In haar boek, Wat die hart van vol is (Hemel & See Boeke, R260), beskryf sy al die ander dinge waarmee sy in haar lewe besig was en dan besef jy Evette het ‘n besondere talent. Sy is ‘n beeldende kunstenaar wat ook haar denke en wese op so manier kan verwoord dat jy ingesluk word deur haar lewensverhaal. Hierdie boek gaan oor haar lewe, haar werk, haar drome, haar liefdes en haar hoop en versugtinge. Sy vertel nie net die feite nie, maar deel ook haar fantasieë en praat oor dinge wat haar geïnspireer het. Sy plaas haar werke in die konteks van haar lewe. Dis nie ‘n gewone outobiografie nie en ook nie ‘n memoir nie. Dis net ‘n boek wat jou van die eerste bladsy af aangryp en jy kan nie anders as om deur dié skrywer en kunstenaar geïnspireer te word nie. Dis ryklik geïllustreer met foto’s van haar kunswerke, haar familie en gebeure uit haar en Marius Weyers, haar man, se loopbane. Dan is haar handgeskrewe dagnota’s ook tussendeur geweef. “Poësie, teater, musiek en beeldende kuns het my nog altyd aangegryp en meegevoer – en uit gewoonte wil ek iets skep in antwoord op hulle verruklikheid.” Ek het Evette per e-pos uitgevra oor hierdie skepping van haar.

Jy skryf: "Vroeg-vroeg in my kleintyd het ek al geweet ek is ‘n ou siel met geen onskuld om te verloor nie." – Hoe het jy geweet jy is ‘n ou siel met geen onskuld om te verloor nie?
Ek was van my kleintyd af baie intuïtief. . . Uit iets wat ek nie gedoen het nie, maar eintlik moes doen, het die soms subtiele verskil tussen goed en kwaad vir my duidelik geword en so het dié besef my getref.

Wat is die verskil vir jou as kunstenaar tussen om met woorde te werk en om met beelde te werk?
Ek skryf daaroor in my boek; “As ek op die pad van beelde loop moet ek myself eers vir 'n ruk lank lank speen van woorde. Woorde is so verleidelik. Woorde is nie onderhewig aan swaartekrag nie en kan lekker vinnig hardloop; oor berge en dale en ver, ver weg. Beelde verg tyd. Ek moet eers in die stom hart van die beeld in delf. Dit is 'n blinde ontginningsproses. Ek boor deur soliede klip in die donker aarde in. Wanneer ek eers 'n aar van die beeld oopboor, begin die opwinding oor neem. . . . By 'n kort werkswinkel oor die skryfkuns van Dorian Haarhoff, besef ek dat skryf my wilde perde is. Ek kan hulle nie nader roep nie. My wilde perde wat ongevraagd opdaag. Hulle swiep my op en neem my saam  op 'n stywe galop. En dan, soos mis voor die son verdwyn hulle weer, eensklaps in die niet in. Hulle verrig geen take vir my nie en sit nooit brood op my tafel nie. Ek weet net ek wil hulle nooit mak maak nie.” 

Jy is ‘n natuurmens en leef na aan die natuur. Wat beteken die natuur vir jou in jou lewe?
Dis een van die groot passies in my lewe (naas die kunste). My pa het my van kleins af geleer om liggies op die aarde te trap. Geen slang of skerpioen wat in die huis kom, mag doodgemaak word nie. Vang hom en laat hom in die veld los. Ek put oneindig baie uit die natuur en het gestap, rots geklim en geduik in die see, reg oor en om ons land. In Desember leer ek besoekende kinders oor die see, en soms hoe om met bobbejane saam te leef .

Jy beskryf jouself as ‘n meermin. Hoe intiem is jou verhouding met die see en waarom is jy ‘n meermin?
Nog voor ek behoorlik kon loop, wou ek altyd terug in die see gaan - volgens my ma en foto's van my as kind op die strand. Ons het op die strandfront gewoon. Ek duik so 3 keer per week in die see, somer en winter, mooi weer of reënweer. My wildheid word wakker in die see.
Uit my boek:My wildheid blom altyd by die see. Nou ook, selfs al woon ons konstant hier by die blou waters. As ek afloop see toe om te duik,  trek ek 'n blaartjie liggroen seewier van die rotse af en eet dit.  Ek proe die wilde soutsmaak van die see. Dan is ek weer pure meermin en reg vir die koue waters. Duik diep af en gaan suig aan die koue sout tepels van die oseaan.”

Jy sê jy is nie eintlik ‘n visuele mens nie, jy onthou meer intuïtief hoe iets voel. Watter impak het dit op jou beelde wat jy maak?
Die beeld groei uit wat ek voel. Dit kry vorm, dikwels op metaforiese vlak. Bv. 'n beeld, Die aarde droom haar toekoms oor hoe ons die toekoms skep uit ons drome en vrese.

Jy en Marius is sielsgenote. Julle altwee het ‘n beroep in die kunste. Hoe beïnvloed dit jul verhouding?
Dit skep 'n heerlike kreatiewe ruimte waarbinne ons leef. Ons geniet ons eie en mekaar se kunste. Ek was al op skool mal oor teater en het deeltyds by die Breytenbach-teater gewerk en kon so al die teateropvoerings gratis sien. Selfs meer as een keer as ek wou. Marius het al 'n beeld in brons gegiet voor hy my geken het. Dit was wat Marius van sy pa, ná sy dood, gemaak het. In my boek gee ek baie voorbeelde van hoe ons saam skep. Hierdie skeppings is ons kinders.

Het dit wat in die land en die wêreld gebeur ‘n inslag in jou kuns?
Baie beslis, bv. die Voetsoolvlak demokrasie beeld wat ek onlangs gemaak het. (Dit was op die Rapport Boekeblad van 1 Julie se voorblad). Ek het van ons menseregte op die sool van 'n voet geskryf. Meestal dié wat nou onder spervuur is. Maar ook emosionele en spirituele dinge wat om en met my gebeur het inslag – sien Nagnota hier onder.

Wat was vir jou die moeilikste beelde wat jy gemaak het, en waarom?
Core Sample/Tydspoor oor die hele geskiedenis van kuns en hoe dit die mensdom se verhale, gevoelens en sienswyses vir oor die 30 000 jaar uitgebeeld het. Die beeld het 6 weke van soliede werk, elke dag en 6 aande 'n week, geneem om klaar te kry vir 'n groot solo-uitstalling. Dit was die groot tydsdruk wat moeilik was, want dit is in klein detail gemaak en het heelwat navorsing geverg. Wonderlik toe dit klaaar was.

Het jy ‘n gunsteling onder al die beelde wat jy gemaak het?
Ek wou my eie lewensboom as 'n onderstebo-boom maak. Bo die grond is die stam, takke en die lower wat sonlig vasvang en omskep in energie. Dit is die liefdes van my lewe: my man, vriende, my diere, ouers, mense in die kunste wie ek bewonder en my beïnvloed het, soos Breyten, Antjie Krog en die kora-speler Toumani Diabate uit Mali. En mense wat ek bewonder, soos Mandela en Tutu. Onderaan die boom is die verborge voedende wortels, die mitiese figure uit die San en Griekse mites, Egiptiese en prehistoriese tye. Almal het 'n ryk deel van my eie mitologie geword. En nou deel van die mistiese en metaforiese wortels van my verbeelding is. Onder meer die stilistiese kop van 'n elandkoei, 'n vroulike sjamaan uit 'n San-rotstekening, die oeroue Venus van Lespugue, die kop van die jakkalsgod Anubis uit die Egiptiese mitologie, en ander.

Die beeld staan swewend op 'n stang. Jy kan hom omdraai en die mitiese en metaforiese wêreld bo plaas.

Is dit vir jou moeilik wanneer Marius weg van die huis af werk?
As enigste kind was rondswerf en alleen wees vir my van kleins af baie gemaklik. Ek was in 11 verskillende skole. Dit is net BAIE LEKKER wanneer hy terug kom huis toe.

Hou jy ‘n dagboek?
Nee, het nooit nie. Slegs tydens die skryf van my boek het ek by geleentheid insidente neergeskryf en dit het die Dagnotas geword in my boek, plus 2 Nagnotas

“Nagnota  - Oktober 2011
Marius werk in die Waterberg saam met Katinka Heyns aan die film, Die Wonderwerker. Tuis werk ek volstoom aan uitstallings en kom laat in die bed. Pleks daarvan om elke nag twee-uur wakker te word met 'n boek op my bors en die lig nog aan, slaap ek nou deur die nag. Elke oggend word ek wakker en sien my boek lê langs my op my bedtafeltjie en het sy boekmerk in en die lig is af. Ek weet Marius het laasnag weer gekom om my boek toe te maak en die lig af te skakel – nes hy dit altyd doen wanneer hy tuis is. Dit het 'n kontinuïteit buite tyd en ruimte geword vir ons. Ek weet hy sal dit selfs uit die dood kom doen.”

Was dit moeilik vir jou om hierdie boek te skryf, omdat jy baie persoonlike goed uit jou lewe deel?
Anita le Roux het my gevra om hierdie boek te skryf oor die stories agter my beelde en my lewe saam met Marius. Dit het 'n heerlike avontuur geword. Ek het al die verhale aan haar gestuur en sy was mal daaroor. Ons het sulke goeie vriende geword en ek het met gemak oopgemaak vir haar.

Uit my boek:
Die wiskunde van fantasie 

Vir my as kunstenaar is 'n feit dikwels net 'n vertrekpunt na die wêreld van die fantasie. Wiskunde was selfs op skool en universiteit, waar dit een van my hoofvakke was, vir my vol fantasie. Meetkunde was 'n lekker speletjie om 'n probleem op te los. Terselfdertyd was meetkunde soos yskastele wat jy opbou uit stukkies ys, aannames of stellings wat sê: "Kom ons speel dit en dat is waar.” Dit kon ook weer smelt.

Algebra was suiwer fantasie, want daarmee kan jy ver verby die driedimensionele wêreld spring. Enige syfer of letter tot die mag 'n’ is oop, aangesien 'n’ enige getal kon wees – 3, 50, 100, of enige ander getal tot by oneindigheid. Pleks van drie dimensies plus tyd, wat jy in die fisieke wêreld het, skep jy 'n ‘n-dimensionele’- of ‘oneindige- dimensionele’ wêreld.

Boonop is daar  in wiskunde die konsep van  “limiet wat neig na nul” en “limiet wat neig na oneindigheid”.  'n Lyn tussen twee punte –  lank of kort –  kan dus oneindig kere verdeel word. Dieselfde konsep het voorgekom in De Jeugd van Francesco Campana, ons Nederlandse voorgeskrewe boek op skool. Eers in die wiskundeklas op Tukkies het dié magiese aspek van die boek my getref.

Toe Anita le Roux my aanpor om hierdie boek te skryf, het die eerste gedeeltes – my vroeë geskiedenis –  vol magiese realisme uitgespoel, bo-oor die feite gebokspring, die metaforiese ruimtes in. Die feite ís ook daar - en volop, soos rosyne in 'n vrugtekoek.