Jade de Jong is ‘n private speurder en haar wapen van keuse is ‘n pistool. Emma Caine is ‘n dominatrix  en haar wapen is ‘n sweep. In Mackenzie se reeks spanningsverhale is Jade die tawwe heldin wat op haar aweregse manier haar sake probeer oplos. En dit gaan gewoonlik gepaard met baie aksie, heelwat geweld en laat haar dikwels op ‘n fyn lyn stap met dit wat eties en moreel aanvaarbaar is. Emma Caine is Mackenzie se nuutste skepping in haar S&M-verhaal, Folly (Umuzi, R170), en nes De Jong los sy haar probleme op ‘n onkonvensionele manier op. Haar man doen breinskade op in ‘n motorongeluk, en twaalf maande later staar Emma bankrotskap in die oë. Wanneer sy byna haar huis verloor, besluit sy om haar eie geleenthede te skep. Sy is nou ook nie juis opgelei vir ‘n konvensionele beroep nie. Haar enigste bate is dat sy jare gelede op ‘n sekskletslyn gewerk het en sy besluit om dié ondervinding te gebruik vir haar nuwe beroep. Sy omskep haar tuinwoonstel in ‘n genot-grot waar sy mans deeglik op hul plek sit met swepe en kettings. Stadig maar seker begin Emma haar omstandighede omswaai, sodat sy haar huis kan behou. Daar is net een klein probleempie met ene Simon Nel. Hy is een van haar kliënte en sy het verlief geraak op hom. O ja, en sy is steeds getroud. Dis ‘n humoristiese, ontspannende verhaal wat vertel van ‘n vrou wat nie vir ‘n man sit en wag om haar ridder op ‘n wit perd te word nie. Nee wat, sy saal self die perd op en gaan sorteer sake uit met haar sweep en karwats.

Ek het per e-pos met Jassy Mackenzie gesels oor waarom sy in twee verskillende genres skryf.

Wanneer het jy fiksie begin skryf?
Ek was nog altyd ‘n skrywer en skryf al stories vandat ek baie jonk was. Ek het ses jaar gelede my eerste volledige roman, Random Violence, voltooi.

Waarom skryf jy misdaadverhale?
Toe ek begin skryf het, was dit die genre wat ek graag gelees het. En toe ek my eerste boek begin skryf, het ek net geweet dit moes ‘n spanningsverhaal wees.

Jade de Jong, die hoofkarakter in jou boeke, is ‘n baie onwaarskynlike heldin. Waar kom jou inspirasie vir haar vandaan?
Jade de Jong is geïnspireer deur die aksieheldin wat ongeveer vyftig jaar gelede in die Modesty Blaise-verhale deur Peter O’Donnell verskyn het. Ek het dié reeks gelees toe ek baie jonk was en was beïndruk deur die konsep van ‘n tawwe en bedrewe vroulike hoofkarakter wat haar vermoë om te kan baklei, sowel as haar intelligensie, gebruik het om skurke die loef af te steek.

Jou verhale speel hoofsaaklik af in Johannesburg. Waarom?
Ek dink dis belangrik vir ‘n misdaadskrywer om vir lesers ‘n sterk gevoel van die plek te skep, want dit dra geweldig baie by tot die leesgenot van die verhaal. Johannesburg is waar ek woon, en ek ken die stad intiem. Daarom was dit ‘n logiese keuse.

Wat skop jou Jade de Jong-verhale af?
Nuusberigte is ‘n groot bron van materiaal vir misdaadskrywers, maar dit neem jou ook net so ver. Ek gebruik dit as ‘n afspringplek – ek sal ‘n nuusberig lees of iets hoor wat my nuuskierig maak en dan dink “wat as. . .?” Van daar ontwikkel die storie self en neem ‘n eie lewe aan.

In jou jongste boek, Folly, wyk jy af van jou gewone styl. Was dit moeilik om ‘n erotiese verhaal te skryf?
Dit was eintlik baie makliker as om ‘n spanningsverhaal te skryf. Folly is ‘n ligter, meer humoristiese boek en dit was verfrissend om weg te staan van die wêreld van polisie-sirenes, kryt-buitelyne en om die wêreld van swepe, kettings, pakke slae en alle stout en seksuele dinge aan te gryp.

Wat het jou die idee vir Folly gegee?
Ek is nog altyd gefassineer én geamuseer deur die onderwerp van vroulike dominansie. Die idee vir ‘n boek oor hierdie onderwerp het vir ‘n baie lang tyd in my agterkop gelê en broei. Met die sukses van die 50 Shades-reeks was ek opnuut geïnspireer om dit te skryf. Ek wou ‘n vrou in beheer van sake stel; om die waarheid te sê, daar is ‘n groot aanvraag na die dominatrix onder mans in posisies van verantwoordelikheid. As jy jou dag in ‘n posisie van beheer en gesag deurbring, het jy gewoonlik nie ná ure ‘n behoefte daaraan om jou maat te domineer nie. Inteendeel, jy sal dalk eerder die balans wil herstel deur die verantwoordelikheid te abdikeer. En iemand anders tussen die lakens te laat oorneem.

Moes jy baie navorsing doen?
Toe ek jonger was, het ek op ‘n dominatrix-geselslyn gewerk terwyl ek in die Verenigde Koningryk gereis het. Ek het inbellers oor die foon gedissiplineer. Dit was interessant en het my oë oopgemaak vir sekere dinge. Dit was dikwels amusant en het my baie dinge geleer oor dié onderwerp, dinge wat ek nooit vergeet het nie. Voordat ek Folly begin skryf het, het ek ‘n boek met die naam, The Mistress Manual, geskryf deur ‘n praktiserende dominatrix, gelees. Dit het my baie gehelp, want die boek het die “dom-sub”-verhouding op ‘n insiggewende en gedetailleerde manier ondersoek. Dit het my ook goeie idees gegee vir "in-die-vlees"-fantasieë en tugtiging.

Gaan ons vir Jade de Jong in ‘n volgende boek sien?
Beslis. Ek het ‘n lekker idee vir die volgende boek in dié reeks. Ek begin dié maand daaraan skryf. Ek sal daarvan hou om aan te gaan om erotiese romans te skryf, want ek hou daarvan - met of sonder swepe en kettings. Ek sal dié genre kies as ‘n tweede pyl in my koker.

Wat was die beste raad wat jy oor skryf gekry het?
Die beste advies was van ‘n blog deur ‘n geweldig produktiewe skrywer van fantasieverhale. Sy het haar produksie verdriedubbel deur met ‘n paar basiese reëls vorendag te kom. Eerstens, gaan na ‘n plek wat nie jou kantoor is nie en waar geen internet of enige ander afleidings is nie. Tweedens, voor jy begin, skryf neer watter deel van jou verhaal jy beplan om tydens dié bepaalde sessie te skryf en maak seker dit sluit iets in waaroor jy opgewonde is. Derdens, begin skryf en moenie stop voordat jy jou teiken-woordtelling bereik het nie.