En maggies, lok die boek nou reaksie uit! Almal wil onmiddellik weet hoe is die storie - so lekker soos sy vorige boek, 13 uur, of beter? Wat kan ek sê, een maal ‘n meester, altyd ‘n meester - verseker in die geval van Deon Meyer. Sy verhale het net die vermoë om jou te boei tot so 'n mate dat mens selfs deurnag lees terwyl jy eintlik moet uitrus vir die volgende dag. Spoor is drie verhale in een boek, wat baie slim met mekaar verbind word. Die spoor begin in die eerste verhaal, loop fyntjies deur die tweede verhaal en word finaal gevind in die laaste verhaal waar jy uitvind presies watter paaie die spore gemaak het.

Milla Strachan, huisvrou wat haar ontroue eggenoot onder sy alie skop en vir haar werk gaan soek, is die hoofspeler in die eerste verhaal. Sy word aangestel deur een van die staat se intelligensie-afdelings waar sy verslae moet skryf. Deur omstandighede raak sy betrokke by ‘n spoor van misdaad en geweld wat sy nie geweet het is moontlik nie. In die tweede verhaal is Lemmer terug en sy spoor en loop op dié van wildsmokkelaars en ‘n paar gure karakters - waarmee hy uit die aard van die saak sal moet afreken. Dan is Mat Joubert terug as ‘n private ondersoeker in die derde verhaal! Ek gaan nie vertel wat in die boek gebeur nie, behalwe om te sê daar is ‘n lekker dosis spioenasie, spanning en geweld en karakters wat jou aan die lees sal hou. Ek het per e-pos met Deon gesels oor skryf en sy nuutste boek.

Jy was nou met 'n skrywerstoer oorsee. Hoe is jy ontvang?
Ek word telkens oorweldig deur die gasvryheid en ruimhartigheid van boekemense die wêreld oor. Die afgelope toer was geen uitsondering nie.

Jou boeke is baie gewild oorsee en jy het ‘n paar toekennings ontvang. Wat is die varsste en nuutste en waar is jy die gewildste?
Ek het onlangs die groot eer van die Franse Critiques Libres se Leserstoekenning ontvang, en die kortlys van die Sweedse Martin Beck-prys gehaal - die toekenning is eers in Desember. Frankryk bly my grootste mark.

Dink jy misdaad-genre in SA is besig om te groei - in terme van lesers en verkope?
Definitief. Die amptelike statistieke beaam dit.

Hoe vergelyk ons misdaadskrywers met die oorsese skrywers?
Ek meen ons het ‘n hele paar Afrikaanse en Engelse misdaadskrywers wat net so goed en selfs beter is as enige ander land s'n. Dink maar net aan Karin Brynard, Chris Karsten, Mike Nicol, Roger Smith, Margie Orford, om net enkeles te noem.

Spoor is jou dikste boek nog. Waarom juis nou so 'n dikke met so 'n uitgebreide verhaal?
Wanneer stories daarop aandring om geskryf te word, gee hulle helaas nie redes vir hul aard of lengte nie.

Skryf jy met ‘n spesifieke leser in gedagte?
Lesers is te uiteenlopend. Die enigste oplossing is om vir die leser binne-in die skrywer te skryf - en te hoop dit sal byval vind.

Het jy lank geskryf daaraan, of was die proses dieselfde soos met jou vorige boeke? Hoe skryf jy - in afsondering met doodse stilte of met luide musiek?
Spoor het aansienlik langer geneem as vorige boeke - agttien maande - hoofsaaklik omdat ek so baie moes reis die afgelope twee jaar. Ek skryf in totale afsondering. Hoe minder afleidings, hoe beter.

Raak jy nog opgewonde as ‘n nuwe boek uit jou pen verskyn?
Meer vreesbevange as opgewonde . . .

Lemmer en Mat Joubert pop al twee in Spoor op. ‘n Leser wil weet of dit nou dikwels gaan gebeur in die toekoms dat karakters uit verskillende boeke saam gaan verskyn in ‘n boek?
Dit is darem nie regtig nuut nie. Mat Joubert en Bennie Griessel, Bennie en Thobela Mpayipheli, Zet van Heerden en Mat Joubert, en Zet en Thobela het almal al voorheen meer as een keer saam in stories verskyn. En dit sal sekerlik aanhou gebeur.

Ons maak ook vir die eerste keer kennis met ‘n baie sterk vrouekarakter, Milla Strachan. Waar het jy haar vandaan gekry?
Mag ek beswaar aanteken? Christine van Infanta was darem self ‘n sterk vrou. En Emma le Roux het vir geen duiwel gestuit in Onsigbaar nie. Milla het gebeur soos alle karakters - na lank dink en baie navorsing.

Was dit ‘n maklike karakter om te skep? Of is jy gemakliker met ‘n manlike karakter?
Vrouekarakters raak darem so met die jare stelselmatig makliker, maar ek is steeds gemakliker met die manne.

Gaan ons in die toekoms meer van haar lees?
Ek weet eerlikwaar nog nie.

Sy dans. Waar kom dit vandaan?
Ek en Anita dans graag.

Ek vind dit ook altyd interessant dat jy baie op datum is met tegnologie en dit word ook in jou verhale toegepas - meeluisterapparate, steelfoto's ens. Hoe hou jy by met die verwikkelinge en is jy ‘n techno-junkie?
Ja, ek vrek oor tegnologie, lees voortdurend daaroor en bly verstom oor hoe dit ons lewens beïnvloed. En hoe ons ook al hoe meer privaatheid prysgee as gevolg daarvan.

Waar begin ‘n storie soos Spoor vir jou en hoe trek jy al die drade uiteindelik bymekaar?
Dit is sekerlik een van die moeilikste vrae om te beantwoord, want ‘n boek se geboorte is feitlik nooit ‘n enkele Eureka-oomblik nie. Daar is met elkeen ‘n duisend verskillende skeppende keuses, en ‘n mens speel ‘n spel met elkeen - die wat-sou-gebeur-as?-speletjie - tot die storie in breë trekke voor jou lê. En dan gebeur daar nog heelwat in die skryfproses self wat kan veroorsaak dat die finale weergawe hemelsbreed verskil van die oorspronklike plan.

Die drade bymekaar trek verg ‘n soortgelyke aanslag. Skryf is in ‘n sekere opsig ‘n lang proses van probleemoplossing - ‘n mens moet maar aanhou stoei tot jy bevredigende antwoorde kry.

Wat kielie jou om juis dié storie te begin en nie ‘n ander een nie?
Weet nie. Ek skryf gewoonlik die storie waaroor ek die meeste opgewonde is, die een wat iets nuuts en anders bied, die een wat aandring om nóú geskryf te word.

Kan jy jou losmaak van jou karakters, of bly hulle altyd dwaal in jou kop? Het jy ‘n gunsteling onder die lotjie?
Dit is soos om vir ‘n ouer te vra watter kind hy die meeste liefhet - onmoontlik om te sê. En ‘n mens raak geheg aan hulle soos gesinslede, jy kan jou nie losmaak nie.

Daar is ‘n lokprent gemaak vir Spoor. Dis sover ek weet ‘n eerste in SA vir ‘n Afrikaanse skrywer. Vertel bietjie hoe het dit gekom.
Dit was my uitgewer se blink plan - ek was in die buiteland toe dit gebeur het en het dus nie insae in die agtergrond nie.

Waarmee gaan jy ons volgende verras?
Al waaraan ek op die oomblik kan dink, is my eerste vakansie in meer as agttien maande. Maar daar is twee stories vaagweg aan die broei: Bennie Griessel is (al weer) in die verknorsing, en iets meer aweregs, met heel nuwe karakters . . .