Dis ‘n kru en skokkende bekendstelling aan die karakter Mignon, oor wie die verhaal grootliks gaan. Mignon se familie is Jehova se Getuies en sy is Maggie se skoolvriendin van meer as dertig jaar gelede. In geen onsekere terme verduidelik Mignon vir Maggie hoe haar ma se obsessie “met haar tweetong-godsdiens” haar lewe opgef... het. Jy ervaar saam met Maggie die skok en ontnugtering van hoe Mignon se lewe in ‘n rigting gestuur is bloot omdat sy gebore is in ‘n familie wat Getuies was en hoe hierdie enkele ding haar en ander familielede se lewens onherroeplik verander het.

In Getuie  (Human & Rousseau, R195) onderlê deeglike navorsing oor die praktyke van dié godsdiens die verhaal, sonder om afbreek aan die vloei te maak. Jy leer saam met Maggie waarom Mignon nie met die godsdienspraktyke kon saamleef nie, en jy wroeg saam met Maggie deur haar eie vrae en onsekerhede oor haar verhoudings met die mense in haar lewe. Jy beleef ook haar uiteindelike aanvaarding van hoe hierdie kwessies haar lewe beïnvloed het. En dan is daar nog die keuse wat sy aan die einde van die verhaal moet maak. Wat hierdie boek doen, is om vir lesers die wêreld van Jehova se Getuies oop te maak en meer te vertel oor die geskiedenis en praktyke daarvan. Jy het beslis meer begrip vir hoe die godsdiens die karakters se lewens gekompliseer het.

Vir Barkhuizen le Roux is dit ‘n verhaal wat sy moes vertel, want sy hou van skryf oor mense se wroeging en die dinge wat hulle laat tiek. Verder was daar toevallighede in haar eie lewe wat bevestig het sy moet die boek skryf. 

Waarom het jy so laat in jou lewe begin skryf?
Ek het altyd hierdie ding gehad van ek wil skryf. Op skool was dit opstelle. Toe is ek universiteit toe. Ek is getroud ‘n jaar ná ek klaargemaak het en het toe op ‘n plaas gaan bly, 30 km van die dorp Barrydale af. Toe het daai ding begin lewe kry. Ek was afgesonder en alleen en daar was iets hier binne my wat moes uitkom. Dit het begin met gedigte en kortverhale ook. In 1994, nadat ek van ‘n ATKV-skryfskool af teruggekom het, het ek geweet dis wat ek met my lewe wil doen. Dit was ‘n baie moeilike pad, want ek sit op die plaas sonder internet en nie juis selfoonopvangs nie. Maar ek het aangehou met gedigte skryf, wat op die ou einde by Ronnie Belcher beland het en hy het dit uitgegee. Toe is ek terug universiteit toe vir ‘n honneurs en ‘n meestersgraad in Afrikaans en Nederlands. Intussen het Padmaker al lankal gelê. Ek het die verhaal volledig oorgeskryf en herskryf as deel van my studies.

Hoe moeilik was die sprong van poësie en kortverhaal na ’n vol roman?
So dertien jaar gelede, voordat ek Padmaker die eerste keer begin skryf het, het ek vir Hans du Plessis ‘n gedig gewys. Die titel van die gedig was Bêrebrood en dit het gegaan oor ‘n dogterjie wat vir haar pa by die hek staan en wag, die padmakerpa. Hans het die gedig gelees en vir my gesê: “Christinatjie, hierdie is nie ‘n gedig nie. Dis ‘n roman.” En daai aand het ek gaan sit en met die hand begin skryf. Oor die wisseling tussen die genres – ‘n roman is vir my soos ‘n kasteel met baie vertrekke, sale en kamers en op ‘n manier moet jy alles met mekaar verbind. ‘n Kortverhaal is vir my soos een vertrek waarbinne alles binne ‘n beperkte tyd afspeel. ‘n Gedig is die plantjie wat buite in die skaduwee groei, wat baie min mense raaksien. Dis soos ‘n verwisseling van ratte en in elke rat doen jy iets anders. Elke genre het sy eie dissipline en dan moet jy oorskakel na daai dissipline toe.

Broei jy baie oor ‘n tema voordat jy begin skryf, of is iets wat gebeur die afspringplek vir ‘n verhaal?
Nogal. Getuie het begin by ‘n vriendin, ‘n maatjie van lank gelede, wat ek weer ontmoet het. Sy het vertel hoe destruktief hierdie fundamentele godsdiens haar lewe beïnvloed het. Dit het begin krap en begin broei. En broei. En toe begin ek lees daaroor. Geleidelik het ‘n storie begin ontwikkel. Toe skryf ek dit. As ek die ding natuurlik net eers op papier het, kan ek begin organiseer en herorganiseer en ‘n stuk vorentoe of agtertoe skuif.

Padmaker en Getuie het ontstaan uit eie ervaring. Is dit vir jou belangrik om uit eie ervaring te skryf?
Ek skryf eintlik altyd so. Ek moet ‘n verhouding hê met die mense wat ek gaan skep. Ek moet myself in die boek kan voel. Op ‘n manier moet ek altyd self daar wees, nie as ‘n karakter nie, maar my wese moet in die boek wees.

Getuie handel oor die lywige tema van fundamentele godsdiens. Was jy benoud oor hoe die boek ontvang sou word?
Ja, my seun het gesê: “Ma moet oppas.” Voorin het ek ‘n aanhaling van Salman Rushdie en ons weet almal watter pad hy geloop het. Ek was nie benoud nie, maar ek het wel daaroor gedink en ek dink nog altyd daaroor. Maar ek glo ook as my oortuiging vir my sê ek moet dit skryf omdat hier buite mense is wat dit moet weet, dan moet ek dit doen. Dis vir my ‘n soort verantwoordelikheid, ook teenoor die mense wat nie weet nie. Dis nie oor ek dink ek is die groot profeet wat alles in die lig gaan stel nie, maar as dit so hard by my aandring dat dit geskryf moet word, dan moet dit geskryf word.

Het jy die titel van die begin af gehad, of het dit by jou opgekom soos die skryfproses gevorder het?
Ek dink dit was van die begin af in my kop, anders as met Padmaker. Met Padmaker het ek eers ander titels gehad wat op die ou einde nie gewerk het nie. Hoe verder ek aan hierdie boek geskryf het, hoe meer het ek besef dis die regte titel, want dit gaan nie net oor die Getuies nie, maar ook oor getuies en getuienis van goed wat gebeur.

Die navorsing is baie omvattend. Hoe besluit jy wat is in en wat is uit?
Die navorsing moes my verhaal ondersteun. Ek het baie navorsing gedoen, maar daar was sekere goed wat ek nie kon aanraak nie. In ‘n stadium het ek gevoel ek raak oorweldig, ek moet nou ophou. Dit moes nie lyk soos ‘n boek net vol feite nie, maar mense moet weet oor die Getuies. Ek het hierdie maatjie gehad en ek het nooit weer gedink aan die Getuies nie, behalwe wanneer hulle by jou huis kom klop en jy wil hulle nie inlaat nie. Toe ek haar verhaal hoor en begin oplees, het ek besef in hoe ‘n mate hierdie mense slagoffers is. Dis eintlik ‘n godsdiens met twee verskillende bene. Die een is die leiers bo wat hierdie mense breinspoel en misbruik. Dis ‘n geldmaak-organisasie. Daar is miljoene der miljoene dollars op die spel. Die mense wat in die veld werk, wat die publikasies verkoop en versprei, besef nie dis ‘n geldmaakstorie nie. Ek wou die leiers blootstel en ek wou wys dat die Jehova se Getuies eintlik die prooi van ander mense is.

Maggie en Mignon is in die verhaal eintlik al twee buitestaanders.
Presies. Dit gaan ten diepste ook oor buitestaanders. Bea, die jongste sussie van Mignon se ma, is ook ‘n buitestaander. Miskien voel ek self op my manier eintlik my hele lewe lank ook ‘n buitestaander.  Iemand wat daar staan en kyk wat aangaan. Daarom skep ek karakters wat buitestaanders is. Ek wil hê mense moet met nuwe oë na hulle kyk en nie net Jehova se Getuies, of wie ook al, sien nie. Hulle moet agter daardie titel en etiket ingaan en daar kyk, want mense oordeel so maklik. Dis vir my baie belangrik dat mense nie so maklik moet oordeel nie.

Waarom het jy Maggie so ’n gefolterde karakter gemaak, veral aan die einde van die verhaal waar jy haar met die grootste dilemma belas?
Ek het haar na die einde toe sterker gemaak. Sy het in die verhaal deur ‘n groeiproses gegaan. Dit was vir my so lekker toe ek in Passau op die Mariahilf-kerk afkom, want ek het nie geweet daarvan nie. Ek het net geweet dit moet in die boek in. Want Maggie soek ‘n antwoord en ek het gedink dis nogal funksioneel om dié kerk as haar katalisator te gebruik. Ek het gedink ek het die slot van die boek, toe ry ek eendag van ‘n vertalerswerksessie af op pad om ‘n onderhoud met ‘n paroolbeampte te gaan doen vir dié boek. Skielik slaan dit my wat die einde moet wees! Die leser moet ook sit met die vraag wat gaan Maggie doen en wat is die implikasies na albei kante toe? Maggie is regtig in ‘n catch-22-situasie.