Wanneer figure uit die geskiedenis lewe kry en optree soos mense van vlees en bloed, is dit veel makliker om jou in te leef in die gebeure en aangeraak te word deur die pyn waardeur karakters gaan. In Rooi Jan Alleman (Umuzi, R200) skryf François Loots oor Bram Fischer se lewe. Dis nie ‘n histories-korrekte weergawe van Bram se lewe nie, maar ‘n fiktiewe weergawe waarin hy fokus op die struggle-held en Afrikaner-kommunis se emosionele wroeging. Hy laat Bram van kleins af droom en ook die spoke sien van Paul Kruger, Jopie Fourie en Hendrik Biebouw. Vir Loots was dit belangrik dat hy Bram se karakter as mens oordra in hierdie verhaal sodat lesers meer begrip vir sy lewe kan hê en sy soeke om immer deel van ‘n groter Afrikaner-identiteit te bly, ten spyte van sy politieke oortuiging. Ná die lees van die verhaal het ek net weer besef hoe kompleks die Suid-Afrikaanse geskiedenis is en hoeveel die gebeure van die verlede nog steeds ‘n rol speel in vandag se politiek.

Waar is jou wortels?
Ek het op ‘n plaas in Prieska grootgeword, ‘n Karookind. Ek moet elke nou en dan by die voorouers wat daar lê, gaan draai. Dis ‘n landskap wat my altyd terugtrek. Ek woon nou in Kaapstad.

Kom die behoefte om te skryf van kleintyd af of is dit iets wat later gekom het?
Die liefde vir stories was altyd daar, vir lees, maar ek het nie verwag dat ek eendag gaan skryf nie. Dit het net gebeur. Ek probeer dit steeds verwerk, want dis nie wat ek twintig jaar gelede gedink het ek sal doen nie. Daar was altyd ‘n drang om te skryf. Dis soos ‘n begeerte wat toegeneem het.

Hoe het die skryf begin? Ek het een nag ‘n droom gehad en ek het opgestaan en gedink ek wil iets doen met die intensiteit van dié droom. Toe het dit op die ou end ‘n roman geword.

Om ‘n droom in woorde om te sit - hoe was daardie eerste skryf?
Ek was verskriklik opgewonde. Met Die Jakkalsdans was ek vreeslik op my senuwees, net soos met my eerste roman. Daai gevoel herhaal homself heeltyd. Dis asof ek kind bly en elke keer verbaas is ek kan iets skep.

En met die skryf van Rooi Jan Alleman?
Ek het baie lank gelees en het baie gefokus om agtergrond oor eras en geskiedkundige inligting te kry. Een deel van my het miskien nie genoeg selfvertroue gehad dat ek so iets sou kon skryf nie. Ek het gedink mense soos Andre P. Brink skryf sulke verhale. Toe het ek net begin en ek het weer ‘n verskriklike opgewondenheid ervaar met die eerste twee hoofstukke. Ek het gedink dit is moontlik en dit het my voortgedryf.

Met elke roman voel dit asof ek iets takel wat vir my nuut is. In hierdie roman is daar ‘n hoofstuk, “Gesprekke met Molly”; ek kon voor my sien wat ek wou hê, van hoe ‘n huwelik van een punt na ‘n ander beweeg, die politieke impak daarop. Dis asof ek nie geweet het hoe ek woorde gaan gebruik om daarby uit te kom nie. Wat ek altyd glo, is om te doen wat van nature kom. Ek moenie iets forseer nie. Dis ‘n organiese skryfproses.

Is jy ‘n gedissiplineerde skrywer?
Iets kry my beet, iets gryp my en iets trek my. Ek dink nie eens aan dissipline nie. Iets anders neem my oor. Ek kan nie ophou totdat ek klaar is en die manuskrip vir die uitgewer gee nie. Dis moeilik om te sê wat my dryf. Ek kry soms die gevoel ek moet skryf om in hierdie lewe gelukkig te wees. Ek moet uiting gee aan die karakters wat kom en ek sal nooit tevrede en gelukkig wees as ek dit nie doen nie.

Waarom die titel Rooi Jan Alleman?
Ek het aanvanklik gewerk met die titel Dromer, omdat Bram Fischer vir my soos ‘n dromer was. Hy het gedroom van ‘n ander waarheid en hy het baie gedoen om sy droom te verwesenlik. Daar was ‘n tydperk waar Bram Fischer ‘n ondergrondse bestaan geleef het en Jan was sy identiteit. Ek het daarmee gewerk. Maar ek gee altyd vir die uitgewers so ses titels en laat dit dan aan hulle oor om te besluit. Maar deels verwys ek na die jare van die ondergrondse organisasie en die Alleman verwys na sy droom van ‘n rooi identiteit wat ook deel van ‘n Afrikaner-identiteit as geheel is. Wat ek baie waargeneem het by hom, was sy begeerte om nie as Afrikaner uitgeskuif te wees nie, maar dat sy politieke identiteit ook deel vorm van ‘n groter Afrikaner-identiteit.

Dis ‘n biografiese roman gebaseer op feite. Hoe kies jy wat maak jy fiksie en wat hou jy eg?
Voordat ek begin skryf het, het ek ander werke gelees van skrywers wat oor historiese figure skryf. Ek moes kyk hoe hulle dit doen en by hulle leer. Wat ek by hulle geleer het, is om die historiese gegewe te gebruik, maar om myself en ook geskiedkundige tyd of die figuur te projekteer. In die navorsingstydperk tree goed vir my na vore waarmee ek kan werk. Baiekeer het ek die beeld gekry van ‘n boom. Die wortels moet in ‘n historiese lewe geanker wees, maar die takke, die blare – dis my verbeelding. Ek kan maar soveel blare aansit soos ek wil. Ek moes op plekke chronologies werk met gebeure om getrou te wees aan Bram se ervaring. Sekere dele van sy lewe staan vir my uit en gryp my verbeelding aan. Ander skrywers sal ander goed raaksien en ‘n ander beeld skep. Ek het ook baie vereenvoudig om vir die leser ‘n storie te gee wat verteerbaar is.

Hoekom wou jy spesifiek oor Bram Fischer skryf?
Toe ek ‘n kind was, het my ouers oor goed gepraat, en dan het hulle begin Engels praat sodat die kinders nie kan verstaan nie. Die een naam wat altyd opgeduik het, was Bram Fischer. Toe ek skool toe gegaan het, het ek geweet daar is iemand soos Bram Fischer, maar ek het nie geweet wie hy is nie. Hy was soos ‘n skim. Hy was vir alles verantwoordelik. As daar ‘n bankroof was, dan was dit Bram Fischer in my kinderverbeelding. Ek onthou eenkeer op skool het ek in ‘n ensiklopedie gaan naslaan, maar hy was nie daar nie. Daar was altyd ‘n nuuskierigheid oor Bram Fischer.

Jy dra die boek op aan Kotie Slabber en Marie Loots. Waarom?
Kotie Slabber is my tante. Sy was ‘n kommunis ná die Tweede Wêreldoorlog en haar lewe het ‘n invloed gehad op my ouers se huwelik. Marie Loots is my ma. Ek het met die skryf van die roman geweldig respek vir hulle ontwikkel. Dis die eerste keer dat ek gevoel het ek is trots op hulle. Dit is vir my soos ‘n generasie mense wat gesien het iets werk nie, maar jy kla nie. Die vraag is wat doen jy om dit te verbeter. Dis die vroue wat my grootgemaak het. Dis mense wat ongelooflik baie opgeoffer het en altyd gegee het. Die opdrag is uit respek vir hulle.

Jy bring karakters in die vorm van geeste in die roman in as metgeselle vir Bram. Waarom spesifiek mense soos Biebouw, Paul Kruger en Jopie Fourie?
Paul Kruger is die Afrikaner-figuur, soort van die pa van die Afrikaner-nasie. Biebouw is die eerste een wat in ‘n hof gesê het ek is ‘n Afrikaner en Bram Fischer het baie sterk gevoel oor die feit dat hy ‘n Afrikaner is. Dit was deel van sy identiteit en hulle teenwoordigheid om hom het my gehelp om op ‘n manier erkentenis te gee aan sy eis om ook Afrikaner te wees.  

Was daar iets waarop jy afgekom het in die navorsing wat jou verras het?
Wat ek verwag het in die navorsing, is dat ek op ‘n deel van sy lewe sou afkom wat ek in ‘n roman sou kon omskep. Dit het nie gekom nie. Wat gekom het, was die lewensloop. Die enigste verrassing vir my was Molly. Van die oomblik dat ek haar teëgekom het, het ek gedink ek hou regtig van hierdie vrou. Sy was verstommend. Hoe meer ek oor haar uitgevind het, hoe groter het die begeerte geword om met haar te werk.

Wat is die essensie wat jy oor Bram by mense wil laat?
Net ‘n erkenning van die mens en sy aandeel. Die linkse literatuur skep altyd ‘n kil ysterfiguur en van die regse kant af was daar net veroordeling en klippe gooi. Ek wou ‘n mens skep en vir die leser wys dit was ‘n mens.