Kyk wat raak André le Roux kwyt in sy nuwe boek, Kan ek maar aan jou selluliet vat? (Tafelberg, R185). Die boek gaan oor hoe die verhouding tussen mans en vroue werk, met deeglike navorsing. Die subtitel is: Hoe mans se koppe werk (indien wel). Hy weerlê 48 mites wat algemeen geglo word oor hoekom mans soos mans is en vrouens soos vrouens! Natuurlik op sy eie minlike manier en met eiesoortige humor.

"Wie’t gesê verhoudings is maklik? Op hul maklikste is dit moeilik . . . Intieme verhoudings nog moeiliker. En makliker. En swaarder. En ligter. En lekkerder. En wat nog?"

‘Die liefde is vol chemie en onkeerbare hormone, nie logika nie.’ - André le Roux

"Natuurlik bestaan die ideale man, én die ideale vrou. Dis die een op wie jy verlief raak! Later is dit die een met wie jy trou al is dit dalk nie dieselfde een op wie jy die eerste keer verlief geraak het nie."

Kan ek maar aan jou selluliet vat?

Ek het vir André 'n paar vrae oor sy boek gevra.
Hoekom wou jy 'n boek oor verhoudings skryf? (Al jou ander publikasies is rubrieke of kortverhale, 'n novelle of gedigte.)
Iets nuuts, en dit sluit lekker aan by die SARIE-rubriek. Ek stel boonop baie belang in die ding tussen mans en vroue.

Hoe het jy aan al die inligting gekom en was dit 'n moeilike proses om te sif deur die inligting?
Navorsing, navorsing, navorsing. Dit was nie moeilik om te sif nie, want ek het geen onnodige navorsing gedoen nie, net gesoek wat ek nodig gehad het.

Waarom die titel oor selluliet?
Nie sonder omstredenheid nie, ja. Vroue hou nie van die woord "selluliet" nie, en die boek is op vroue gemik. Maar die volledige titel, Kan ek maar aan jou selluliet vat? Hoe mans se koppe werk (indien wel), het 'n speelse aanslag, wat potensiële lesers hopelik sal insien. Ek het darem ook die titel by verskillende vroue getoets.

Wat was die interessantste stukkie navorsing waarop jy afgekom het?
Wat al die hormone en feromone aan ons doen! En dat 'n mens doelbewus van bui kan verander. (Sê dit net nie vir 'n vrou met PMS nie ...)

En wat was die simpelste mite wat jy weerlê het?
Daardie mans-dink-elke-7-sekondes-aan-seks-snert. Volgens 'n plaaslike meningspeiling verlede jaar dink 65,8% van mans elke dag aan seks terwyl 41,8% van vroue elke week daaraan dink.

Jy werk hoofsaaklik saam met vroue. Gebruik jy hulle ooit vir navorsing?
Feitlik elke dag.

Ná die lees van die boek is dit duidelik dat een van die belangrikste faktore in 'n verhouding kommunikasie is. "Kommunikasie is op sy beste 'n emosionele ding. Op sy slegste ook." Dink jy dis die faktor wat die meeste aanleiding gee tot die verbrokkeling van verhoudings?

Beslis. Mans en vroue se "taal" verskil baie. Hoe nader hulle aan mekaar kan "praat", hoe makliker sal dit gaan. Boonop luister ons ook nie te goed nie.

Daar is 'n groot verskil tussen die courtship-tydperk van 'n verhouding en 'n huwelik. Wat is die grootste fout wat mense maak tydens courtship?
Hulle kyk deur 'n pienk bril na mekaar, wat nie noodwendig 'n fout is nie, maar sodra hierdie pienk-lens-effek verdwyn, kan hulle agterkom hulle het weliswaar 'n fout gemaak.

Vroue gebruik soms trane om hul sin te kry en ook om uiting aan hul emosies te gee? Is dit goed vir hulle?
Kenners verskil hieroor. Ek's self nie seker nie. Daar's wel prolaktien in trane ('n hormoon betrokke by geboorte en borsvoeding en 'n belangrike sekshormoon). 'n Oormaat daarvan kan jou sleg laat voel. Deur te huil kan 'n vrou dus haar prolaktienvlak stabiliseer.

Jy skryf baie oor lag. Word die impak en voordele van lag onderskat in ons lewens?
Ek weet nie of dit onderskat word nie, maar jy kan seker wees lag is in alle opsigte goed vir jou.

Het die skryf van die boek jou meer insig in jou eie verhoudings gegee?
Beslis.

Kan 'n vrou 'n man verander?
Vergeet daarvan.

Jy gebruik baie humor in jou boek om situasies uit te beeld. Waarom?
Kyk na die vraag oor lag. Die boek moes darem nie te swaar en ernstig wees nie. Mense wil vermaak word en lag.

Jy sê dat mans veel eerder na 'n lewensafrigter sal gaan as 'n sielkundige. Wat is die verskil vir mans?
Mans wil nie persoonlike probleme met iemand anders bespreek nie. 'n Lewensafrigter help hulle eerder deur die lewe, prakties, terwyl hulle voel 'n sielkundige wil hul derms uitryg, emosioneel (wat sielkundiges inderdaad doen).

Wat is mans se issues met vroue se borste? Is jy 'n bors- of boudeman?
Mans is nou maar eenmaal mal oor borste, dit moet iets te doen hê met die sagtheid en beweeglikheid daarvan. Dis buitendien 'n groot troos in jou mond! Ek? Albei (maar miskien is borste tog twee kort koppies voor).

André gesels met Riette Rust: