Sy is die skrywer van twee reekse boeke vir kinders: Speurhond Willem vir kinders 8 – 11 jaar en Anna Atoom vir kinders 11 – 12 jaar. Die boeke het begin as e-posse of stories wat Elizabeth vir haar eie kind geskryf het wanneer sy vir haar werk oorsee moes reis.

Vier Speurhond Willem-boeke het al die lig gesien en twee waarin Anna Atoom die septer swaai. Die verhale is boeiend en allerlei leersame inligting word deur die stories geweef. Jy besef nie eens jy is besig om iets te leer nie! Boonop is albei reekse geïllustreer met treffende sketse, wat jou ‘n goeie idee gee van hoe die karakters lyk oor wie jy lees.

Willem is ‘n spanjoel wat eintlik die hele tyd op geheime sendings is vir die Internasionale Speurdiens. Natuurlik raak hy en sy baas, Adriaan, hierdeur betrokke by ‘n verskeidenheid avonture – van renosterstropery tot seerowers en reis in die ruimte. Anna Atoom woon saam met haar baie eksentrieke ouers, wat altwee wetenskaplikes is, op ‘n tropiese eiland in die Indiese Oseaan. Haar onblusbare nuuskierigheid veroorsaak dat sy ook by goed betrokke raak wat die oorlewing van die wêreld kan bepaal.

Tydens ‘n onlangse besoek aan Johannesburg het ek dié Kaapse skrywer gepols oor haar skryfwerk en ‘n bietjie meer geleer oor Willem en Anna Atoom.

Wie is jy en wat doen jy? En hoe nou met die skrywery?

Omdat ek so lief is vir lees, het ek van kleins af die idee in my kop gehad ek wil skryf. My twee ouer broers het ook altyd vir my stories vertel. My ma was ook gek na lees en my verbeelding is baie gestimuleer. Maar ek het ook besef as ek nie my brein ‘n bietjie oefen in een of ander dissipline nie, gaan ek nie ver kom nie. Ek het op die platteland op Koppies in die Vrystaat grootgeword. Noudat ek ouer is, besef ek watter groot voorreg dit was om daar te kon kind wees en watter impak dit het op hoe ek dink. Daar het ek skoolgegaan en later medies op Kovsies gaan studeer. En toe die land vol gaan werk, Durban, Johannesburg en Kaapstad.

Ek het in geneeskundige mikrobiologie, spesifiek infektiewe siektes, gespesialiseer. Ek het gedink as ek ‘n dokter is, kan ek orals in die wêreld uitkom en met mense te doen hê en baie van hulle help. Dis presies wat gebeur het. Ek was nuuskierig oor die wêreld en oor mense. Dit het natuurlik geen verband met my skrywery nie. Dis heeltemal verskillende dinge. Ek wou altyd skryf, maar het besef ek moet eers iets wetenskaplik gaan doen, omdat ek van kleins af van die wetenskap hou.

Is jy baie gedissiplineerd met jou skrywery omdat jy steeds voltyds werk in die mediese veld?

Beslis. Ek het baie vaste roetines. Ek het die kinderboeke begin skryf toe my eie dogter, Marcelle, veertien jaar gelede gebore is. Sy was die inspirasie daarvoor. Ek was nog altyd baie lief vir kinderboeke en bestee steeds baie ure in die kinderboekafdeling van boekwinkels. Ek hou van die prentjies en die verbeeldingsvlug. Toe Marcelle gebore is, was ek klaar gespesialiseer. Ek het nogal akademies geraak, baie gereis na kongresse en het 'n hele paar navorsingsbesoeke afgelê in die buiteland. Ek moes haar by die huis los, en dan het ek vir haar rympies per e-pos geskryf of as presente teruggebring. Oor diere. Die eerste boek wat ek gepubliseer het, was dan ook diererympies, Meerkat restaurant en ander diererympies. Dit was rympies vir Marcelle.

En die Speurhond Willem-reeks, waar kom dit vandaan?

Willem is háár hond. Hy is ‘n spanjoel en bestaan regtig. Die reeks het juis gevolg ná ‘n taamlik lang reis oorsee. Ek het die idee gekry om Marcelle se hond deur Europa te laat reis. Speurhond Willem het goed gewerk en die karakter het gegroei vir my. So het Willem nou al ‘n draai gemaak in die ruimte, en ook al met wilddiewe en seerowers te doene gekry.

Grond jy jou karakters op mense wat jy ken?

Ek gebruik plekke wat ek ken as die agtergrond waar die avonture afspeel. Ek baseer darem nie die karakters regtig op mense wat ek ken nie. Ek gebruik wel sekere karaktereienskappe. Die vreesloosheid en avontuurlustigheid van my suster het ek aan Adriaan se Tannie Lolla toegedig. Ek is lief daarvoor om so af en toe  ‘n persoonlike ietsie in te sneak. Willem se familie se van is byvoorbeeld Senekal en dis ook my getroude van.

Anna Atoom en Speurhond Willem is twee heeltemal verskillende reekse. Willem is meer organies en Anna is baie meer wetenskaplik en tegnologies gedrewe. Is dit twee behoeftes in jou wat jy hierdeur vervul?

Ek is in my beroep betrokke by mediese onderrig, so ek is 'n bietjie van ‘n onderwyser. Ek wil heeltyd vir my kind alles verduidelik – tot vervelens toe. Die reekse was ‘n manier waardeur ek haar nog goed kon leer sonder dat sy agterkom. Willem gaan oor reis en die avontuur, gegrond op werklike plekke en feite. Die seerower in Speurhond Willem bestaan regtig.

Maar Anna Atoom het ek vir haar begin skryf toe sy op die ouderdom gekom het waar haar belangstelling in wiskunde en wetenskap begin taan het. Dit het my bekommer. Ek wou hê sy moet dinge verstaan, soos: hoe werk molekulêre biologie en hoe werk noorderligte, en die fisika en die wetenskap agter die alledaagse dinge. En dis waar die teksboksies in Anna vandaan kom, wat 'n bietjie ekstra inligting gee, sonder om die storielyn te onderbreek. Dis belangrik om daardie natuurlike nuuskierigheid weer aan te wakker om te verstaan hoe die wêreld en die tegnologie werk.

Daar is ook baie sterk bewaringstemas en aktuele sake in albei reekse. Hoe belangrik is dit vir jou?

Speurhond Willem is geskryf vir jonger lesers as Anna Atoom. Ek wil hulle nog nie regtig bemoei met ernstige bewaringskwessies nie en daarom fokus ek meer op die avontuur. Maar ek dink dis lekker as ‘n kind lees oor seerowers en hy hoor op die radio of sien op televisie iets oor hedendaagse seerowers. En die renosters natuurlik. Dis ‘n aanknopingspunt na die werklike lewe sodat hulle dit beter kan verstaan. Anna Atoom is ook ‘n reaksie teen boeke wat gaan oor feeprinsesse en towerkuns. Anna is ‘n doodgewone meisie wat lief is vir avontuur. Die groot ding wat ek wou wys met Anna, is dat die wetenskap net so wonderlik is soos towerkuns, dat jy goed kan doen met die wetenskap en ons kinders sien dit nie altyd raak nie.

Het jy self besluit hoe die karakters in Speurhond Willem op die prentjies moet lyk?

Die uitgewer het Chris Venter gekies om die prentjies te teken. Chris het kom kuier. Willem het vir hom geblaf en wou eers niks van hom weet nie. Chris is dierbaar, maar Willem het voor Chris gaan sit en hom so bekyk. Chris kom kuier nou gereeld. Die sketse lyk so 'n bietjie soos Willem, maar nie heeltemal nie. In Speurhond Willem in die ruimte het Willem mos ‘n girlfriend, die Russiese ruimtehond, Boris. Ek het Chris by my vriendin laat kuier op wie se hond ek die karakter gebaseer het. Ek meng in met sy werk. Ek stuur vir hom foto’s van geboue en allerhande goed van hoe ek wil hê dit moet lyk. Hoe langer Chris teken, hoe meer leef hy homself in die verhaal in en die prentjies raak al hoe mooier.

Doen jy baie navorsing vir jou stories?

Ja, ek moet. Daar is ‘n groot verskil tussen my kinderstories en die wetenskaplike publikasies waarvoor ek skryf. Ek dink my skryfwerk vul mekaar tog aan. Ek is baie gesteld daarop om my stories geloofwaardig te hou en te grond op ware karakters en feite. Ek probeer met verantwoordelikheid skryf, maar die fantasie neem tog oor. Wanneer ek klasgee, is ek geneig om weer die storielyn uit te bring, want die studente reageer positief daarop.

Hoe kan jy twee sulke verskillende goed doen?

Dis geweldig ontspannend. Dis ‘n totaal ander wêreld om die paar ure vroegoggend of in vakansies te skryf. Dit vat my weg van die werklikheid; dis nie werk nie. Dis ‘n gawe wat vroue het, dink ek. Ek dink die karakters en storielyne uit as ek met vakansie is. Ek kan dit net doen as ek ontspanne is. Ek het nodig om in ‘n heeltemal ander omgewing te wees. Dit help weer dat ek beter op my werk kan konsentreer.

Beplan jy jou boeke vooruit?

Vir Speurhond Willem het ek vier boeke beplan en vir Anna Atoom drie. Anna Atoom is anders as Adriaan en Willem; hulle raak nie eintlik ouer nie en die avonture staan los van mekaar. Anna se storie begin as sy twaalf is, in die tweede boek is sy dertien en in die derde boek is sy veertien en dan maak haar storie klaar. Dis ‘n trilogie met ‘n definitiewe einde. Maar daar gaan nog Speurhond Willem-boeke kom, omdat daar ‘n aanvraag is. Hy gaan New York toe en ek dink daaraan om een te skryf oor diamantdiewe en Namibië en dalk nog een oor die Amasone. Hopelik kry ek nog ‘n kans om te reis. Ek was nog nooit in Indië nie en wie weet, dalk beland Willem eendag daar. Ek sien hom met ‘n vreemde tapyt en ‘n slang. . .

Lees jy self?

Ek lees wyd. Ek het ‘n paar gunsteling-skrywers, wat miskien meer bekend en minder bekend is. Ek is mal oor Alexander McCall Smith omdat hy so 'n sagte aanslag het. Robertson Davies, ‘n Kanadese skrywer, was my groot held gewees. Roald Dahl en Philip Pullman is twee ander gunstelinge. Ek lees ook graag biografieë en wetenskapboeke buite my veld. Dan het ek ook nog ‘n groot gemorsklier wat ek moet voed. So, ek lees detective novels ook. Ek het ‘n hele reeks Agatha Christie’s op my boekrak en as ek baie moeg is, begin ek die reeks weer van vooraf lees. Ek kan nie die storie onthou ná vyf jaar nie.

Hou jy van reis?

Ek raak nou weer lus vir reis. Toe my kind klein was, was dit nie altyd vir my lekker nie. Wat nou lekker is, is dat ek haar kan saamvat. Ek het in ‘n stadium dikwels vir my werk gereis, maar nou wil ek vir plesier reis.

Hoe voel jy as jy jou boek op die rak sien of as kinders vir jou vertel hulle lees jou boeke?

Ek kan nie gewoond raak daaraan nie. Dis vir my die grootste treat as ek in ‘n boekwinkel instap en daar is van my boeke daar. Ek geniet dit verskriklik en is skaamteloos daaroor. Dis ‘n droom wat waar geword het.

En wat lê vir jou voor?

Ek hou daarvan dat die boeke moet goed doen. Ek skryf vir my kind en haar maats, maar wil dit ook deel met ‘n groter gehoor. Ek wil graag hê my boeke moet in Engels vertaal word. Ek is ook besig om ‘n boek vir jong volwassenes te skryf. Ek weet nie of ek dit gaan regkry nie. Marcelle werk saam met my aan die boek, ons gesels oor idees en ek kry haar insette. Dis verfrissend, maar soms ook ontnugterend. Ek skryf heel moontlik boeke wat ek wou lees toe ek ‘n kind was en die wêreld is nou anders. Ek kan nie eens dink hoe die wêreld waarin vandag se kinders moet woon en werk oor twintig jaar gaan lyk nie. Maar dit maak my opgewonde.