Hier waar hy voor my sit in die koffiewinkel in Linden is hy duidelik tuis in sy vel. Daar was ‘n tyd toe hy ‘n tiener was en ook moes skaaf en meet en pas aan daai vel. Kort, bebril, rooi hare, sproete en boonop vol puisies - dit was nie maklik nie. Maar hy het daai vel laat pas en nou is hy gemaklik en vol selfvertroue daarin. Vir party mense bly hy aweregs, maar dis hoe hy is en dis hoe hy na die wêreld kyk deur sy Deon-bril. En natuurlik het hy opinies oor hoe hy die wêreld sien. Hy is uitgesproke en skroom nie om sy stem te laat hoor oor alles en nog wat nie.

Ons het ontmoet om te gesels oor sy boek, Witboy in Afrika (Tafelberg, R180), wat onlangs verskyn het. Dis nie ‘n konvensionele reisverhaal, wat plekke en reise beskryf nie. Dis eerder ‘n vertelling van Deon se ervarings van plekke, die atmosfeer, die mense, die musiek en hoe hy sin maak uit die ou lotjie. Hy skryf uit sy eie oogpunt en gee ook agtergrond oor insidente en plekke, en vertel ook so bietjie van die geskiedenis van die plek waar dit relevant is. Soms is dit amusant en soms is dit ernstig.

Sy pratery vanoggend maak my taak baie maklik, want dikwels het ek net nodig om een word te sê wat hom ‘n stortvloed sinne laat kwytraak. Hy erken self hy het soms verbale diarree en dat hy vanoggend besonder baie praat. Nie dat ek omgegee het nie. Dit was ‘n lekker en interessante gesprek.

Is jy opsetlik aweregs?
Ek was vyf jaar oud toe ek die eerste keer pak slae gekry het oor my opinie. Dis nie iets wat ek aangeleer het nie. Ek maak nie ‘n statement as ek dit nie kan back up nie. Met Idols, na 12 jaar in die platebedryf, het ek ‘n uitlaatklep gekry om goed te kan sê. Ek was soos ‘n gasbottel wat kon ontlaai. Ek was bang om die plot te verloor en te erg aan te gaan. My eksvrou was my reality check en het my op die straight en narrow gehou. Op 46 was ek vir die eerste keer famous - ek het ‘n drywer gehad wat my kom haal het en ek is bedien, ens. Wanneer dit gebeur - jy moet so konsentreer om nie grip op reality te verloor nie. Een van die maniere hoe ek eg gebly het, is om tjommies te maak met die crew en saam met die kameramanne te eet.

Is fame lekker?
Dit was ‘n groot skok vir my. Ek het nooit besef watter impak dit op my lewe sou hê nie. Jy het geen privaatheid nie. As jy op TV is, is jy almal se pêl. My privaatheid was geskend. Al hierdie goed het binne ‘n twaalf maande tydperk gebeur. "My year of being famous!" Ek het na ‘n jaar afgetree en wou nie meer aanbied nie. Dit was ‘n interessante sosiale eksperiment. Ek is bly ek het dit gedoen, maar wil nie weer nie. Ek het ook baie goed geleer oor myself in daardie tyd. Ek het Idols as ‘n platform gebruik om myself te elevate tot iemand wat ernstig opgeneem word. Idols het my selfvertroue gestimuleer. Glo my, jy het baie selfvertroue nodig om ‘n boek te skryf.

Wou jy altyd ‘n skrywer wees?
Toe ek so nege of tien was, wou ek ‘n joernalis word. Actually nie noodwendig ‘n joernalis nie, maar iemand wat skryf - of boeke of vir die koerante. Dis ironies dat ek weg is uit die joernalistiek toe ek 30 was en dat ek weer terug is toe ek 44 is. Dis interessant dat die milieu in joernalistiek nie juis verander het nie.

Ek het iewers raakgelees dat jy by ‘n bank gewerk het. Ek kan my jou nie voorstel in so 'n korporatiewe omgewing nie. Hoe nou?
Dit was so bietjie korporatief. Ek het vir ENB se jeugrekeninge BobT en Junior Bob twee tydskrifte gehad. As redakteur van die tydskrifte het ek carte blanche gehad en kon ek doen wat ek wou. Ek moes cope met die bank se burokrasie ook, maar dit was ‘n klein opofferinkie. Dit is moeilik om weg te kom van die "golden handcuffs". Dis ‘n maklike keuse, maar moeilik om te implimenteer oor die erge finansiële implikasies. Vandaar is ek na die musiekbedryf. Dis opwindend, maar moeilik, want jy werk meesal snags en daar is baie temptations. En ek het ‘n vrou en twee jong kinders gehad.

Hoe het jy in die musiekbedryf beland?
Ek het by RooiRose ondersoekende joernalistiek gedoen. Dit was ‘n bloeityd in die joernalistiek. Ek het stories gedoen oor die junkies in Hillbrow en oor straatkinders. Ek het ook al wat ‘n musiek gig is, bygewoon en het daaroor geskryf, ook vir ander publikasies. So het ek mense in die bedryf leer ken en het ek toe by Tusk beland. Tusk is bestuur deur ‘n klomp cowboys. Jy kon elke mal idee aan hulle voorlê en hulle sou daar en dan besluit en ons kon dit vinnig implimenteer. Dit was opwindend. Ek het gewerk met kunstenaars soos MarcAlex, Little Sister, Mango Groove, Squeal en Kerkorrel. Ek het niks geweet van die inner workings van die musiekbedryf nie en het in 1992 ‘n Afrikaanse musiekafdeling vir Tusk begin. My kantoor was ‘n stoorkamer met ‘n rekenaar en ek het R20 000 gehad om dit te laat werk. Ek het agtergekom Cora Marie het geen platekontrak gehad nie en het haar toe geteken. Toe maak ons geld. Toe teken ek Kerkorrel en toe Prophets of da City. Die ding wat ek geniet het van die musiekbedryf is ek kon die oggend ‘n persvrystelling skryf met ‘n paar punchlines in en die volgende dag is daai punchlines algemene gebruiktaal op die radio en in die media. Ek het baie pret gehad. Ek is van Tusk af na Gallo toe, maar hule het die burokrasie van die staatsdepartemente na kinderspeletjies laat lyk. Dit het my frustreer en ek is weg om my eie ding te doen. Ek het besef ek gaan of meer Deon-tyd hê of meer geld - ek sou enigeen van die twee vat.

En dis hoe Meerkat Media begin het?
Die eerste jaar was rof. Maar ek het nooit getwyfel dit gaan werk nie. Ek het twee dokumentêre films gemaak: "My Big Fat Afrikaner Wedding" en "Who killed Johannes Kerkorrel?" Dit was baie suksesvol. Ek is ‘n paar maal gevra om weer TV goed aan te bied, maar het elke keer nee gesê. Ek het uiteindelik ja gesê vir my reeks "SaterdagNag" en daar het ek met goed in Afrikaans weggekom waarmee die Engelse media nie sou kon wegkom nie.

En waar pas "Witboy in Afrika" in en hoe het jy die boek geskryf ?
Ek het ‘n klomp rubrieke geskryf en toe het Rapport gebeur. Ek het toe baie begin skryf. Ek het toe ‘n boek-deal gehad, maar dit het nie heeltemal uitgewerk nie. Met ‘n kuier met Kerneels Breytenbach het alles in plek begin val en is ek deur die proses by NB. My redakteur, Annie Olivier, is soos ‘n spiritual guide deur die hele boek. Ek moes skryf, maar ek moes terselfdertyd my maatskappy aan die gang hou. Ek het die eerste hoofstuk geskryf en het toe ‘n deadline gekry om nog hoofstukke af te gee. Maar ek is toe Nigerië toe vir werk en daar breek my laptop.

Ek maak ‘n movie in my kop en dan skryf ek dit. Die grootste deel van die boek is in 12 dae geskryf. Dit was baie intens. Ek het opgestaan en my vasgekluister in my studeerkamer en vir minstens twaalf ure geskryf. Ek lees niks terug nie, ek skryf net. Die afgelope 3-4 jaar het soveel goed gebeur. Dis asof ek besig is om ‘n brander te ry en dan breek die volgende brander al. Ek kon nie terugsit en contemplate nie. Die boek was terapeuties, soos een lang sielkundige sessie. Ek was so moeg na die boek. Dit was moeilik om uit te gaan, maar terselfdertyd was ek op ‘n high.

Ek sien jou boek word beskryf as ‘n reisverhaal. Hoe beskryf jy jou boek?
Skrywers waarvan ek hou, is Hunter S Thompson, Harry Crews, Charles Bukowski, Larry Brown en Jerry Stahl. Hulle het ‘n impak op my gelos na ek hulle gelees het. Dis nie eintlik reisverhale nie, dis eerder "participatory journalism'' en dis hoe ek oor my boek ook voel.

Hoe is dit om in Afrika te reis?
Die tipe mense met wie ek uithang in Afrika is opgevoede mense, dis filmmakers, akteurs, musikante, radio-DJ's en skrywers. My Afrika is ‘n middelklas en kreatiewe een. In Nigerië werk ek saam met 300 mense aan ‘n program op ‘n daaglikse basis. Ons het klaar ‘n aanknopingspunt. In Malawië met drie vreterige tieners - ons het goedkoop kos nodig gehad en ek moes aan die hoof van die vismark verduidelik ek is ook ‘n African sodat ek ‘n goedkoper prys kon betaal vir ons kos. Die crew in Nigerië beskou my as ‘n African en daar is totale aanvaarding. Dit gaan oor die kennis wat ek het. So as ek gesels, kan hulle sien ek weet iets. Ek reis nie as ‘n gewone toeris nie.

Jou angswekkendste oomblik in Afrika?
Daar was twee, in die Kongo saam met die dronk Sekuriteitshoof. Ek is nooit bang in so 'n situasie nie. Ek besef eers na die tyd wat gebeur het en dan dink ek, "I pulled it off. Cool vir jou." Die ander tight situasie was in Nigerië met die sogenaamde "area boys", toe ek die hek oopgemaak het. Wat my gered het, was dat ek die balls gehad het om hulle te konfronteer. Ek glo in predestiny - die plek, datum en tyd van my dood is klaar bepaal. Mens kan dit nie beheer nie. Dit help my baie in moeilike situasies.

Waar was jou beste musiekervaring in Afrika?
Ek kan nie sê nie. Musiek gaan oor emosie. Vir my het elke land se musiek ‘n karakter van sy eie en ervaar ek daai musiek vir dit wat dit is wanneer ek daar is. Afrika is ‘n deurmekaar spul, maar daar is ook ‘n vryheid. Die chaos van Afrika het ‘n sjarme, as jy verby die gemors kyk, wat jou oomblikke gee wat jy op jou doodsbed sal onthou.

Wat lê nou voor?
Ek werk al aan ‘n plan vir ‘n paar Witboy-boeke. Witboy gaan in elke titel feature - Witboy in die stad. Dan reis hy in New York, Antwerpen en Praag en trek ‘n vergelyking met wat in SA gebeur in Kaapstad, PE en Pretoria. Die boek daarna is Witboy in Oos-Europa (dit wat deel was van die ou USSR). Ek wil elke jaar April ‘n boek die mark in stuur. Daarna is dit Witboy in Skandinawië en dan Witboy in China. Ek werk met ‘n plan. Ek het myself belowe ek gaan ‘n Oscar wen voor ek 50 is. Ek het die droom opgegee om die boek te skryf, so daar moet 'n groter spin off wees, plaaslik en internasionaal, om die Oscar wat ek prysgegee het te regverdig. Ek is ook besig met ‘n dokkie oor punk in Afrika - die rol wat dit gespeel het om politiek te verander. Ek het dit verkoop aan Red Bull Media in Europa. Dit gaan dalk langer vat om daai Oscar te wen, maar dis nie onmoontlik nie.

*Witboy in Afrika en Witboy in Africa is op Exclusive Books se Homebru-lysie van Suid-Afrikaanse boeke wat hulle aanbeveel.