Die enigste oorweging tot diskresie is dat sy geen regte name noem van die mense oor wie sy skryf nie. Almal wat ‘n rol in haar lewe gespeel het, kry ‘n bynaam. Haar pa is Stony, haar ma is Sparrow, haar stiefma is The Chosen. Dan is daar haar kêrels: Trouble, Tainted, The Wrestler, Compulsive, Adonis, The Masterpiece, The Greek. Die kollega saam met wie sy by die radiostasie uitgesaai het, noem sy So-So. Sy vertel in detail wat almal se rol in haar verhoudings was en hoe dit haar lewe beïnvloed het.

Die boek begin so: “I have done some really brave things in my life. I too have done some really stupid ones. The line between these is precariously thin and I have crossed it far too often to distinguish between them.” Hierna volg haar wipkarretjierit-lewe waarin sy van een werk na die ander hop, en ook hoe sy telkens van kêrel verander. Sy spaar haarself nie wanneer sy skryf oor die seks en negatiwiteit in dié verhoudings nie. Haar lewensreis is nie ‘n kalm en gemaklike of maklike een nie. Maar sy eindig haar boek, An Appetite for Peas (Kwela Boeke, R195) met dié woorde: “I, through forgiveness, have found true compassion and a deep lasting love. For myself. The only love I will ever need.

Sy het ‘n paar vrae oor haar lewensverhaal per e-pos beantwoord.

Waarom wou jy die boek skryf?
Ek het altyd geskryf. As jong meisie was lees en skryf my gunsteling-tydverdrywe. Ek wou ‘n goeie storie skryf, een wat die waarheid is, en ek het geweet my beste verwysingsraamwerk is my eie lewe. Dis quirky, snaaks en opwindend sonder om te dramaties (depressief) te wees en lewer ook openbare kommentaar op die gemeenskap in die algemeen. Kortliks, ek het genoop gevoel om ‘n storie te vertel waarmee die meeste vroue hul kan vereenselwig.

Jy is nogal eksplisiet oor die besonderhede van jou lewe. Was jy bekommerd oor hoe die boek ontvang sal word?
Ja, ek was vir ‘n ruk. Om jou lewensverhaal so grafies en openlik te skryf, beteken die hele ervaring van neerpen tot publikasie is ‘n proses. ‘n Proses van laat gaan, van kwytskelding en vrede maak. Ek was bekommerd oor my familie, maar ná lang besprekings was selfs hulle ondersteunend. Die idee agter die boek was nooit om iemand skade te berokken nie, maar heeltemal die teenoorgestelde, daarom was ek vol vertroue die waarheid sou my op ‘n manier bevry. Ek is verheug om te hoor vroue (en mans) vind die boek word ‘n katalisator vir hul eie nadenke en vergifnis; ek kan nie meer dankbaar wees nie.

In die boek praat jy baie van hoe jou lae selfbeeld jou aangemoedig het om betrokke te raak in verhoudings wat nie noodwendig goed was vir jou nie. Wat het jy oor jouself geleer deur hierdie onthulling oor jou lewe te skryf?
Ek sou dit nie noodwendig beskryf as ’n lae selfbeeld nie, want ek het altyd emmers vol selfvertroue gehad. My primêre verhoudings het my spartelend gelaat met die behoefte aan liefde, en dít het gelei tot impulsiewe en onbesonne keuses van mans. Ek dink nie dis uniek onder vroue nie. Een man wat die boek gelees het, het gesê hy bêre die boek vir sy tienerdogters, want hy glo dit moet verpligte leesstof vir tienermeisies wees. Ek vind baie vroue ontdek wanneer hulle ouer word – nie net omdat hulle hul lewensverhaal geskryf het nie – dat ‘n verhouding, ‘n ander mens, ‘n man, jou nie gelukkig kan MAAK nie. Om ‘n liefdevolle en volkome vrou te wees, beteken om verantwoordelikheid vir jouself en jou gevoelens te neem, jou ‘wonde’ te genees en om nie iemand nodig te hê om jou enigiets te maak nie. Jy, as vrou, moet jouself liefhê en dit geniet om jouself te wees. Eers dán kan ‘n maat jou ruimte verbreed, en dit lei tot baie minder onenigheid en wrywing. DAAR IS GEEN PRINS NIE. Jy is reeds ‘n KONINGIN.

Het jou houding jeens verhoudings verander en is jy nou in ‘n gelukkige, stabiele verhouding?
My houding jeens verhoudings het dramaties verander. Ek het geen behoefte nie, ek voel gemaklik met myself en is lief vir my eie geselskap en ruimte. Ek het ‘n pragtige seun wat my baie besig hou en sy pa pendel.

In die boek sê jy die enigste ding waarna jy gestreef het, was om beroemd te wees. Het roem vir jou geluk gebring?
Ek is nie seker dit is die ENIGSTE ding waarna ek gestreef het nie, ek was absoluut DOL op, en is steeds dol daarop, om te vermaak. My idee van ‘n vermaaklikheidskunstenaar was dat jy roem moes hê om dit te kan doen. Ek dink dis ‘n baie moeilike balanseertoertjie om in die kollig te wees en dis nie ‘n plek waar ek gemaklik voel nie, maar die reis deur roem was ‘n interessante een . . .

Wat is die skadukant van roem?
Jy is openbare besit. Die publiek voel hulle kan doen en sê net wat hulle wil en dis jou plig om ondeurdringbaar te wees vir die kritiek of kommentaar. Jy word ‘n objek en jou gevoelens word selde of ooit in ag geneem. As jy winkel toe gaan met scruffy hare, en jy voel opgeblase en moeg, sal iemand sommer iets ongeskiks in jou gesig kwytraak, maar meestal maak hulle aanmerkings agter jou rug (binne hoorafstand, vir effek).

Wat beskou jy as die belangrikste vormingsoomblik in jou lewe?
Sonder twyfel, as enige vrou nie dieselfde antwoord gee nie, sal ek geskok wees . . . om ‘n ma te word.

Wat is die belangrikste les wat jy jou kind wil leer?
Om getrou te wees aan homself en om sy woord te hou. Om jouself in die oë te kyk, ten spyte van ander se opinies, is die belangrikste lewensvaardigheid. Dis nie tussen jou en hulle nie, jy moet jouself liefhê.