Die afreis van Abel Lotz (Human & Rousseau, R195) is die finale aflewering in die trilogie wat dié psigopatiese alleenloper se verhaal vertel. Met Ella Neser wat die lewe vir hom warm gemaak het, gee hy pad uit Suid-Afrika en skep vir hom ‘n nuwe lewe in Brugge. Daar kan hy nie anders as om weer te begin met sy gruweldade van velle oes nie. Helaas, hy is glad nie ontslae van Ella nie, want sy duik in Brugge op. Sy het ‘n spesmaas gehad dat hy moontlik daar is en kon ‘n geleentheid om toevallig soontoe te reis vir vakansie nie laat verbygaan nie. Wens alle speurders was so ywerig!

Gevra oor die titel, antwoord Chris dat hy daarvan hou om goeie Afrikaans te gebruik en dat ‘afreis’ ‘n woord was wat met hom gepraat het. Natuurlik sal hy ‘n Engelse woord in sy boek gebruik, maar net as dit regtig daar hoort. Ek het op ‘n onlangse besoek aan Suid-Afrika met Chris gesels oor die pad wat hy saam met Abel gestap het.

Jy woon in Kanada. Was dit ‘n groot aanpassing?
Dis steeds ‘n aanpassing. Ons is nou twee jaar daar en het eers in Halifax in ‘n woonstel gebly net om ons voete te vind, voordat ons begin uitkyk het vir ‘n plek buite die stad. Ons wou nie in die stad bly nie. Ek het in Johannesburg genoeg gehad van die stad. Die eiendomsagent was soos ‘n toergids en het ons na verskillende plekke in die platteland geneem net om die gebied te leer ken. Toe ontdek ons hierdie oulike dorpie met die naam Lunenburg, en my vrou besluit dís waar sy wil bly. Dis aan die kus. My vrou is Kanadees en wou altyd teruggaan Kanada toe. Sy het haar hele lewe in Suid-Afrika gebly. Ek kan verstaan dat jy uiteindelik na jou eie land wil teruggaan.

In jou lang loopbaan het jy te make gehad met misdaad- en politieke verslaggewing. Het dit ‘n invloed gehad op die trilogie van Abel Lotz?
Toe ek destyds padgegee het uit Johannesburg na ‘n buitekantoor toe, moes ek weer alles doen, veral misdaad en hofverslaggewing. Toe het Human & Rousseau my gevra om ‘n reeks boeke te skryf oor ware misdaadgevalle. Elke boek bevat tien gevalle en daar is in totaal sestig gevalle wat ek beskryf. Van die goed was so afgryslik vir myself. Dit het my laat dink, want elke joernalis het mos maar die aspirasie om ‘n boek te skryf. Met daai agtergrond, eerstens die joernalistiek en tweedens die sestig gevalle wat ek moes deurwerk, het ek  darem ‘n goeie basis gehad om met my fiksie te begin.

Daai reeks ware misdaadgevalle spesifiek moes nogal baie navorsing geverg het.
Dit het. Jy kan nie daar foute maak nie, want dis regte mense oor wie jy skryf, nie jou eie skeppings nie. Dis werklike mense, naasbestaandes en oortreders met wie jy te doene het. Ek het nooit my mening probeer gee in die verhale nie. Ek het altyd probeer om ’n klein bietjie insig te gee aan die kant van die oortreder, die moordenaar: waar kom hy vandaan, is dit moontlik dat hy so iets kon doen om iemand se lewe te neem? Ek het ook nie die slagoffer se kant gekies nie. Die ou was dalk ‘n slagoffer van die omstandighede waarin hy grootgeword het of die omstandighede van die land het hom gedryf om so iets te doen. Dis nie vir my om te oordeel nie.

Met die skryf van so 'n reeks kyk jy mos dieper na misdaad. Kyk jy nou anders na goed wat in Suid-Afrika gebeur noudat jy meer verwyderd is daarvan?
Ja. Ek het ‘n sekere afstand gekry en my perspektief het ook verbreed. Dinge wat in my buurland Amerika gebeur spoel dikwels oor na Kanada. Jy raak so betrokke by dit wat in Amerika gebeur dat dit jou ‘n ander perspektief gee as jy na Suid-Afrika kyk - die oënskynlike normaliteit wat jy daagliks raaksien tussen mense, jy weet nie wat in die mense se koppe aangaan nie. Jy weet nie wat agter hul deure aangaan nie. Dís die sinistere, onheilspellende deel van misdaad. Dit het vir my lank gevat om aan te pas in Kanada, in ‘n gemeenskap waar mens nie deure hoef te sluit nie, waar fietse buite op die gras lê en jy geen vrees hê dit sal gesteel word nie.

En die aanpassing om van die feitelike oor te gaan na die skryf van fiksie?
Die skryfproses is totaal anders. Ek het ‘n biografie van Truman Capote gelees en hy het gesê wanneer jy op ‘n joernalistieke vlak oor misdaad skryf, beweeg jy op ‘n horisontale vlak; jy gee die feite weer en kry die mededelings en skryf dit. Die oomblik as jy fiksie begin skryf, moet jy dieper delf. Dan begin jy meer agterkom hoe mense se koppe werk; jy moet motiewe gee; jou fiktiewe karakters moet persoonlikhede word en jy het die vryheid om vir jou karakter ‘n snor en ‘n baard te gee. As jy met die werklikheid werk, het jy nie daai vryheid nie. Jy moet skryf soos dit is.

Het jy ‘n donker kant aan jou waaruit jy put, wanneer jy so met Abel werk?
Ek het nie ‘n donker kant nie. Ek is emosioneel werklik geraak deur daai sestig ware verhale en moes myself net eers probeer afskakel. Met Abel se verhaal is die enigste donker kant nie ‘n donker kant nie. Toe ek oor hom geskryf het, het ek oorfone opgesit en na Paganini se vioolmusiek geluister. Ek en Abel het só ‘n aansluiting, want dis ook sy gunsteling-musiek. So kon ek onder sy vel inkom.

Waar het die saadjie vir Abel se verhaal vandaan gekom?
Ek is nooit seker nie. Ek het baie jare terug die film Psycho gekyk. Dis gebaseer op ‘n regte geval, dié van Ed Gein. Hy was ‘n alleenloper en het nooit ‘n vrou of iets gehad nie. ‘n Vrou het weggeraak en toe die polisie na haar soek, het hulle op Gein se spoor afgekom. Sy is by sy plaashuis gekry, waar sy soos ‘n skaap aan ‘n vleishaak opgehang is. Hy het haar oopgeslag en haar vel begin afsny. Soos hulle deur die huis gegaan het, het hulle artikels gekry wat met mensvel oorgetrek is. Gein het vrouelyke gaan opgrawe en hul velle afgeslag vir stoele en lampskerms. Hy is uiteindelik net aan die een moord skuldig bevind. Die waarheid is altyd vreemder as fiksie.

Toe jy met Abel se eerste boek begin het, het jy ‘n idee gehad dit gaan ‘n reeks wees?
Nee. Ek het probeer afwyk van gewone speurverhale. Ek wou hierdie moordenaar skep, ‘n alleenloper, en die leser moes onmiddellik weet hy is die moordenaar. Die leser moes meemaak hoe hy die moorde pleeg en weet wat sy motiewe is. As teenpool vir hierdie lelike, middeljarige, psigopatiese man het ek die speurder ‘n jong, onervare vrou gemaak. Aan die einde van die boek kon ek nie vir Abel laat doodgaan nie. Toe ontvlug hy. Ek het die manuskrip ingestuur en ‘n antwoord van die uitgewers gekry dat Abel ‘n trilogie moes raak. Toe besef ek ek het my in iets begewe wat ek nie so beplan het nie.

Was dit toe vir jou heel natuurlik om die tweede en derde boeke te skryf?
Ek moes gaan sit en dink. Vir die toevallige leser, wat nie die eerste boek gelees het nie, moes elke boek so skryf wees dat dit op sy eie kan staan. Dit het nogal beplanning gekos.

Wat is jou skryfstyl wanneer jy so projek aanpak?
Ek kry die idee van ‘n karakter, die Ed Gein-een, en dan dink ek aan ‘n teenpool vir hom en toe kom ek op Ella af. Dan eers begin ek dink aan die storie. Ek het nie gesit en ‘n outline gemaak van die hele boek nie. Ek het begin met my storie en daarna begin navorsing doen. Dit vat my so vier maande. Daarna begin ek voluit skryf, sewe dae ‘n week. Ek het so vaagweg ‘n idee waarheen die storie beweeg, maar ek het nie vooraf die hoe en wat nie.

Abel reis nogal baie. Het jy al die plekke besoek waar Abel was?
Ek probeer om self by al sy bestemmings uit te kom. Ek was in Brugge. Dit was die ideale stad met sy Middeleeuse argitektuur, groot katedrale en klein donker straatjies vir Abel en Ella Neser om finaal teen mekaar te staan te kom.

Is daar ‘n moontlikheid dat ons in die toekoms weer vir Ella Neser gaan raakloop?
Aan die einde van die boek laat ek die deur oop vir Ella. Maar dit sal nie dadelik wees nie. Ella het nou gegroei. In die eerste boek was sy baie naïef. In die tweede een staan sy bietjie meer op haar voete en in die derde een ontwikkel sy. Sy raak selfgeldend en seker van haarself in die manswêreld waarin sy lewe. Sy begin ‘n rok dra! Ek het die deur vir myself oopgelos, want ek het ook van haar begin hou.

Abel se storie kan maklik ‘n rolprent word. Is daar planne vir so iets?
Die opsie is verkoop kort ná die boek verskyn het. Hulle begin volgende jaar Maart of April verfilm en het reeds vir my die konsep-draaiboek gestuur. Ek het geen sê daaroor nie, dis uit my hande. Ek probeer visueel wees wanneer ek my boeke skryf. Dit sal lekker wees om te sien watter akteur die rol van Abel gaan speel. Ek weet nie wie hulle gaan kies nie. Daar is al ‘n paar name rondgegooi.

Was jy verlig om vir Abel te los?
Ja. Drie boeke is genoeg. Die gruwels raak te veel. Ek het intussen ‘n ander boek geskryf waarmee ek die tweede prys in die Groot Afrikaanse Romanwedstryd losgeslaan het. Maar ek het dit al ná die tweede Abel-boek begin skryf, want ek het gevoel ek moet eers bietjie asem skep.

Ek het gaan kyk na alles wat jy al geskryf het, jeugboeke, nie-fiksie en fiksie.
Die twee jeugboeke was die eerste goed waarmee ek begin het, maar lank uit mekaar uit. Ek het ‘n behoefte gehad om so iets te skryf. Daarna was ek nuusredakteur van Rapport en toe adjunk-redakteur en daar was net nie tyd om te skryf nie. Fiksie neem baie tyd in beslag. Nadat ek uit Johannesburg padgegee het en my lewe rustiger geword het, kon ek weer skryf. My joernalistieke agtergrond maak dat ek nie halfgebakte of pretensieuse goed wil skryf nie. Ek wil ook nie hê die navorsing moet die storie rondswaai nie, maar ek het gevoel met elke onderwerp moet ek volledig weet wat aangaan. Eerder te veel as te min, want jy gaan altyd ‘n leser kry wat gaan sê jy het ‘n fout gemaak.

Hoe voel dit om tweede te kom in die Groot Afrikaanse Romanwedstryd?
Dis ‘n geweldige kompliment, veral as jy sien wie almal ingeskryf het. Eben Venter, Willem Anker, Ingrid Winterbach, dis letterkundiges wat ek nie probeer voorgee ek is nie. Ek is allesbehalwe ‘n literêre skrywer. Ek skryf maar net soos ek skryf.