Baie van haar heldin, Emma, se wedervaringe is gegrond op Astrid se eie lewe in New York. Sy het met Phyllis Green gesels oor baie geld, min geld en geen geld.

Vertel my so 'n bietjie meer van jouself.
Ek is ‘n regte Jozi chick, alhoewel ek in Amerika gebore is. Die enigste voordeel is dat ek my Green Card het en daar kan gaan werk. Wat ek inderdaad gedoen het toe ek 26 was. Ek het vir sewe jaar op Wall Street gewerk. Die finansiële beroepswêreld is uiters kompeterend en dis ongelooflik moeilik om ‘n voet in die deur te kry. Toe ek eers in was, het ek elke oomblik daarvan gehaat, maar daar was geen manier waarop ek sou misluk nie. Ek is ‘n fixer. Gee my ‘n probleem en ek los dit op. Ek het al die wiskunde gehaat en toe aanbeweeg na dot.coms. Daaroor was ek mal. Later het ek konsultasiewerk gedoen. Toe is ek weer ‘n fixer!

En jou skrywery?
Op 6 wou ek al ‘n skrywer word. My oupa was in die uitgewersbedryf, so boeke was altyd deel van ons lewe. Ek is mal oor lees en ek dink my skryfwerk is ‘n natuurlike uitvloeisel daarvan. Terwyl ek in finansies gewerk het, was dit maar altyd in my agterkop. Ek moes toe skryf om van my opgekropte emosies en die aakligheid van die bedryf waarin ek gewerk het, ontslae te raak. In dagboeke en joernale en selfs in e-posse aan my vriende in Londen het ek my emosie uitgestort.

Hoe het jou boek gebeur?
Dit het in 2000 gebeur. Ek was terug in Afrika en op ‘n lekker lang road trip na Mosambiek en Malawi. Ons moes lig pak vir die trippie en ek vat toe net 5 boeke saam om te lees. Binne 5 dae is ek deur hulle en daar sit ek met my duime en speel. Toe begin ek maar om die plot van my boek uit te map op papier.

Na die trip is ek terug New York toe om weer in die besigheidswêreld te werk. Ek het elke oggend vyfuur opgestaan en vir twee ure geskryf voor ek kantoor toe is. Dit was moeilik, maar ek was gefokus. Kêrels moes maar verlief neem daarmee en inpas in dié moordende skedule. Toe ek genoeg geld gespaar het, het ek bedank en teruggekom huis toe, sodat ek my boek voltyds kon skryf. Ek is in 2005 terug in Johannesburg om my droom te verwesenlik. Ek glo as mens iets droom, moet jy dit doen - anders sal dit jou hart verhard.

Was dit makliker om in Johannesburg te skryf?
Ek was soggens teen agtuur by my lessenaar en dan skryf ek die hele dag. Ek was gelukkig genoeg om daardie jaar die British Council's Crossing Borders Writing Scholarship te wen en Michael Carson het my gementor. Die studiebeurs het gemaak dat my geesdrif omgesit is in werklike skryfvaardighede. Michael het elke keer na alles gekyk wat ek geskryf het, dit geredigeer en vir my verduidelik hoe ek dit kon verbeter.

Ek het my manuskrip aan literêre agente in Brittanje en Amerika gestuur. Veertien van hulle het belanggestel, maar o wee, uiteindelik wou niemand my boek uitgee nie. Dit hou my nederig! Twee van die agente het baie goeie kritiek gestuur saam met die afwysbriefie. Ek het veranderinge aangebring om die verhaal in te kort en ‘n vinniger tempo te gee.

My geld het opgeraak en ek moes noodwendig weer ‘n fixer word. Toe het ek terselfdertyd weer in die dot.com-bedryf begin werk. Maar die liefde het my toe getroef! Ek het Andrew ontmoet en toe sit my boek op die rak vir ‘n jaar en ‘n half. Met my troue se beplanning was my boek nie ‘n prioriteit nie.

Maar die boek is uiteindelik een van die hoofbestanddele van jou troue...
Ja. Ons het ‘n baie klein en intieme plegtigheid beplan en het net sleutelmense genooi. Ek wou op ‘n spesiale manier vir almal dankie sê en toe besluit ek om vir elkeen ‘n kopie van my boek te gee. Al my gaste is op ‘n manier deel van dié boek. (Ses weke voor die troue en die boek is nog nie gepubliseer nie!)
Ek en Andrew het die boek se produksie toe soos ‘n dot.com-projek benader. Ons het ‘n span bymekaar gekry en ons het die produksie self betaal. Ons moes 500 boeke bestel, 50 word trougeskenke en daar bly 450 kopieë oor waarvan ek ontslae moes raak. Ek pak die bul toe by die horings en het ‘n verspreider gekry en die boek is toe op die winkelrakke. Ek is trots om te sê dat die boek al ‘n tweede druk gehad het.

Jou karakter Emma se lewe klink verbasend na aan joune. Is dit jou ervarings?
Emma beleef my emosies, al die nyd, afguns en aakligheid wat ek beleef het in my werksomstandighede in New York, maar die gebeure is nie my lewe nie. Die enigste ding in die boek wat met my gebeur het, is die keer toe Emma die Grammies gegatecrash het. Dit was die maklikste episode om te skryf, want dit het met my gebeur. Die res is fiksie.

En die twee romantiese helde, Anthony en Brad?
Ek het tot aan die einde nie geweet watter een van die twee vir Emma gaan kry nie. Ek het ‘n baas gehad in investment banking, maar hy was glad nie so cool soos Brad nie. Met Brad het ek karaktereienskappe gevat en iemand geskep wat bra aaklig is, maar inherent goed. Anthony is so bietjie van ‘n anti-hero. Sy karakter het vanself in ‘n rigting ontwikkel. Maar ek moes van al twee van hulle hou om hulle te kon skryf.

Emma se eerlikste vriendskap is met die karakter Prof. Waar kom hy vandaan?
Prof, ja. Toe ek in NY was het ek geen homeless mense geken nie. Maar terwyl ek geskryf het, het hy vanself uit die niet in my kop verskyn en ek moes hom doodeenvoudig inwerk in die verhaal. Ek moes nogal baie navorsing doen oor homelessness om hom en die kwessie geloofwaardig te maak. Emma se vriendskap met hom is eerlik, want hy is die enigste mens wat niks van haar wil hê nie. Hy was daar om vir haar moeilike vrae te vra, wat sy self moes beantwoord om haar waardes en ambisies in balans te kry. Almal van ons het eintlik ‘n Prof in ons lewens nodig, om ons weer ‘n hupstoot in die regte rigting te gee.

Wat was die moeilikste vir jou?
Alles. Dit vat guts om te begin, guts om te skryf en guts om te sny. Maar dis wonderlik.

Waaraan werk jy nou?
Ek het pas weer bedank om aan my tweede boek te skryf. Dis uit en uit ‘n boek oor Johannesburg. En natuurlik sien ons geweldig uit na die geboorte van ons eersteling wat eersdaags sy opwagting gaan maak.

White Knights, Astrid Fleming (A&A Publishers, R195) kan bestel word by www.kalahari.net of by www.astridfleming.com