Danie en dié se vriend, Christo Hoffman. Die seuns het gereeld saam rugby gespeel al was die ander 2 vyf jaar ouer as Wynand, en groter en swaarder. Dís waar die droom begin het, met ‘n gespelery op die grasperk voor hul huis. Al daardie gespeel het hom later in sy lewe ‘n voordeel gegee, want hy kon ”hardloop en vang, systap en afstamp, dummy en uitgee, vang en snol vir die doellyn, en natuurlik tekkel.” Wynand beskryf sy droom in sy boek Kaalvoetklong tot rugbytoks (LAPA, R185).

Die bekendstelling van sy boek was by die Universiteit van Pretoria, ‘n plek waarmee hy ‘n lang verbintenis het. Daar het hy studeer om argitek te word en terselfdertyd ’n paar jaar vir Tukkies se rugbyklub uitgedraf. Gou was hy ook Noord-Transvaal agsteman. En uiteindelik kon hy in die vroeë 80’s die Groen en Goud trui oor sy kop trek.

In 1981 word hy kaptein van die Springbokke tydens die berugte betoger-geteisterde toer in Nieu-Seeland. Toe moes sy broer Danie en dié se vriend hul gelag sluk, want Wynand se droom het waar geword. Maar sy lewe bestaan uit veel meer as rugby en hy vertel nostalgies oor sy lewensreis. Dis ‘n heerlike verhaal wat een van ons land se groot rugbyspelers inkleur en sy ander kant wys. Die sagte kant wat nie deel was van die rugbyveld nie, die een van sy liefde vir musiek en kuns en vir boeke en reis. Hy beskryf met deernis die mense in sy lewe, koshuisvriende, meisies, professors en rugbyvriende en natuurlik sy familie wat sy pad heeltyd saam met hom gestap het. Vir party mense was daar ‘n grimmige woord, want Wynand is iemand wat nie skroom om doekies om te draai nie. Soos ’n oud-rugbyspeler en een van Wynand se vriende tereg opmerk, Wynand is nie iemand wat sy gevoelens wegsteek nie – daarvoor is hy te openlik emosioneel.

Heel gepas het van sy ou koshuispelle en rugbymaats Wynand se boek saam met hom kom vier. Tommy du Plessis, Ewoud Malan en die oud-rugbybaas Robert Denton was daar om ‘n glasie te klink en om ‘n boek te laat teken. Dít doen Wynand met ‘n Parker-vulpen, een wat hy al jare gebruik en elke nou en dan laat diens sodat hy weer lekker kan skryf. Wynand het vroeg opgedaag en was effe senuweeagtig, maar sommer ook baie opgewonde. Ek het my geleentheid gebruik en hom gekaap vir ‘n paar vinnige vrae.

Hierdie is nie jou eerste boek nie?

My eerste boek saam met Dan Retief in 1985, More Than Just Rugby, het oor my rugbyloopbaan en my politieke standpunte gegaan. Dit het nogal opslae gemaak. Die idee vir die boek het ontstaan op die vliegtuig huis toe ná die  Nieu-Seeland-toer in 1981. Almal het gekla oor wat alles op daardie toer gebeur het en ons het geglo die ware gebeure moet vertel word. Ek het gesê ek is die kaptein en ek sou dit doen, en so is die boek gebore. Ek het baie slae daaroor gekry.

Waarom wou jy jou storie nou weer vertel?

Die gedagte vir dié boek het in 1999 tydens die Wêreldbeker in Londen gestalte gekry. Ek het ‘n outobiografie van Dirk Bogarde in die hande gekry waarin hy vertel het hoe hy as kind gedroom het om ‘n akteur te word en dit toe reggekry het om dié droom te verwesenlik. Ek het besef ek het ook ‘n storie om te vertel. Hierdie boek gaan oor ‘n kaalvoetklong se droom om eendag die Groen en Goud oor sy kop te trek en voor ‘n skare uit te draf. Maar ook omdat my lewe oor veel meer as net rugby gegaan het. Ek het baie flack by my professors in argitektuur gekry by Tukkies, want hulle was nie daarmee geneë dat ek rugby speel nie. Antjie Krog het so tien jaar gelede gesê elke Suid-Afrikaanse familie moet hul geskiedenis op skrif sit. Toe begin ek skryf. . .

Hoe lank het dit jou geneem om die boek te skryf?

Seker so drie jaar, want ek moes maar tussenin skryf. Ek het in 2001 ook vir ‘n tyd tussen Durban en Pretoria gependel toe ek by Tukkies gewerk het. Naweke was ek ‘n Springbok-keurder. So ek was drie dae in Durban en die res weg. Dit was maar moeilik. Ek het die manuskrip vir my ma gegee om te kyk of ek alles reg onthou het, want mens maak ook maar staat op jou geheue. Sy het ‘n paar feite oor die familiegeskiedenis reggemaak. Ek het uiteindelik met ‘n plastieksak vol papiere by die uitgewers aangekom. Dit was die manuskrip.

Was daar ‘n gedeelte wat vir jou moeilik was om te skryf?

Ja, die deel van my lewe in Brecherstraat toe ek in die kommune gewoon het. Om oor die affairs en so te skryf. Ek kon dit nie regtig uitlos nie, want dit het gebeur. Daar was maar bietjie goed wat gebeur het wat nie lekker is om weer op te diep nie. Ek het toe ook die terugslag gehad met my beseerde been wat my lank uit rugby gehou het. En daai tyd was daar ook die teenkanting van my dosente oor my keuse om rugby te speel. Die een prof het geglo mens kan nie twee gode dien nie, ek sou moes kies tussen argitektuur en rugby. Ek was vasbeslote om my studies te voltooi terwyl ek rugby speel.

Waarvandaan het jou droom gekom om vir die Springbokke te speel?

My pa het ons drie boeties altyd na die groot wedstryde geneem. Dit was in die dae voor televisie. Dan het ons die wedstryde op Loftus of Ellispark gaan kyk. Die droom was altyd daar. Ek het vir die Springbokke briewe geskryf waarin ek hul handtekeninge vra. Ek het ‘n gefrankeerde koevert saamgestuur en dit was altyd interessant om te sien wie teruggeskryf het.

Hoe voel jy nou dat die boek uit is?

Jy lê jou hele lewe bloot. Ek is maar senuweeagtig. En dankbaar ook.