Eers is daar  die legendariese sangeres Sonja Herholdt, dan kontroversiële musiekpromotor Louis van Wyk en nou gewese sekswerker en joernalis Karin Eloff, almal die onderwerpe van boeke geskryf deur Carel. Karin het hom ‘n "mobile confession booth" genoem, omdat hy eers in sy onderwerpe se koppe en harte kyk voor hy oor hulle kan skryf. Phyllis Green het hom uitgevra waarom hy juis dié mense se lewensverhale moes vertel.

Ek sien op ‘n webwerf jy word beskryf as ‘n liedjieskrywer, joernalis en skrywer. Vertel meer.
Ek was jare gelede ‘n radiojoernalis by die ou SAUK se Engelse Radiodiens. Ek beskou myself eerder as ‘n liedjieskrywer. Ek het my eerste liedjie geskryf toe ek 12 jaar oud was. Maar ek het besef dis bietjie kort, een versie en ‘n koor, toe herhaal ek maar die koor! Ek skryf inspirasie-liedjies wat ingestel is op die menslike toestand. Ek kan nie oor die plaas en ‘n windpomp skryf nie. My goed gaan oor gevoel en emosie. Ek het nie ‘n stockpile van liedjies nie. Soos ek ‘n kunstenaar leer ken, so kan ek eers vir hulle liedjies skryf. Sonja Herholdt het ‘n paar jaar gelede na my gekom en wou hê ek moet saam met haar aan ‘n projek werk. Ek wou toe weet of sy ná 25 jaar in die bedryf nog iets gehad het om te sê. Wel, sy het, want so het Reconstructing Alice geboorte gekry. Daarna het ek en Sonja ‘n pad geloop.

Ons het vir haar ‘n CD opgeneem met motiveringsgoed vir vroue, Verhale van Vrouwees. Ek het dit vir haar geskryf uit al die rou materiaal wat sy van vroue gekry het, hulle stories. Toe vra sy my of ek nie haar lewensverhaal wil skryf nie. Ek het maar langtand aan die gedagte gebyt, omdat ek myself eerder as liedjieskrywer sien. Ek was deur my hele lewe ‘n closet skrywer. Die loopbaan het op 9 begin toe ek my eerste boek geskryf het - ‘n hele halwe bladsy lank! Nogal oor ‘n ou wat iewers in Alaska met ‘n vliegtuig gecrash het. Die boek het die indrukwekkende naam van Horizon gehad. Ek klim met Sonja se lewensverhaal uit daai closet en pak toe my eerste volwaardige boek aan - Sonja, meisie van Nigel.

Hoe het die skryfproses verloop?
Sonja het bandjies opgeneem wat ‘n redelike chronologiese volgorde gehad het. Ek moes dit toe soos ‘n legkaart aanmekaar sit. Vir my is die belangrikste dat die verhale visueel moet wees. Ek skryf movies, nie boeke nie. Die dialoog en interaksie tussen die mense is vir my die kern. Ek sien die boek dan ook as ‘n fliek en skryf elke hoofstuk so dat dit op ‘n cliffhanger eindig. Mense wil dan verder lees. As skrywer moet ek die hele tyd bewus wees dat ek met algemene mense se bestaan raakpunte skep.

Hoe kom jy toe by Louis van Wyk uit vir jou volgende boek?
Ek het saam met Louis gewerk met Pieter Koen se album, Welkom in my Wêreld. Dit was ná Meisie van Nigel. Hy vra my toe spottend of ek sy boek sal doen, want hy wil ook ‘n spreekbeurt hê. Almal het baie te sê gehad oor hom en in daardie stadium het almal hulle kant van die verhaal reeds vertel. Hy hét ‘n verhaal gehad, hy was onregverdig behandel. Regverdigheid is vir my belangrik.

Louis het die PR van ‘n baksteen, maar hy moes iewers ‘n spreekbeurt kry. In al my boeke, vertel ek namens hulle in die eerste persoon. Louis het toe 'n klomp goed in notavorm, eintlik so 'n lang opstel, aanmekaargetimmer. Ons het lang gesprekke gehad oor ‘n tyd, want die chronologie in sy opstel het ontbreek. Hy was onseker van datums en ironies genoeg, moes hy datums by sy eks, Irene, kry.

Was dit ‘n makliker skrywe?
Met Sonja was dit baie minder moeite, want sy het dagboeke en foto-albums gehad. Louis moes op sy geheue en Irene staatmaak en hy het gefokus op die kontroversie. Sonja s'n was ‘n ware lewensverhaal, maar Louis s'n was minder intens, want hy fokus net op sy "geen spreekbeurt". Ek moes hom in konteks stel, dit was die grootste proses.

Was jy gelukkig met die boek?
Ja, ek was. Ek het uiteraard geweet die boek sou kontroversieel wees. Mense hou òf hou nie van Louis nie. Die publiek se reaksie op Louis was oorweldigend positief, veral mense wat hom nie geken het nie en wat sy weergawe van sy lewe kon lees. Min mense weet, Louis had a life before Steve Hofmeyr.

En Karin Eloff se boek?
Ek dink dis maar na aanleiding van die ander twee boeke. Ansie Kamffer (die uitgewer) het Theunis Engelbrecht gebel en gesê sy het ‘n manuskrip gekry, wat in ‘n boek verwerk moet word en of hy sou belangstel om dit te doen. Hy het gesê sy moet my bel. Sy het my nog dieselfde dag gebel. Ek het toe die manuskrip gekry tesame met ‘n paar leesverslae by. Die proses was moeilik, want ek moes deur ‘n leerskool gaan om met ‘n formele uitgewer te werk. Met my vorige boeke het ek die hele proses beheer, van die font tot hoe die bladsy se uitleg lyk. Met Stiletto was die skryf maklik, want ek en Karin het verskriklik goed oor die weg gekom. Sy is ‘n besonderse mens. Dat sy die seksbedryf oorleef het, is merkwaardig. Ons het nie baie tyd gehad nie, dit was soos ‘n hoëspoed-verhouding, maar ek beskou Karin vandag as een van my goeie vriende. Ons het net onmiddellik gekliek. Sy het deeglik geskryf. Die feite en punte was duidelik. Dit was makliker om in formaat te kry. Ons het die boek saam geskryf.

Hoe voel jy as jy daardie laaste punt maak?
Wat onmiddellik gebeur, is jy kry ‘n insecurity-aanval en jy wonder of dit goed genoeg is.

Wat lê nou vir jou voor?
Ek is ‘n late bloomer. Wanneer ek skryf, wil ek die gedrukte bladsy voor my sien. Ek is besig om ‘n roman te skryf. Vlug. Dis in die pyplyn.
Dan natuurlik Janine se boek, ‘n Tas vol Toeka. Dis letterlik al wat sy oor het. Mens moet haar in konteks plaas. Sy was voor Natasha Sutherland daar en was lank ná Steve en Natasha se huwelik uitmekaar geval het daar en sy was tot die bittereinde daar - tot Steve haar as popster-afleiding afgemaak het. Ons wag nog vir ‘n uitgewer. Daar is baie belangstelling.

Het jy ‘n ritueel of ‘n spesifieke ding wat jy doen wanneer jy skryf?
Dit was die grootste aanpassing van my lewe om te besef ek hoef nie ‘n liedjie met ‘n vulpen te skryf nie. Ek kan op die rekenaar skryf. Ek het ‘n liedjie-skryf pen, van Sterling silwer met ‘n klein granaat in die knip. Ek vrek oor ‘n vulpen.

Vertel bietjie oor jou liefde vir Engels.
Dis alles my pa se skuld. My pa was ‘n diplomaat en toe ek 4 was, het ons met die skip oorgevaar na Engeland om in Londen te gaan woon. My ma en pa was baie ongeduldig met my, want ek het volstrek geweier om Engels te praat. Ek het dit vir ‘n volle ses maande volgehou. Toe sit hulle my in ‘n kleuterskool en kom by ‘n Miss Landy te lande. Ek het gereeld in die hoek gesit en brom oor die Engelspratery tot sy my aan my arm gegryp het en gesê het: "I'll still teach you to love this language." Profetiese woorde. Wel, 17 skole oor die hele wêreld heen, beland ek uiteindelik weer in Pretoria en doen my matriek in Afrikaans. Ek kan mos nie my wortels verloor nie.

En jou eie boek se verhaal en karakters?
Dis ‘n roman, maar ek gaan nie nou al die verhaal weggee nie. My karakters word vir my vlees en bloed. Dis moeilik vir my om te onderskei tussen fiksie en realiteit, want ek moet met hulle leef. Hulle moet so eg moontlik wees - hulle moet my bure wees. Ek begin met hoe hulle lyk en dan begin ek soek na ‘n foto wat hulle pas. Dan het ek hulle daar. Ek leef later deur hulle. Ek sal nou nie deur ‘n sleutelgat loer om hulle te leer ken nie. Ek kyk eerder in hulle harte en koppe, dis waarom Karin my ‘n mobile confession booth noem.

Bestel by www.kalahari.net: Boeke deur Carel F Cronjé:

Sonja, Meisie van Nigel, Sonja Herholdt (SON Music, R151,20)

So jy dink jy wil ‘n ster wees?, die waarheid en ander liegstories, Louis van Wyk (Music Profile Management, R149,60)

Stiletto, deur Karin Eloff en Carel F Cronjé (Tafelberg, R170)