In sy nuutste boek, Solace (Zebra Press, R180), vertel hy ‘n onthutsende verhaal van moord, godsdienstige fundamentalisme, dwelmmisbruik, prostitusie en ander karakters wat jy nie deel van  jou voorstedelike lewe wil hê nie.

Die lyk van ‘n jong Moslemseun word in ‘n sinagoge gevind. Op die oog af lyk dit soos ‘n rituele offer. Inspekteur Eberard Februarie word aangesê om die saak te ondersoek. Maar dis nie ‘n eenvoudige geval nie en midde-in die ondersoek is daar dreigende onluste aangevuur deur godsdienstige fundamentaliste. Februarie is ‘n gekompliseerde karakter. Hy het ‘n drankprobleem. Sy werk het hom weggedryf van sy vrou en kind. Hy het ‘n vreemde verhouding met ‘n prostituut, wat in die verloop van die verhaal vermoor word. Haar moord, besef hy, hou verband met die jong Moslemseun se moord. Maar, dis nie al nie, die jong seun is nie ‘n Moslem nie. Hy is eintlik ‘n hawelose straatkind. Verder moet Februarie sy misleide hoof en ‘n korrupte minister systap om aan te hou om die vlambare saak te ondersoek, want hulle wil hom die heeltyd wegkry van die ondersoek. Brown beskryf sy karakters met ‘n grinterige kwas. Tog kan jy nie anders as om empatie met hulle te hê nie. Dis ‘n boeiende spanningsverhaal met ‘n verrassende einde. Ek het per e-pos met Brown gesels oor sy nuutste boek en oor skryf.

 Hoe is die saadjie vir dié verhaal by jou geplant?
Solace
is by uitstek ‘n misdaadspanningsverhaal, maar die beginpunt was my ongemak toe die Moslem-burka vir vroue in Frankryk verban is. Ek is geen aanhanger van die burka nie, maar die Franse regering se idee dat hulle vir mense kan voorskryf wat hulle mag en nie mag dra nie was vir my kommerwekkend. So, die agtergrond vir die boek is die idee – of vrees – dat die regering voel hulle kan ons sosiale en kulturele praktyke dikteer, terwyl die verhaal ook die gevare van enige vorm van fundamentalisme ondersoek. Ek dink die oomblik wanneer politici dink hulle is die beskermers van ons moraliteit, is ons in groot moeilikheid.

Waarom het jy besluit om karakters uit ander skrywers se boeke in te sluit, soos Bennie Griessel en Riedwaan Faizel?

Dit het begin as net ‘n bietjie pret tussen my en Margie Orford. Ek het haar hoofkarakter, Riedwaan Faizel, uitgesonder en in my boek Refuge ingeskryf: Ek het hom in die getuiebank laat beland en onder kruisverhoor geplaas totdat hy ineengestort het. Margie het my terugbetaal deur my persoonlik in haar volgende boek te sit – as konstabel Brown wat ‘n kaal prostituut moes hanteer. Margie het nie skoon gespeel nie! Ek het besluit om bietjie wraak te pleeg, maar om op iemand anders ook te pik. Deon Meyer se Bennie Griessel is so 'n regte mens dat dit vir my voel of hy deel van ons kollektiewe Suid-Afrikaanse lewe is. Dit was heel natuurlik dat ek hom bietjie ontvoer en tussen die blaaie plaas in Solace. Gelukkig was Deon nogal geamuseer daardeur.

Moes jy baie navorsing oor godsdiens doen vir die boek?
Ek het nogal baie navorsing gedoen, want godsdiens en godsdienspraktyke is nie iets waarvan ek baie weet nie. Geloof is ‘n sensitiewe gebied om te benader, daarom is dit belangrik dat my uitbeelding van godsdienstige en kulturele praktyke so akkuraat en gepas moontlik is. Die boek kan fundamentaliste moontlik aanstoot gee, maar dan, hulle verdien bietjie kritiek.

Jy sê in jou boek: “Policemen could ultimately only relate to other policemen.” Is dit hoekom Februarie sulke gebroke verhoudings het, of was daar ander faktore wat bygedra het tot hoe jy hom geskets het?
Februarie is miskien ‘n meer ekstreme weergawe van die gemiddelde polisieman: sy alkoholisme en sy selfhaat is minder onder beheer as die gewone lid van die polisie, maar die sielesmart en trauma wat hy wys, is te vinde in al die polisiemanne en -vroue met wie ek in die polisiemag saamwerk. Ek dink dat daar ‘n sterk vrouekarakter op die voorgrond is, laat Februarie toe om ‘n meer ekstreme posisie aan te neem, maar hy raak darem uiteindelik beter en bevry homself.

Die meeste polisielede het op die oog af mislukte verhoudings en drankprobleme. Dink jy dis omdat hul lewe so ver verwyderd is van dié van gewone mense?
Polisiemanne en -vroue is ‘n unieke spesie. Hulle ervaar daagliks die mees uitsonderlike goed, bloot as deel van hul werk. Hulle moet die slegste gedrag van mense hanteer. Iemand het na hulle verwys as “gewapende welsynwerkers” en ek dink dis heel gepas. Met die gevolg dat dit vir hulle nogal moeilik is om aansluiting te vind by “gewone” mense. Hulle kruip weg agter humor en bravade en drank, maar hulle moet op die einde tog hul eie trauma hanteer.

Waarom wou jy in hierdie genre skryf en wou jy nog altyd boeke skryf?
Ek was nog altyd lief vir skryf. Dit het my baie jare geneem om te besef hoe belangrik komplot vir ‘n goeie boek is. Komplot is sentraal in misdaadverhale en dit laat jou toe om temas en karakters te ondersoek terwyl jy die leser steeds laat belangstel. Daar is baie min skrywers wat goed genoeg is om ‘n genotvolle boek te skryf wat nié op ‘n goed ontwikkelde komplot staatmaak nie. Die sentrale komplot in ‘n misdaadverhaal laat my toe om die skadukant van karakters en die donker plekke in ons gemeenskap te verken.

Jy is ‘n advokaat en ‘n reservis in die polisie. Waarom?
Ek werk in die private praktyk as advokaat, wat regtig die enigste werk is wat ek doen wat kos op die tafel sit! Daar is nie geld in boeke skryf nie. Ek het twaalf jaar gelede by die polisie aangesluit. Ek was moeg daarvoor om almal se klagtes oor misdaad en die onderprestasie van die polisiemag te hoor, en ek wou betrokke raak om in my omgewing ‘n verskil te maak. Ek is sedertdien betrokke as reservis: dis die meeste van die tyd bevredigend en ek voel tog of ek ‘n bydrae maak. Daar is sommige dae wanneer ek tog wonder of dit steeds ‘n goeie idee is!

Hoe pas dit alles in by jou skrywery?
Baie van die tonele in my boeke kom van ware insidente waarby ek as polisieman betrokke was. Ek dink my polisiewerk gee my nie net insig in misdaad en polisiëring nie, maar ook in die werklikheid van die lewens van duisende Suid-Afrikaanse burgers (en immigrante) wat gedwing word om onder die haglikste toestande te leef. Ek het die nie-fiksie-boek Street Blues oor my ervarings in die polisiemag geskryf. Ek veronderstel dit was regtig ‘n tipe katarsis vir my.

Jy het die 2006 Sunday Times Fiction Prize gewen en was op die kortlys vir die Alan Paton Award en die Commonwealth Writers’ Prize. Hoe voel dit?
Ek was nogal oorweldig – net om die kortlys vir dié toekennings te haal is ‘n uitsonderlike eer. Ek het ‘n stryd gehad om myself as ‘n skrywer te definieer, want dis nie my beroep of voltydse werk nie. Soms het ek dit nie ernstig genoeg opgeneem nie. Toe ek die Sunday Times Fiction Prize gewen het, het dit vir die eerste keer tot my deurgedring dat miskien is, of kan ek ‘n “skrywer” word. Dis steeds ‘n proses wat aan die gang is.

Lees jy misdaadverhale en wie is jou gunsteling-skrywer?
Ek is lief vir lees en sal dikwels iets swaarders (geskryf deur William Boyd of Ian McEwan) afwissel met ‘n misdaadverhaal waarin die storielyn die leeservaring makliker en vinniger maak. Ek is ‘n bewonderaar van Deon Meyer se werk, want ek dink hy kry die balans tussen intrige en karakters net reg. Ek geniet ook misdaadverhale van ander lande, net om te sien hoe hulle die stories konstrueer: Henning Mankell, Hakan Nesser en Jo Nesbo van Skandinawië is goeie voorbeelde van skrywers wat die genre anders aanpak as Suid-Afrikaanse skrywers.

Hoe ontspan jy?
Skryf is vir my ontspannend, heel moontlik omdat ek onder geen druk is om te skryf nie. Omdat dit nie my beroep is nie, het ek geen spertye van uitgewers nie en ek het geen verwagtinge van myself nie. Dis ‘n bevoorregte posisie waarin ek my bevind. Ek is ook ‘n ywerige motorfietsryer (naas my gesin, neem my liefde die vorm van ‘n helder-oranje KTM Adventure aan), branderplankryer en voëlkyker.