In sy lang loopbaan as joernalis, amper die helfte van sy lewe, het hy tonne mense ontmoet. In sy boek beskryf hy hulle as deel van sy bos en kyk hy terug na die bome wat oor sy pad gekom het. Daardie bome wat almal spore gelaat het. Dit sluit in "magtiges, rykes, slimmes, sterkes, begaafdes, skones en sommer doodgewones." Hy sê verder sy boek "handel enersyds oor politieke leiers, kollegas en allerlei groot geeste met wie ente saamgestap is. Ook oor geliefdes in eie gesins- en familiekring, gerespekteerde onderwysers, hegte skool- en studentemaats, vriende, ‘n getroue tuinman Daniël..."

Phyllis Green het hom meer gevra oor sy bos se bome.

Hoe het jy die titel vir jou boek gekies?
Ons ouer garde beleef intens hoe kwaai "in ons bos gekap" word. Die "byl" bied ten minste ‘n elegante idioom vir daardie (doodnatuurlike) werklikheid teenoor onelegante idiome soos "bokveld toe".

Waarom die formaat van die boek?
Die formaat is eintlik ‘n ontsnaproete. "Byl" is my huldeblyk aan tydgenote van verskillende generasies - van die gedugstes tot doodgewones. Die stapel materiaal was oorweldigend. Ek moes uitdun sonder om verskeidenheid in te boet. Toe kry ek die idee om die "Byl" in te span ... .

Hoe het jy besluit watter mense sluit jy in en watter nie?
Spontane seleksie. Party mense en hul stories het hulle eenvoudig self na vore gedring. Skitterende kandidate het ongelukkig deur my sif geval.

In jou koerantloopbaan het jy baie mense ontmoet oor wie jy ook geskryf het. Is daar een wat ‘n besondere indruk op jou gelaat het?
In ‘n loopbaan van 35 jaar ontmoet ‘n koerantmens geweldig baie mense wat korter of langer ‘n impak maak. Dis ‘n byvoordeel van die beroep. Jammer, ek koes liewer vir die waagstuk om name te noem.

Was daar al ooit iemand wat jy ontmoet het wat jy gevoel het jy kan die mens se storie nie skryf nie?
In "Byl" slyp ek nie byltjies nie, maar draai ek ook nie doekies om nie oor karakters wat my lewe vergal het, soos die "Wit Terroris." Nee wat, elkeen se storie kan geskryf word. Jy moet net bly grawe.

Die bos is jou wegbreekplek. Waarom?
Klink dit of ek met "bos" oor die kop geslaan is? Ek is lief vir die spreekwoordelike "bos" waarin ek oud geword het, asook vir die regte bos met sy diere, bome, kampvuurtjies, sterre en stiltes. Dié is waarlik in my bloed. Daar skop ek skoene uit en lewe voluit.

"Seun van Deventer - onbekende vader" is ‘n outobiografiese vertelling oor jou eie pa en jou herkoms. Jy sê daarin: "Ek verwyt my dat ek nie meer uitgevra het toe ek nog kon nie - ‘n fout wat te veel mense maak en te laat agterkom." Is familie en wortels belangrik vir jou?
Te laat, te laat het ek besef hoe belangrik. Toe ek in die stadjie Deventer ronddwaal waar my stamvader vandaan kom, en by my oupa Jacob Hendrik se graf in die distrik Babanango staan, toe voel ek: Ek is nie sommer deur die wind hier aangewaai nie.

Vir vandag se jong joernaliste is die name Piet Cillié, Schalk Pienaar en Willem Wepener legendaries, veral ook oor die staaltjies wat oor die groot name vertel word. Jy het in jou dae as joernalis met almal te make gehad. Was daar ‘n joernalis wat ‘n besondere rol in jou loopbaan gespeel het?
Die grotes het elkeen sy merk op Van Deventer gemaak. Maar die leerskool van die koerantwese is veel ruimer as ‘n enkele mentor of twee. Van die kollegas wat ek as leermeesters die hoogste aanslaan, tel nie onder die ikone nie.

Van die eksentrieke joernaliste waarmee jy te doene gehad het, wie was die vreemdste?
Allerlei geheimpies glip in die bladsye van "Byl" uit. Joernaliste is nie verniet al "salaried eccentrics" genoem nie. Dat die meeste ‘n klap van die windmeul weg het, is egter ‘n mite. Ek bring graag hulde aan al die goeie, beskaafde joernaliste met eersteklas waardes wat ek die voorreg gehad het om te leer ken.

In jou vertelling oor Willem Wepener sê Wepener dat die koerantman se taak "is of behoort te wees - ‘brandsiekinspekteur van die volk'." Volgens jou mening, is dit steeds die taak van joernaliste vandag of het die fokus van joernalistiek verander? Of het joernaliste verander?
Style kan verander, substansie is onveranderlik. As koerante sou ophou om sere en swere aan die nasie uit te wys, sal hulle hul plig liederlik versaak. Koerante kry baie kritiek. Ook ek verstaan nie al die nuwerwetsighede nie. Maar kom ons gee hulle ten minste dié lof: Hulle spaar nie die roede nie.

Jy staan bekend as ‘n redakteur wat nie nonsens gevat het nie en van jou redaksielede was selfs bang vir jou. As jy nou terugkyk oor jou loopbaan as redakteur, sou daar dinge wees wat jy anders sou benader het?
Bang vir my? Met vele kollegas, ouer en jonger, deel ek steeds hul lief en leed. Die periodieke e-possies, oproepe, selfs kuiertjies om ‘n wyntjie of twee is hartverwarmend. My passie vir die koerant sou ek nooit minder entoesiasties kon uitleef nie, maar, nou-ja, miskien het ek my redaksie wel soms te geniepsig geboelie.

Dink jy jou aanslag en uitkyk oor mense het so met die aanstap van die jare meer genaakbaar geword?
Ek dink graag so, maar dan is ek natuurlik nie onbevooroordeeld nie, nè! As jy my kleinkinders sou vra, glo ek hulle sal Oupa darem ook nie beskryf as hard of kwaai nie.

Wat gee hierdie tipe skryf aan jou in vergelyking met jou skrywe as beroepsjoernalis?
Die joernalis maak mense soms woedend. Dis onvermydelik. Ek mis nie daardie vurige kole op my hoof nie. Die ekstra vreugde van ‘n boekie is dat jy hom op jou boekrak kan sit. Wat jy op die web pleeg, lei soms tot verrassende wisselwerking met totaal onbekendes. Dit verskaf my ook baie plesier.

Het jy vir jouself ook so ‘n grafskrif geskryf vir eendag?
Nooit! Ek ken hierdie ou bokker te goed, met vratte en al oor wat ander gaan sê!

Lees die uittreksel, "Seun van Deventer - Onbekende Vader" onder Nuut en Nuus uit Byl in my Bos (Griffel Media, R165)