Dis jou debuut. Wat doen jy en waar kom jy vandaan?
Ek is gebore in Zambië en het daar grootgeword. Ek doen ontwikkelingswerk regoor Afrika. Opvoeding, HIV/vigs-voorligting, geslagstudies, lewensafrigting en die skryf en redigeer van artikels. Ek pas al hierdie dinge toe in my ontwikkelingswerk. Ek het nie 'n permanente tuiste nie. Elke keer as ek van projek en land verwissel, gee ek al my besittings weg en klim dan op die vliegtuig met net my 20 kg-tassie. En natuurlik my belangrikste bykomstigheid, my skootrekenaar!

Hoe het Angel se storie begin?
Ek was vir twee jaar in Kigali vir 'n projek by die universteit. Ek moes nuwe sisteme in plek stel en het ook voorligting oor HIV/vigs gedoen. Ek het help toesprake skryf vir politici wat dit in Engels nodig gehad het. Saans het ek gewerk met meisies en vroue wat die volkslagting oorleef het. Omdat ek 'n vrywilliger was, het die universiteit vir my huisvesting gereël. Ek het in 'n woonstelblok gebly, soortgelyk aan dié van my hoofkarakter, Angel. So het ek onwetend navorsing gedoen vir die agtergrond van my boek! Na ek weg is uit Rwanda het ek besef mense het nogal 'n wanpersepsie oor die lewe daar en dat hulle dink alles is doom and gloom. Die enigste manier hoe ek 'n beter prentjie kon skets, was deur 'n boek te skryf oor die vreugde wat gewone mense daar beleef. As vroue iets vier, doen hulle dit met koek en daarom is Angel se koekbakkery die perfekte viering van haar en die mense om haar se lewens in Afrika.

Angel se verhaal speel hom af in Rwanda, maar sy kom eintlik van Tanzanië. Waarom?
Ná die volkslagting - en daar was in Rwanda se geskiedenis meer as een - is inwoners nogal geslote teenoor mekaar en huiwerig om hul persoonlike stories met mekaar te deel. Dis baie makliker vir die mense om hul verhale aan iemand te vertel wat van 'n ander land kom. Daarom het ek besluit sy moet van 'n naburige Afrika-land kom. Angel se koekbakkery is my manier om die mense by haar te kry, sodat hulle hul ervarings met haar kan deel.

Die verhaal lyk lig en komies, maar dit raak ernstige kwessies soos kultuur (vroulike besnyding), geslag en vigs aan. Dink jy dit skep 'n bewustheid en beter begrip?
Ek hoop so. Die verhaal is lig genoeg dat dié onderwerpe jou nie oor die kop slaan nie. Daar is verskillende lae in die verhaal. Ek dink elke leser sal 'n laag raak lees wat vir hulle belangrik is. In vandag se dae kan 'n mens nie 'n verhaal oor Afrika skryf en nie HIV/vigs aanraak nie. Dis 'n kwessie wat alle Afrikane se lewens op die een of ander manier raak.

Angel se rol is dié van 'n agony aunt, mentor, onderwyser en gesinsvrou. Was sy van die begin af so, of het haar karakter gegroei in die skryfproses?
Ek het 'n goeie idee gehad wat ek van haar karakter verwag het, maar sy het beslis gegroei soos die boek gevorder het. Die een aspek wat baie sterker geraak het, was haar ontkenning van hoe HIV/vigs haar gesin geraak het. Dit het haar verhouding met Pius, haar man, geraak tot so 'n mate dat kommunikasie tussen hulle maar basies was. Dis ironies dat sy ander mense van raad kon bedien en selfs voorlig oor HIV/vigs, maar dit ontken in haar eie huis. Sy groei deur die verhaal tot sy uiteindelik haar eie omstandighede kan verwoord. Ek wou hê haar stem moet geloofwaardig wees en dat sy toepaslike kwessies hanteer. Sy is eintlik 'n spieëlbeeld van haar gemeenskap en haar verlies is iets waarmee almal kan identifiseer. Haar karakter voltooi die sirkel wanneer sy aan die einde erkenning gee aan haar gesin se verlies as gevolg van HIV/vigs. Haar en Pius se verhouding word geheel, omdat hulle eerlik kan gesels oor hul dogter se dood en so vrede kan maak met die verlies.

Haar rol is nogal sterk tradisioneel aan die een kant, maar dan is daar haar vooruitdenkende en liberale optrede aan die anderkant. Hoe bring jy dit by mekaar uit?
Afrika is grootliks in 'n oorgangsfase wat tradisie en kultuur betref. Daar is 'n groep wat gebonde bly aan tradisie en kultuur. En dan is daar 'n ander groep wat moderniteit aangryp. Daar moet 'n middeweg tussen die twee groepe wees. Angel is die verpersoonliking van die middeweg. Sy hanteer tradisionele kwessies op 'n moderne manier. Wanneer sy die koek versier wat ter viering van haar vriendin se dogter se besnydenis is, debatteer sy met haarself oor die kwessie. Sy kom dan tot 'n gevolgtrekking dat alle tradisies nie noodwendig moet verander nie, dit moet net op 'n ander manier toegepas word. Afrika is hier om ons te herinner aan dít wat ons in die Westerse wêreld al vergeet het.

Angel sê daar is baie tamaties in Kigali en dat enigeen tamaties kan verkoop. Sy sê verder 'n tamatie is glad nie spesiaal nie, maar 'n koek is. Hoekom?
Ek dink ons besef nie altyd hoe bevoorreg ons is nie en ons neem iets soos 'n koek as vanselfsprekend aan. Angel bemagtig mense deur haar koeke. Sy leer selfs nog 'n vrou om koek te bak, sodat sy vir haar en haar gesin kan sorg. Angel het 'n sterk rol om mans en vroue aan te moedig om hulself te bemagtig. As 'n lewensafrigter was dit vir my belangrik dat bemagtiging in my boek aangeraak moes word. Feminisme is Afrika se F-woord. Dis iets waaroor nie sommer gepraat word nie, want dit word as 'n bedreiging in die Afrika-konteks gesien. Bemagtiging moet dus oor geslag heen toegepas word. En op so 'n manier dat dit natuurlik plaasvind.

Waaraan werk jy nou?
'n Kinderboek en 'n draaiboek. Maar my agent toi-toi vir nog 'n roman. Ek sal sien ...