Een van die vriende het ’n nuwe viertrek-voertuig gehad en wou opsluit Afrika gaan verken. Sommer vinnig-vinnig is besluit die groepie van vyf egpare gaan kyk hoe die wêreld in Afrika lyk. Die uiteinde daarvan was dié boek deur Amanda, waarin sy vertel van twaalf reise in twaalf jare deur die Big Five (so het hulle hul groep gedoop). Al die vriende was al aan die anderkant van 60 en het vaardighede gehad wat die groep tot nut was op hul safari’s. So was daar darem ’n dokter, ’n ingenieur en natuurlik ’n boer wat altyd ’n plan kon maak in die groep. Die ander lede se vaardighede hou verband met bak, kook en voëlkyk.

Dis haar persoonlike waarnemings oor wat vir háár interessant was op die reise. Die boek, ‘n Dosyn jare, ‘n dosyn reise is dus nie ‘n reisjoernaal wat vertel van elke besienswaardigheid nie, of wat inligting verskaf oor die politiek of landsbestel van elke land waar hulle was nie. Amanda vertel hoe daar voor elke reis deeglik beplan is, en dat ‘n moets-en-moenies-brief vooraf aan elke reisgenoot gestuur is. Dit het help keer dat daar oorvleueling is van kamp- en kombuistoerusting en het terselfdertyd duidelikheid gegee oor kookbeurte en wat verwag word van so kookbeurt! Sy sê ook duidelik dat fiemies by die huis gelos word, want alles is ingepak op grond van hoe prakties dit is vir so ’n tipe reis. Sy vertel dan oor die reise in Kaokoveld, Botswana, Namibië, Mosambiek, Malawië, Zambië, Angola, Barotseland, die Serengeti en Kaïro. Die leser reis heerlik saam met Amanda en leer tog ‘n paar nuwe goed oor Afrika by. Dis jammer dat die taalversorging van die selfgepubliseerde boek nie beter is nie, want dit doen afbreuk daaraan. Bestel die boek by brenda@pnatzaneen.co.za  of  amanda@mahela.co.za. Dit kos R250. Ek het Amanda per e-pos uitgevra oor haar ervarings.

Waarom wil julle juis in Afrika reis, ten spyte van logistiek wat soms moeilik kan wees?
Soos ek in Dosyn jare skryf, is Afrika altyd anders in teenstelling met Europa waar alles staties is, presies dieselfde, net die seisoene verander. Afrika se fauna en flora slaan telkens my asem weg, dis uniek.

Julle is ‘n groep vriende wat saam reis. Verg dit spesiale vriendskappe om vir soveel jare so saam te kan reis?
Jy het min privaatheid op so 'n reis. Hoe behou julle almal perspektief en hoe oorleef die vriendskappe dit? Dis ‘n vraag wat ons almal dikwels gevra word. Deur die jare leer jy mense se geite ken en verstaan. Ons is werklik goeie vriende wat mekaar goed ken. Almal is bykans dieselfde ouderdom met basies dieselfde behoeftes. Generasies meng moeilik in so 'n nou verband vir so ‘n lang periode. Maar moenie ‘n fout maak nie, om vir 24 uur, sewe dae, twaalf weke lank in ‘n beperkte spasie met jou wederhelf saam te leef, vat mannemoed – of is dit dalk vrouemoed?

Wat is die moeilikste van reis in Afrika?
Die Afrika-dinamiek – Afrikane dink anders. Sonder om polities te raak, dit is moeilik. Afrika-tyd en die Westerse konsep van tyd verskil hemelsbreed. Karre wat breek, maar dit is juis vir die manne so lekker!

Moet julle baie beplanning doen voor die tyd?
Die reis- en roete-beplanning verg maande se voorbereiding, en dit doen Edward. Jy moet onder meer weet waar jy proviand en brandstof kan aanvul. Waar is dit polities onstabiel. Waar is grenspos-oorgange as jy nie op hoofweë reis nie. Baie sorgvuldig pak, niks onnodig kan saamgaan nie.

Kom julle as reisigers steeds baie korrupsie teë, m.a.w. moet julle soms omkoopgeld betaal om sekere dinge gedoen te kry of toelating tot ‘n land, of wat ook al?
Baie beslis, veral op die weskus op pad noord. Die Kongo en Demokratiese Republiek van die Kongo kraai hier koning. Ek wil my verstout om te sê dat bribes sinoniem is met Afrika (my persoonlike opinie).

Jou absolute gunsteling-bestemming in Afrika?
Sonder twyfel Soedan, maar net ‘n kortkop voor Ethiopië.

Met een van die reise moes Edward vroeër terugkom, en toe moes jy op ’n baie slegte pad bestuur en waentjie sleep. Hoe was dit, en is jy nou meer gemaklik met bestuur onder sulke omstandighede?
Dit was baie erg, maar met behulp van die radio kon die ander bestuurders my help met die tegniese aspekte. En ja, ek kan nou maklik die stuurwiel oorneem.

Was daar gevaarlike omstandighede waar jy regtig bedreig gevoel het?
Nie rêrig nie. Wel een aand in die Nubiese woestyn in Soedan, toe daar ’n moontlike kapingsituasie ontstaan het; dit het ons eers die volgende dag besef. Jy is ook afgesny van die wêreld omdat jy min nuus kry. So het ons ‘n week ná die tyd gehoor van toeriste wat ewers êrens in Afrika deur kapers gevange geneem is vir ‘n losprys. Maar dit het ons nie eintlik geraak of benoud gemaak nie. Engele is werklik ons reisgenote en dit het ek so dikwels ervaar.

Wat mis jy as vróú die meeste op sulke reise?
Hier moet ek hard dink, dalk ‘n haarkapper en skoon, gestrykte klere. Die dan en wan se kontak met my kinders is altyd ‘n bonus.

In die boek verwys jy na SARIE wat saam was op reis. Is jy ‘n gereelde SARIE-leser, en wat geniet jy in die tydskrif?
Dis werklik die enigste tydskrif wat ek lees vandat ek ‘n jong vrou/mamma was. SARIE is gediversifiseerd en die blokraai (wat ek heel eerste doen) is ‘n wonderlike tydverdrywer; dit hou my kop aan die werk en forseer my om gereeld ‘n woordeboek te gebruik. Ouma knip prentjies uit, want elke nuwe kleinkind (daar is sewe) moet ‘n plakboek kry waaruit hulle kan leer. Al my ou SARIE’s gaan na ons plaas-crèche toe.