Dit alles het my aandag getrek en laat wonder waaroor gaan die boek. Die nuutste pennevrug van Annelie Botes gaan oor bloedskande en molestering, iets wat nie ligtelik in die openbaar bespreek word nie. Sy skryf Gertruida se storie, maar dit is terselfdertyd die verhaal van die hele Strydomgesin. Dis 'n ontstellende verhaal wat elke leser sal raak. Die onreg, pyn, emosionele manipulasie en persoonlike regverdiging van elke karakter maak dit 'n boek wat jy nie neersit voor jy daardie laaste bladsy gelees het nie.

Phyllis Green het per e-pos met Annelie gesels oor Thula-thula (Tafelberg, R165)

Jou vorige boeke het ook taamlik kontroversiële onderwerpe aangeraak: dobbel en outisme. Nou bloedskande. Waarom sulke onderwerpe?
Eintlik kan mens enigiets oor die kam van kontroversieel skeer. ‘n Roman kan oor alledaagse verskynsels handel, en tóg as kontroversieel oorkom. Dink maar aan onderwerpe wat ons heeldag en aldag omring, soos Alzheimers, die verwoestende effek van regstellende aksie, gesinsgeweld, bulimie, bipolêre depressie, vraatsug, die verval van ons land, bankrotskap, werkloosheid, pilverslawing, moord en doodslag, die skoktoestand van vele ouetehuise en hul inwoners, kerke wat leegloop.

Fynbosbewaring (in my boek Klawervier), dobbel en outisme kan beswaarlik as kontroversieel beskou word. Ek sou my onderwerpe eerder as hartseer beskryf. Ek dink lesers verwar dikwels die term kontroversieel en die begrip van aangrypend.

Hoe het jy die navorsing vir Thula-thula benader?
Ontsaglik klinies, aanvanklik. Toe ek met indiepte gevallestudies begin het, was dit ‘n mengsel van emosies, verstand en uiterste deursettingsvermoë. Maar ek het altyd en altyd gesoek totdat ek die waarheid beet het. Mens wéét as iets die waarheid is. En dan begin jy daardie waarheid toets aan die opinies van kenners en deskundiges. Geen feite in Thula-thula is uit my duim gesuig, of op grond van aanname nie. Om die hele navorsingsproses te beskryf kan ‘n roman op sy eie wees. Onthou dat ek met báie tentakels moes rekening hou, bo en behalwe bloedskande. Algemene boerdery, Bonsmaras, die veld, tuinplante, die stand van plaasskooltjies, gewere en wapenwette, tennistegnieke, onderwys, baie jare se maantye, die grenstyd.

Mens leer en leer en leer. En dan kan mens maklik in die slagyster trap van nog en nog wil leer. Onbewustelik vermy jy die werklike skryfproses deur te glo die navorsing is nog nie klaar nie. Daar kom ‘n tyd dat ék moet besluit: Vandag begin ek amptelik skryf aan die boek. Die kennis wat ek nog kortkom, sal ek inwin soos ek aangaan en agterkom daar is nog dingetjies wat ek moet weet, of meer intens moet bestudeer.

Was die skryfproses uitmergelend?

Dit was baie minder uitmergelend as die navorsing. Toe ek begin skryf, het ek my nie meer elke dag onderstebo geskrik oor gruwelfeite nie. Wat uitmergelend was, was toe my rekenaar op ‘n Sondagoggend 20 oor 5 uit die huis gesteel is terwyl ek slaap. Die roman was reeds geskryf tot by bladsy 265 en ek het net back-ups gehad tot by bladsy 143. Die oorskryf van daardie 120 bladsye was hel. Ek het niks vergeet wat ek geskryf het nie, maar die plasing daarvan het totaal deurmekaar geraak in my kop. Onthou, ek werk met Gertruida se hede en verlede, asook met Mama Thandeka se hede en verlede. En skakel nooit tussen seksies oor op ‘n chronologiese basis nie, maar eerder op emosionele nood. Om weer al daardie kloutjies by die oor te bring het my menigmaal in erge trane gehad.

Waarom juis Mama Thandeka as verteller?
Ek het ‘n verteller nodig gehad wat soveel as moontlik van al die karakters weet. Daar is, selfs vandag nog, niémand wat meer weet oor wat agter die deure van ‘n huis aangaan nie as die huishulp. Sy weet van elke vuil onderbroek, elke kous met gate in, pilboksies in die badkamerhouertjie. Sy sien elke bloedkolletjie op die laken, en weet hoe praat die mense in die huis met mekaar, waar ander ore nie hoor nie. Tog is ons huishulpe baie lojaal en praat nie daaroor uit nie. Ek kon aan niemand beter as ‘n dekades lange huishulp dink wat beter sou kon verslag gee van wat in die Strydoms se huis en lewens aangegaan het nie. Mama Thandeka se kennis was vir my goud werd.

Die kindertaal is baie oortuigend. Hoe kry jy dit reg?
Binne-in my (en binne-in ons almal) woon tientalle multiplicities. Van ‘n ongeletterde, tot by Einstein, ‘n skisofreen en die engel Gabriël; die dorpsliefling, die bose ondergrawer. En ook die klein kindjie. Ek klim net in die emosionele vel van die kindjie-multiplicity in, en dan kom die taal vanself. Wat dit bietjie makliker maak, is dat Gertruida nou op 26 met die woordeskat van ‘n grootmens terugdink aan haar kleintyd. Dit gee haar ‘n voorsprong as dit by die vertelbaarheid van kinderinsidente kom.

Met die lees van die boek, al is Abel ‘n aaklige karakter, ervaar mens tog soms empatie met hom. Is dit ‘n belangrike element in die verhaal?
Dis nie soseer dat ek empatie spesifiek vir Abel wou opwek nie. Selfs Jeffrey Dahmer en Hitler en die 11 September-bommers het prysenswaardige kante. En tog, selfs die pous en moeder Theresa het aaklige skadukante. Dis maar hoe die mens se psige werk. Wat ek wel graag wou regkry, is dat mense net effentjies sal verstaan dat die Abels van die lewe nie sommer só word op ‘n slegte dag nie. Die wanklanke en dissonante akkoorde in die mens se psigiese orkes kom ‘n lewenslange pad. Tydens die skryfproses het ek dikwels snags wakkergelê as ek dink wat ouers onbewustelik aan hulle kinders doen. En ek sluit myself nie daavan uit nie. Mens moet omtrent vir alles ‘n liksens hê, tot om vis te vang en ‘n baaisiekel te ry. Maar mens hoef g'n liksens te hê om ‘n kind te mag grootmaak nie.

Susara is baie op die agtergrond, tog speel sy ‘n sterk rol in die hele bloedskande-onderwerp. Wei uit.
Die waarheid is dat ongeveer 95% van alle ma's bewus is van wat aangaan. As mens in ag neem dat bloedskande minstens in 1 uit elke 5 gesinne voorkom, is die kans redelik goed dat die ma self as kind gemolesteer is. Sý het dit gemaak tot hiertoe, haar dogter sal dit ook maak. Tot op hierdie dag weet ek nie wat die Susarahs van die lewe behoort te doen nie. Want as hulle dit openbaar maak (daar is wette wat openbaarmaking afdwing) is die gesin in hulle maai in. Ek is so bang my nek word morsaf gekap, maar ek dink die beste wat sy kan doen, is om agter die toe deure van die huis in sterk alliansie met haar dogter te leef, en om as ma-dogter-span alles moontlik te doen om sáám te probeer om sy vlerke te knip.

Tragies, maar die meeste ma's is so afgestomp, en só angsbevange vir publieke skande, dat hulle maar Gods water oor Gods akker laat loop.

Wat is die grootste euwel van die sosiale gemeenskap teenoor bloedskande?
Ek weet nie. Maar dalk lê ‘n groot euwel daarin opgesluit dat die gemeenskap nie aandring op ‘n meer effektiewe maatskaplike sisteem om hierdie kinders én gesinne te spaar van openbare skande nie. Daar word hopeloos te veel gepraat in hopeloos te veel ore wat nié nodig het om dit te hoor nie.

Wat het jy oorgehou van Thula-thula na die boek geskryf is?
Die één ding wat my nooit sal verlaat nie, is hoe sterk Gertruida is. As ek aan haar dink, sien ek haar waar sy in die wit flennienagrok ‘n gat in die familie-kerkhof spit om haar aaklige memorieboek te begrawe.

Hoekom dink jy moet mense die boek lees?
Dwarsdeur Thula-thula sal bykans elke mens hom- of haarself gespieël sien in die Abels, Susarahs en Gertruidas van die lewe. Waarskynlik in ander omstandighede as dié op Kiepersolkloof, maar nogtans. En dis goed as ‘n mens soms stilstaan en jouself spieël

Kyk na die video-voorlesing van Thula-thula