In sy boek Vuurwerke (ook beskikbaar as Fireworks in Engels) bespreek hy alles wat te make het met braai – van die vuur wat jy nodig het om te braai, die vleis, bykosse en alles en nog wat.

Hy het 'n droë humorsin wat jy eers waardeer as jy 'n rukkie in sy geselskap deurbring. Jan staan pa vir Nasionale Braaidag wat jaarliks landwyd op 24 September gevier word. Hy hoop die dag sal alle mense in SA help om saam te kom om 'n vuur en kennis te maak en vriendskapsbande oor alle grense heen te bou. Sy droom is dat hierdie dag soos St. Patrick-dag in Ierland, Koninginnedag in Nederland en Australiëdag 'n kulturele instelling in ons land sal word. Jan is vinnig om te sê sy van is eintlik Scannell en nie Braai nie, maar dat dit ook reg is as mense dink dis eintlik sy van.

Ek het hom onlangs in Johannesburg ontmoet toe sy boek in Alexandrabekend gestel is. En ja, daar was 'n heerlike township-braai met hoender en burgers op die kole. 'n Groepie tradisionele dansers het ons beïndruk met hul vernuftige voetwerk. Ek het met hom gesels oor vuur, vleis en familie.

Waar het jy die heel eerste keer in jou lewe leer vuurmaak?
My pa, Jan, het my geleer. Toe ek so drie jaar oud was, het ek vir die eerste keer self vuurgemaak en hy was nie by nie. Ek het gras en stokkies van die komposhoop af gebruik. Dit het baie gerook en ek het sy duikbril gaan haal. Ek dink ek het Weense worsies gebraai, meer soos gerookte worsies, en dit was baie onsuksesvol. Van my baie vroeë herinneringe aan braai is die naweke by my twee oupas. My ma se pa, Koos, het met wingerdstompies gebraai en my pa se pa, Jan, het met braaihout uit die veld vuurgemaak.

Wat is jou ma se naam en het jy broers en susters?
My ma is Marietjie en ek is die tweede van vier kinders. Daar is my oudste suster, Christina, en dan het ek ook 'n jonger broer, Jack, en 'n jonger sussie, Ina-Mari.

Is hulle ook "opgepiekel" met braai?
Mense probeer my in hierdie boks sit dat ek "opgepiekel" is met braai, maar dis nie meer as enigiemand anders in Suid-Afrika nie. Braaidag is die groot ding. Ek het beslis 'n passie vir vleisbraai. In my vriendekring is ek een van die ouens wat geweet het hoe om te braai. Ek het ook baie potjie gemaak. Toe ek 'n student was, het ek amper meer potjie gemaak as gebraai wanneer ek moes kosmaak. My pa het my ook geleer jy moenie goed te gaar braai nie. Ek gaan ook baie daaroor in die boek aan, want dis die algemeenste fout wat mense maak.

Maar jy wou nog iets sê oor vuur.
In die Junie-vakansies het ons na onder meer die Wildtuin, Namibië, Botswana, Zimbabwe of Mosambiek gegaan. Dit was ons kampvakansie, en Desembers was ons seevakansie. Ek het baie goeie herinneringe aan die groot vure wat ons op ons kampvakansie gemaak het. Daar is iets spesiaals aan 'n kampvuur.

Het jy van altyd af gebraai en potjie gemaak?
Ja. Dit was altyd 'n belangstelling, maar dis nie asof ek hierdie vreemde kindjie was wat net heeldag vuurgemaak het of met kerse of vuurhoutjies gespeel het nie. Ek hou nie eintlik van gasbraai nie. Ek braai 99% van die tyd met hout. Om met nat hout te braai is mislik. As ek nie hout het nie en ek’s by 'n vulstasie en die sakkies hout het sulke wasem aan die binnekant, dan sal ek eerder 'n sakkie houtskool koop. Dis funksioneel en geen skande om met houtskool te braai nie. Maar deel van die pret is dat daar 'n vuur is. Ek braai nie elke dag nie. Ek braai gemiddeld so drie of vier keer per week.

Wat braai jy?
As ek by die huis is, braai ek seker die helfte van die tyd vis. By die meeste vleisbraaie is dit wors, tjops en steak. Lekker wors is baie lekker. As jy tjops lekker braai, is dit baie lekker. Tjops is nie so moeilik om ryp te maak nie en dis gewoonlik nie taai nie. Maar 'n steak, as dit nie ryp is nie, is taai. Dis wat mense van my verwag om te braai as ek nou iewers moet braai. So, by die huis braai ek eerder vis. Hoender braai ek ook nogal en ek doen verskillende brode en pizzas. Ek braai ook graag burgers.

Het jy al 'n kolossale flop gehad met 'n braai?
Vleis wat te veel gebraai is, is wat my betref 'n flop. Ek dink mense verdra vleis wat "oorbraai" is. Nou en dan brand die vuur nie mooi nie, dan gooi jy maar 'n klomp Blitz by. Kerswas werk ook fantasties. As jy by 'n huis is waar nie Blitz is nie, moet jy maar 'n kers vat op 'n plek waar die huisvrou nie gaan agterkom haar mooi kers is weg nie.

Wat was die moeilikste van die boek skryf?
Om te begin. Dit het my 'n jaar gevat om net te begin. Ek het in Desember 2010 die eerste keer 'n Word-dokument oopgemaak en 'n lys begin maak van dinge waaraan ek in die boek aandag wil gee, soos: Wat is "wet-aged" en "dry-aged", hoe maak jy roosterkoek, hoe maak jy skaapkerriesosaties. Ek het ‘n lys gemaak van die resepte waarvan ek hou en wat ek gereeld by die huis maak. Ek wou gaan oplees oor waar kom goed vandaan, sodat ek byvoorbeeld 'n eenvoudige, maar tegnies korrekte tzatzikiresep by lamsburgers kan gee.

Wat is die beste les of nuttigste wenk wat jy by ander mense geleer het oor braai?
Twee goed. Die een is die oorbraai van vleis en dis ook hoekom ek so sterk daarop hamer in die boek. Daar is ‘n hele bladsy oor ‘n vleistermometer. Dis loshande die maklikste manier vir enige mens om agter te kom hoe om vleis te braai. Waar dit tot my deurgedring het, is toe ons die 40 dae toer om die land gedoen het. 38 dae was die vleis te gaar gebraai. Toe het ek besef dis ‘n siekte wat ons moet uitroei. Van die 38 dae wou die mense ook gehad het ek moet braai, maar ek gaan niks leer as ek braai nie. Hopelik lees hulle almal die boek en dan leer hulle ook iets. Die beste wenk wat ek gekry het, is ‘n ou wat sy braaibroodjies bo-op sy ander rooster braai. Jy vat twee identiese roosters, vleis in die onderste een en braaibroodjies in die boonste een. So is jou vleis en brood dieselfde tyd reg.

Elke mens het ook sy eie manier van braai. Dis seker moeilik om mense te kry om op ‘n ander manier te braai.
Ek sê dit baie vroeg in die boek: hierdie is braai volgens my. As jy nie hou van wat jy lees nie, moet dit nie doen nie. Ek is uitgesproke in die boek, want dis die maklikste manier om waarde toe te voeg. Dis onmoontlik om oor alles saam te stem en daar is nie net een regte manier nie, behalwe om vleis té gaar te maak.

Jy is ‘n Kapenaar en ek was aangenaam verras om twee resepte vir pap in jou boek te kry.
Ja, maar nie drie nie, want ek hou nie van slappap nie. Ek hou van pap. My pa se pa het grootgeword in die Vrystaat, of Natal eintlik, en daar eet hulle baie mieliepap. Toe my pa grootgeword het, was dit normaal in hulle gesin om pap te eet. Toe ek klein was, het ons krummelpap en stywepap geëet. As dit vir iemand van die Kaap vreemd is, dan weet hulle nou hoe om pap te maak.

Jy reis dikwels oorsee. Is dit om Nasionale Braaidag aan die wêreld bekend te stel?
Nee, ek gaan maar na dae soos St. Patrick-dag, Australiëdag en Koninginnedag, dit inspireer my. Dis om te gaan kyk vir idees sodat ons Braaidag kan laat groei. Die ding met die Wêreldbeker-rugbytoernooi en -sokkertoernooi is die goed kom en gaan. Ek dink ons woon in die lekkerste land in die wêreld. En dis ‘n realistiese doelwit om een dag per jaar opsy te sit vir almal om te braai en partytjie te hou.

Jou lekkerste manier om te ontspan?
As ek nie braai nie? Ek hou baie van sport beoefen, soos draf in ‘n berg. Om te roei op die see. Dan hou ek van lees.

Wat is die vyf goed wat jy by jou sal wil hê as jy op 'n eiland gestrand raak?
My contour pillow, ek hou nie van gewone kussings nie. ‘n Visstok. Dan sou ek sê ys. Ek aanvaar daar is iets om te drink op die eiland, anders gaan ons doodgaan. Warm drank is darem nie lekker nie. Muskietweermiddel, want flip, dis irriterend as ‘n muskiet jou byt. Kan ek my selfoon saamvat, om te kyk wat in die wêreld aangaan? O ja, ‘n braaitang en ‘n rooster.